Alisha de Lange het vir die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns se Gesondheidsamaritaan-toekennings vir 2017 erkenning gegee aan iemand wat sy as ons eie Moeder Teresa beskryf. Ten spyte van haar eie hartseer ploeg dié mediese dokter terug in die gemeenskap deurdat sy haar passie en kennis in die mediese veld te gebruik om ʼn verskil in behoeftige mense se lewens te maak.
Moeder Teresa* se lewe het in 2014 in ʼn oogwink onherroeplik verander toe haar hele gesin in ʼn tragiese aanval uitgewis is. Alhoewel sy alleen en verpletterd was, is die vrede en vreugde wat sy in haar hart het dat hulle nou veilig is, oorweldigend. Ten spyte van hierdie verskriklike omstandighede en lewensgebeure het sy die stukke van haar lewe opgetel en besluit dat sy haar werk en geloof wil kombineer en só ʼn verskil in mense se lewens wil maak.
Moeder Teresa* het vrywillig by Helpende Hand, ʼn organisasie sonder winsbejag, aangesluit waar sy op ʼn groter gebied as slegs die mediese terrein ʼn bydrae maak. Volgens Alisha de Lange het Moeder Teresa* met oorgawe ingespring en betrokke geraak by projekte wat help om armoede te verlig. “Haar hande staan vir niks verkeerd nie,” voeg Alisha laggend by.
Moeder Teresa* verskaf reeds die afgelope twee jaar lank eenkeer per week gratis mediese diens aan die gemeenskap by die Triomf-kliniek. Intussen het sy by ʼn praktyk in Hartbeespoortdam aangesluit waar sy weer voltyds begin praktiseer het in die mediese beroep. Die groot rede agter Alisha se nominasie is die feit dat Moeder Teresa* die menslikheid in mense raaksien. Almal wie se paaie met haar pad kruis, word aangeraak deur haar sagtheid en nederigheid. “Vir haar gaan dit nie oor die geld wat sy maak nie, maar oor die persoon wat voor haar sit en die verskil wat sy in daardie persoon lewe kan maak. Soveel mense getuig van haar menslikheid en sagtheid en die ekstra myl wat sy vir mense loop,” het Alisha bygevoeg.
“Ek nomineer Moeder Teresa* vir hierdie toekenning, want ek dink nie dit sit in enige iemand broek om deur te maak wat sy deurgemaak het en steeds blymoedig aan die ander kant uit te kom nie. Haar passie om ʼn verskil te maak, is kenmerkend van haar, en om haar te ken, verryk jou lewe in soveel opsigte.”
Moeder Teresa* is ʼn skuilnaam.