Die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns het in ʼn skrywe aan die Minister van Gesondheid, dr. Zweli Mkhize, geëis dat strenger en duideliker maatreëls in plek gesit word om gesondheidspraktisyns se gesondheid en veiligheid te verseker.
“Ons is stomgeslaan om te verneem van die uiters gevaarlike toestande waarin daar tot dusver van ons lede verwag is om te werk. Hierdie brief het ten doel om enersyds die minister te herinner aan sy pligte teenoor gesondheidspersoneel en ook om ons lede bewus te maak van hul eie regte in die werkplek. ʼn Krisis beteken nie dat jou eie regte verwater word nie,” sê Henru Kruger, sektorhoof by die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns.
Solidariteit het tesame met die skrywe ook ʼn stel riglyne vrygestel wat die regte en pligte van topbestuur sowel as die Beroepsgilde se lede uiteensit.
“Te midde van die Covid-19-krisis moet alle hulpbronne ingespan word en almal moet die ekstra myl aflê. Ons lede is alreeds belas met ʼn ongelooflike verantwoordelikheid teenoor die publiek. Die Departement moet sy kant ook bring. Gesondheidspraktisyns se regte om in ʼn veilige werksomgewing hul beroep te beoefen, kom nie ten koste van die publiek se gesondheid nie – dit is juis noodsaaklik daarvoor,” sê Kruger.
Die Beroepsgilde doen ʼn beroep op alle belanghebbendes om verantwoordelik en met die uiterste sorgsaamheid op te tree in hierdie geweldige onsekere tyd.
“Dit is almal se plig om nou te verseker dat hulle alles in hul vermoë sal doen om die virus te bekamp. Ons lede skroom nie om hul deel te doen nie. Dit is juis waarom ons nie tans staking oorweeg nie. In sulke tye kan ʼn versuim vanaf die Departement se kant egter rampspoedige gevolge hê vir ons lede sowel as hul pasiënte,” sluit Kruger af.
Volg die skakel vir die brief: