Tienduisende poste by honderde maatskappye word tans deur afleggingsprosesse geraak en werknemervertroue is op ʼn driejaarlaagtepunt. Dít is volgens die vakbond Solidariteit se blitsverslag oor die huidige afleggingskrisis wat vandag by ʼn mediakonferensie in Pretoria bekendgestel is.
Volgens die blitsverslag, opgestel deur die Solidariteit Navorsingsinstituut, blyk dit uit mediaberigte alleen dat 45 000 poste in 58 maatskappye reeds vanjaar in personeelverminderingsprosesse geraak word. Nog 160 ander maatskappye waar Solidariteit-lede werksaam is, ondergaan tans soortgelyke prosesse.
Werknemers in die mynbousektor word tans die swaarste deur afleggings getref, gevolg deur werknemers in die telekommunikasie- en metaalbedrywe. Klik hier om die bestuursopsomming te lees; klik hier om die volledige blitsverslag te lees (PDF).
Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, meen egter die krisis strek veel wyer as die uitgebreide vermindering van personeel by enkele groot maatskappye soos Telkom en Lonmin. “As vakbond kry ons daagliks talle navrae van lede by kleiner maatskappye wat op ʼn minder omvangryke skaal met afleggings besig is. Solidariteit het in Junie en Julie 2015 sowat 80% meer afleggingsnavrae van lede ontvang as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Sodra mens al hierdie faktore in ag neem, besef mens die werklike omvang van die krisis,” verduidelik Kruger.
Solidariteit het ook tydens die konferensie ʼn omvattende noodplan vir die afleggingskrisis bekendgestel. Die plan behels verskeie hulpprojekte wat die vakbond onder meer in samewerking met Solidariteit Helpende Hand sal aanpak om die impak van die afleggings op Solidariteit-lede te beperk.
Artikel 189 en 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge bepaal dat werkgewers eers breedvoerig met vakbonde moet konsulteer wanneer personeelverminderings beplan word. Na regte moet die proses met ʼn formele artikel 189-kennisgewing begin. Die finale getal werknemers wat afgelê moet word, wanneer hul diens beëindig sal word en watter alternatiewe daar vir die afleggings oorweeg kan word, moet tydens hierdie konsultasieproses bepaal word. Solidariteit het sy regspan opdrag gegee om toe te sien dat alle afleggingsprosesse waardeur sy lede geraak word, aan hierdie wetlike vereistes voldoen.
2. Finansiële advies
Solidariteit is bekommerd dat werkgewers oor die algemeen nie genoeg doen om hul werknemers volledig in te lig oor die finansiële impak wat hul planne op individue gaan hê nie. Solidariteit het daarom finansiële adviseurs opdrag gegee om inligtingstukke op te stel wat die voordele, nadele en impak van die opsies wat werkgewers tydens afleggingsprosesse vir werknemers bied, uiteen te sit. Solidariteit bied ook reeds telefoniese finansiële advies aan talle van sy lede wat deur afleggings geraak word en daar word verwag dat hierdie navrae in die komende weke verder sal toeneem.
Navorsing het bewys dat die meeste mense wat deur afleggingsprosesse geraak word, dikwels emosies ervaar wat soortgelyk is aan wat mense met die afsterwe van ʼn geliefde ervaar. Dit begin gewoonlik met ontkenning, gevolg deur woede en frustrasie en eindig uiteindelik met aanvaarding. Indien hierdie emosies nie bestuur word nie, kan dit vernietigende gevolge vir werknemers en hul gesinne inhou. Solidariteit Helpende Hand het daarom, in samewerking met verskeie kerke, beraders aangestel om werknemers wat deur afleggings geraak word, met berading by te staan.
Solidariteit meen werknemers wat afgelê word, moet so gou moontlik weer in die arbeidsmark opgeneem word aangesien skeidingspakkette net ʼn tydelike uitweg bied. Daarom bied Helpende Hand ʼn gratis, Afrikaanse platform, genaamd WerkNet, waar werksoekers gratis hul CV’s kan oplaai en met potensiële werkgewers in aanraking kan kom. Individue kan hier ook gratis advies rondom die opstel van ʼn professionele CV kry, en sal ook deur ʼn professionele werwingsagentskap bygestaan word. Klik hier om te registreer.