Deur Reon Janse van Rensburg
Volgens die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) dra die motorbedryf 6,8% by tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) – 4,3% vervaardiging en 2,5% kleinhandel. In 2019 is ’n rekordgetal van 387 125 motors uit Suid-Afrika na ander lande uitgevoer (351 139 in 2018). ’n Rekordgetal van 631 983 motors is in 2019 in Suid-Afrika vervaardig. Hierdie motors en onderdele wat in Suid-Afrika vervaardig is, word na 155 markte uitgevoer.
Die bedryf se uitvoere was reeds in 2018 meer as R114 miljard werd, met ’n gesamentlike bedrag van R51 miljard wat deur die uitvoer van motoronderdele gegenereer is.
Daar is tans 110 000 mense wat in die Suid-Afrikaanse motorbedryf werk wat voertuie en onderdele vervaardig, en die bedryf is verantwoordelik vir ongeveer 457 000 poste in die formele sektor van die Suid-Afrikaanse ekonomie. In 2018 is 14,3% van Suid-Afrika se totale uitvoere deur die motorbedryf gelewer.
In 2018 het die uitvoer van ligte voertuie (passasiersmotors en ligte handelsvoertuie) 60,1% van die totale binnelandse produksie uitgemaak.
Watter handelsmerke word in Suid-Afrika vervaardig?
BMW
Aan die einde van 2015 het BMW ’n belegging van R6,1 miljard vir die produksie van die nuwe generasie BMW X3 aangekondig. Dit vervang die 3-reeks-produksie, wat na Mexiko verskuif is.
BMW Suid-Afrika in Rosslyn, Pretoria, vervaardig tans die X3 en is in staat om tot 71 000 eenhede per jaar te produseer, maar die getal is met byna 10% verhoog tot 76 000 weens die groot aanvraag. Meer as 85% van alle BMW X3-voertuie wat by die Rosslyn-aanleg vervaardig word, is bestem vir BMW-markte in die VSA, Taiwan, Japan, Singapoer, Nieu-Seeland, Hongkong, Australië, Afrika suid van die Sahara en Kanada.
FORD
In 2019 het die Ford Ranger voortgegaan met die leierskap van uitvoere in die bakkiesegment in Suid-Afrika, met 65 908 voertuie wat aan internasionale kliënte gelewer is – 24,9% of 16 402 eenhede meer as sy naaste mededinger.
Ford Motor Company of Southern Africa is op koers om sy 700 000ste Ranger in 2020 te vervaardig, sê Ockert Berry, die bedryfsdirekteur van Ford SA.
Plaaslike verkope van die bakkie beloop reeds meer as 225 000 eenhede.
“Sedert ons in 2011 die huidige generasie Ranger begin bou het, is 400 000 eenhede oor die wêreld heen uitgevoer,” sê Berry.
Plaaslik vervaardigde Rangers word uitgevoer na Afrika suid van die Sahara, Noord-Afrika, die Midde-Ooste, Europa en verskeie ander lande. Die Ranger asook die Everest word in Silverton, Pretoria, vervaardig en word dan per trein na Port Elizabeth vervoer en op skepe gelaai vir uitvoer.
Mercedes-Benz
Mercedes-Benz het ’n ryke geskiedenis in Suid-Afrika en vervaardig reeds ongeveer 72 jaar lank motors in die land. Dit is geen verrassing dat die 500 000ste C-klas (W205) wat by die fabriek in Oos-Londen gebou is, verlede Maart van die monteerlyn afgery het nie.
Die fabriek in Oos-Londen is een van vier fabrieke in die wêreld wat die luukse C-klas-sedan vervaardig. Saam met die viering van die 500 000ste model is ook die 25 jaar-herdenking van die vervaardiging van die C-klas-sedan gevier.
Toyota
In 2016 het Toyota aangekondig dat hy meer as R6,1 miljard belê het om die produksie van die nuwe Hilux en Fortuner by sy Prospecton-aanleg in Durban te verhoog.
Toyota se geskiedenis in Suid-Afrika strek oor meer as 55 jaar en die maatskappy vervaardig reeds sedert 1972 motors by sy Prospecton-aanleg.
In 2012 het ’n projek vir die Quantum-taxi begin en in 2015 het Toyota verder in die projek belê vir die bou van ’n nuwe fabriek by die Prospecton-aanleg.
Toyota het in Mei 2019 ’n nuwe generasie Quantum-minibus onthul, maar hy het gesê dat die ou Quantum behou sal word vir gebruik deur die Suid-Afrikaanse minibustaxibedryf. Die nuwe generasie Quantum sal ingevoer word terwyl die oue steeds deur Toyota in Durban vervaardig sal word.
Toyota het ook in Januarie aangekondig dat hy R4 miljard in sy onderdeleverspreidings- en vervaardigingsprojekte in die land gaan belê, wat na verwagting die plaaslike ekonomie ’n hupstoot sal gee en moontlik 1 500 werkgeleenthede sal skep.
Die totale Toyota Suid-Afrika-aanlegkapasiteit is 242 000 eenhede per jaar.
Meer as R2 miljard van die belegging gaan gebruik word vir die vervaardiging van ’n nuwe voertuig om die Corolla-produksielyn wat vanjaar tot ’n einde kom, te vervang.
Toyota Suid-Afrika sal nie die nuwe 12de generasie Corolla vervaardig wat laat in 2018 onthul is nie.
“Die volgende generasie Corolla sal nie plaaslik vervaardig word nie, maar sal ingevoer word as ’n volledig opgeboude produk,” aldus Toyota SA.
Die plaaslike aanleg van Toyota vervaardig die Corolla al 45 jaar lank, sedert 1975.
In hierdie tydperk is meer as een miljoen Corollas net in Suid-Afrika vervaardig en verkoop. Ongeveer 45 miljoen Corollas is wêreldwyd verkoop.
Die nuwe generasie Corolla word vanjaar in Suid-Afrika bekendgestel.
Volkswagen
In 1946 is South African Motor Assemblers and Distributors (SAMAD) gestig en het hy 12 Studebakers per dag vervaardig. Vandag vervaardig Volkswagen honderde motors per dag. Niemand sou kon voorspel dat Volkswagen so ’n groot impak op die Suid-Afrikaanse motorbedryf sou maak nie.
Op 31 Augustus 1951 is die eerste Volkswagen Kewer by die Volkswagen-aanleg in Uitenhage vervaardig. Vandag is miljoene motors reeds hier vervaardig, en Volkswagen het al talle internasionale toekennings verower. Volkswagen is beslis een van Suid-Afrika se topverkopers.
Toe die produksie van die Beetle in 1979 gestaak is, was daar altesaam ongeveer 290 000 van hierdie beroemde motors verkoop. Dit was in 11 van die 28 jaar ’n topverkoper in Suid-Afrika!
Dit is maklik om te sê dat ’n Volkswagen, al die verskillende modelle, op een of ander manier in Suid-Afrikaners se gedagtes voortbestaan en die meeste mense het goeie herinneringe van ’n tyd in ’n Volkswagen – selfs ook David Kramer!
Teen 2009, toe die lewensiklus van die A1 Golf tot ’n einde gekom het, het daar meer as 517 000 van die produksielyn gerol.
In 2019 het Volkswagen ’n reuse-mylpaal bereik toe die 200 000ste VW Polo van die produksielyn afrol. Volkswagen produseer verskeie Polo-modelle al byna 24 jaar lank. Die huidige Polo is sedert 2018 in produksie.
Van die 200 000 Polo’s wat reeds vervaardig is, is 153 582 uitgevoer en 46 418 was vir die plaaslike mark bestem. Volkswagen het sedert 1994 meer as 1 053 600 voertuie vir die uitvoermark vervaardig.
Die Polo, Polo Vivo en Polo GTI word in Uitenhage in die Oos-Kaap vervaardig. Die nuwe Polo word na alle regterhandse markte uitgevoer, maar vul ook Polo’s vir die linkerhandse mark in Europa aan.
Isuzu
In 1978 is die eerste Isuzu-bakkie by die Kempstonweg-aanleg in Port Elizabeth vervaardig.
Die eerste bakkie se verkoopprys was R3 485 vir die 1,6 liter-bakkie (petrol) en R4 295 vir die 2,0 liter-bakkie (diesel).
Die Isuzu was die eerste bakkie in Suid-Afrika wat die stuur- en tandstang en kleinrat asook onafhanklike voorvering bevat het. In die 1990’s was Isuzu ook die eerste wat dubbelkajuite in die Suid-Afrikaanse mark ingebring het.
Isuzu was jare lank deel van die General Motors (GM)-groep. Na die ontrekking van GM aan die Suid-Afrikaanse mark moes Isuzu Suid-Afrika noodgedwonge gesprekke voer om die toekoms van hierdie gewilde handelsmerk in Suid-Afrika te verseker.
Die huidige Isuzu-bakkies word in Thailand vervaardig en dit is juis om hierdie rede dat die nuwe D-Max-reeks vir die Suid-Afrikaanse mark vertraag is en moontlik eers in 2021 in Suid-Afrika bekendgestel gaan word. Isuzu is besig om sorgvuldig voor te berei vir volledige vervaardiging by die fabriek in Struandale in Port Elizabeth.
Dit sluit ’n belegging van R1,2 miljard in die beplannings- en gereedskapproses in, sowel as streng toetse van die produk omdat die bakkie aangepas moet word vir Suid-Afrikaanse toestande.
Nissan
In 2009 het Nissan aangekondig dat die Nissan 1400-bakkie, wat toe reeds 37 jaar lank vervaardig is, vervang word met die Nissan NP200.
Die bakkie word by die Nissan-fabriek in Rosslyn, Pretoria, vervaardig deur ’n alliansie tussen Nissan, Renault en hulle sustersonderneming Dacia. Dit was ook die eerste keer dat Nissan ’n bakkie met voorwielaandrywing plaaslik bemark het. Die NP300 Hardbody word ook in Rosslyn vervaardig.
Mike Whitfield, besturende direkteur van die Nissan Groep van Afrika, het in 2019 aan joernaliste gesê dat R3 miljard in Nissan Suid-Afrika ingeploeg gaan word. Die besluit is geneem om te sorg dat die Nissan Navara in 2020 ook by die Rosslyn-aanleg vervaardig sal word, insluitend ’n enkelkajuit.
Mahindra
Mahindra Suid-Afrika het hom in 2018 by die lys van Suid-Afrikaanse motorvervaardigers gevoeg met die opening van ’n moderne voertuigaanlegfasiliteit in Durban, KwaZulu-Natal.
Die nuwe aanleg vir Mahindra-voertuie is in die Dube Tradeport Economic Zone (TEZ) langs die King Shaka-lughawe geleë. Die volledige reeks Mahindra Pik Up-enkel- en dubbelkajuitbakkies sal hier vervaardig word.
Die Suid-Afrikaanse motorbedryf is gelukkig in die sin dat hy nie slegs van plaaslike verkope afhanklik is maar ook kan staatmaak op uitvoerverkope, wat gelukkig die laaste paar jaar gegroei het.
Daar is ’n 115%-toename in die aantal voertuie wat in 2019 uitgevoer is vergeleke met 2006. In 2006 is altesaam 179 854 motors uitgevoer, teenoor die aansienlik groter totaal van 386 863 voertuie in 2019.
Volgens Naamsa sal dié tendens vanjaar en in die afsienbare toekoms voortduur, maar ’n mens kan nie help om te wonder of inmenging deur die regering en ook voortdurende stakings deur vakbonde nie die bedryf verhinder om selfs nog sterker te groei nie.
Bronne:
https://www.carmag.co.za/news/industry-news/nissan-sa-has-absolutely-no-plans-to-scrap-np200-np300/
https://www.iol.co.za/motoring/industry-news/gms-exit-from-sa-five-things-you-should-know-9208658
https://www.cars.co.za/motoring_news/all-new-isuzu-d-max-revealed-sa-details/47573/
https://www.isuzu.co.za/newsroom/isuzu-motors-south-africa-40-years-of-bakkie
http://uitenhage.org.za/2011/09/vwsa-celebrates-60/
https://www.fin24.com/Companies/toyota-to-invest-r4bn-in-its-sa-business-20200130
https://www.autoevolution.com/news/2021-mercedes-benz-c-class-w206-what-we-know-so-far-1-138921.html
https://mg.co.za/article/2018-05-07-first-sa-made-bmw-x3-shipped-out/
https://www.naamsa.co.za/MembersList
https://www.iol.co.za/motoring/industry-news/these-are-south-africas-top-5-vehicle-exports-18766810
https://www.moneyweb.co.za/news/economy/car-exports-are-racing-to-a-record-in-south-africa/