Die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns het die publiek onlangs gevra om Suid-Afrikaanse gesondheidspraktisyns wat onder moeilike omstandighede steeds ʼn verskil in Suid-Afrika maak, te help identifiseer. Die doel van die nominasieproses was om uit die mond van Suid-Afrikaanse gemeenskappe, spreekwoordelike Gesondheidsamaritane te identifiseer – dit is praktisyns wat die ekstra myl vir hul pasiënte loop en wat boonop ʼn hart vir die gemeenskap het.
Majorie Bothma en haar gesin is al 31 jaar lank pasiënte van dr. JD* en sy beskryf hom as een van die goeie, ouskooldokters vir wie niks te veel moeite is nie. Dit is die tipe dokter wat so ʼn noue band met sy pasiënte het dat hulle familie word en dat hy selfs begrafnisse bywoon as een van sy pasiëntfamilie tot sterwe kom.
Hy huiwer nooit om self die spesifieke spesialis wat sy pasiënte mag benodig, te skakel en afsprake vir hulle te reël nie. Hy is altyd bereid om die ekstra myl te loop en volg altyd op met pasiënte deur hulle ná ʼn besoek te skakel om te hoor hoe dit gaan. Hy ontferm hom werklik oor sy pasiënte en is begaan oor hul gesondheid. Bothma vertel dat hy een maal per week ʼn ouetehuis besoek om na siek bejaardes om te sien. Hy is ’n uitskieterdokter en verdien ʼn medalje vir hierdie puik werk wat hy doen. Sy pasiënte beskryf hom as hoflik en professioneel
Vir hierdie dokter gaan dit nie oor geldmaak nie, maar vir hom gaan dit daaroor om sy naaste te dien. Hy skroom ook nie om behoeftige pasiënte gratis te behandel en van medikasie te voorsien as hulle in die nood is nie. Hy het Bothma se dogter ʼn jaar lank gratis behandel totdat haar skuldkliertelling laag genoeg was om geopereer te word. Daar is baie verhale oor dr. JD* se onbaatsugtigheid wat vertel kan word. “Daar is min dokters van sy kaliber nog oor. Hy is fantasties,” vertel Bothma.
Die Gilde gaan later vanjaar vyf gesondheidspraktisyns uit die nominasies wat ontvang is met die Gilde se Gesondheidsamaritaan-toekenning vereer. “Gesondheidspraktisyns in Suid-Afrika verdien erkenning omdat hulle onder ongelooflike moeilike omstandighede werk en binne ʼn hoogs gereguleerde, dog onstabiele gesondheidsorgsektor stabiliteit vir hul pasiënte gee,” sê Moira-Marie Kloppers, bestuurder van Solidariteit se Beroepsgildes.
*Skuilnaam is gebruik