BEL ONS: 012 644 4300

Solidariteit en AfriForum pak rassekwotas in sport by die Verenigde Nasies

Solidariteit en AfriForum se klag teen die Suid-Afrikaanse regering gaan op 8 Augustus deur die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie aangehoor word. Die klag vorm deel van ’n groter klag van Solidariteit oor rassekwotas in die werkplek.

Die klag oor sportkwotas fokus op die uitspraak van die Minister van Sport, Fikile Mbalula, dat plaaslike sportfederasies nie internasionale sportbyeenkomste mag aanbied nie omdat hulle nie aan vereistes vir rassekwotas voldoen nie. Dit is strydig met die internasionale sportkodes soos die Olimpiese Handves en verordeninge van die Internasionale Rugbyraad wat bepaal dat die regering nie by die kies van sportspanne mag inmeng nie, dat ras nie by die kies van sportspanne gebruik mag word nie en dat die beste spanne gekies moet word om internasionaal deel te neem. Rassekwotas oortree hierdie internasionale reëls op vele vlakke.

Behalwe die internasionale reëls oortree Suid-Afrika ook plaaslike wetgewing. Die Suid-Afrikaanse Sport- en Rekreasiewet verbied die Minister om in te meng in die keuse van sportspanne. Die Wet op Gelyke Indiensneming, wat die verhouding tussen die speler en die sportunie reguleer, bepaal ook duidelike dat rassekwotas onwettig is.

Gewone Suid-Afrikaners verwerp ook sportkwotas: 78% van alle Suid-Afrikaners, swart en wit, sê in ’n opname van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede dat meriete by sport moet geld.

Die Minister van Sport is dus totaal uit lyn uit met die gebruik van rassekwotas in sport.

Besoek ons veldtog blad Nee vir kwotas by www.neevirkwotas.co.za en wys jou steun.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Maak toe / Close