Solidariteit het Vrydag, 6 November ʼn skrywe aan Netbal SA gerig waarin hul dreig met regsaksie indien die federasie nie afstand doen van hul reëls in verband met wat die rassesamestellings van spelers op ʼn gegewe oomblik op die baan mag wees nie. Dit volg nadat ʼn span op 25 Oktober tydens die Telkom Netballiga hul plek in die finaal kwyt is omrede hul te min wit spelers tydens die wedstryd op die baan gehad het.
“Dit is gewoon belaglik. Suid-Afrika is alreeds die mees rasgereguleerde land ter wêreld, maar daar is feitlik geen sfeer van die samelewing waar die vlak van inmenging eers naby aan Netbal kom nie, ” verduidelik Hennie Bierman, hoof van Solidariteit Gildes. “Die idee dat daar rasskeidsregters is wat deurlopend verseker dat die spanne ʼn kunsmatige en onregverdige rassekwota handhaaf is nie net heeltemal teenstrydig met internasionale norme nie, maar ook moreel afskuwelik by uitstek.”
Solidariteit voer aan dat Netbal SA met sulke reëls nie bloot net sekere groepe benadeel nie, maar dat alle spelers, afrigters en uiteindelik die hele sport en sy verwante beroepe skade berokken deur die afdwinging van hierdie streng en ongeregverdigde reëls.
“Die vraag was nog nooit wie die benadeelde en wie die begunstigde van sulke absurde reëls is nie. Die feit is dat ons almal slegter daaraan toe is. Die sport is ook slegter daaraan toe. Ironies genoeg, is die grootste slagoffer van sulke onlogiese reëls die hoop dat daar vordering sal wees met betrekking tot rasseverhoudings in ons land.”
Solidariteit is van mening dat die tersaaklike reëls soos tans uiteengesit en toegepas in hul geheel ongrondwetlik is en ook verbied word deur verskeie regulasies wat deur internasionale liggame vir dié sport saamgestel is.
“Ter wille van regverdigheid moet ons dit beveg; ter wille van almal wat in die beroep staan; ter wille van die jonger generasies wat moet grootword in ʼn samelewing waar hul geleer word dat dit normaal is vir iemand om vir jou te sê dat jy nie nou op die baan mag wees nie as gevolg van jou velkleur én ter wille van diegene wat bloot net die sport wil beoefen omdat hulle lief is daarvoor en vir wie dit ʼn wegbreek is van die golf van politiek wat toenemend ons lewens oorneem,” sluit Bierman af.
Om Solidariteit se skrywe aan Netbal SA te besigtig klik hier