Nuuskommentaar: ANC moet ophou wittes alleen vir gebrekkige versoening blameer

Maandag, Maart 20th, 2017

Eugene Brink

 

Volgens die ANC se nuwe besprekingsdokument het wit Suid-Afrikaners nie volledig hul kant gebring vir versoening in die land ná 1994 nie.

 

“Ek moet sê, dit is ’n bietjie teleurstellend dat diegene wat die begunstigdes sou wees in die projek vir versoening, nie hul deel volledig vertolk het deur die gebaar van progressiewe verandering te aanvaar wat ons land ervaar het nie,” het Nathi Mthethwa, minister van polisie en voorsitter van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) se subkomitee vir strategie en tegniek, gister volgens Netwerk24 gesê oor die besprekingsdokument vir strategie en taktiek wat in Junie vanjaar by die ANC se beleidskonferensie bespreek gaan word.

 

Hy het teenoor joernaliste by ’n mediakonferensie hieroor gesê dat die ANC ’n nierassige samelewing wil bou, maar dat ernstige uitdagings daarmee gepaardgaan. Die ANC moes in 1994 ’n regering oorneem sonder dat daar ’n nasie was. Volgens die ANC is versoening ’n tweerigting-proses. “Dit kan nie suksesvol wees as al die partye nie die bal speel nie,” het Mthethwa voorts gesê.

 

Volgens hom is die houding van sommige wit landgenote problematies. “Sommige is openlik met hul rassistiese tendense, terwyl ander dit geheim hou. Ek dink die geval van Helen Zille is ’n voorbeeld van die ware houding van sommige Suid-Afrikaners,” het Mthethwa gesê met verwysing na ’n twiet waarin die voormalige DA-leier en premier van die Wes-Kaap probeer het om kolonialisme se goeie punte uit te wys.

 

ʼn Mens kan nie sê hulle is totaal en al verkeerd op al hierdie punte nie. Baie wit Suid-Afrikaners is openlike rassiste en dit is iets wat ons as ’n rassegroep moet erken en uitroei in eie geledere. So ook subtiele rassisme. Baie van ons het eerlikwaar nie ons kant met versoening gebring nie.

 

Maar helaas vir Mthethwa en sy party is dit net helfte van die storie en proses. Soos hy tereg erken, is versoening weliswaar ’n tweerigtingstraat en hoewel baie wittes nie hul kant bring nie, bring talle wit mense wel hul kant, terwyl baie swart mense en die ANC beslis ook nie hul kant bring nie. Talle peilings het al getoon dat wit Suid-Afrikaners baie meer positief is oor swart mense en rasseverhoudinge as wat met swart mense die geval is jeens wit mense en rasseverhoudinge.

 

Hy bly in gebreke om te noem hoe ’n ANC-LP verlede week straffeloos in die Nasionale Vergadering “bury them alive!” uitgeroep het – nogal tydens ’n debat oor plaasmoorde! Of hoe pres. Jacob Zuma sy bes doen om wit Suid-Afrikaners “anders” te laat voel en die nasie dus in “ons en “hulle” te verdeel met sy uitlatings. Of hoe Julius Malema onbeskroomd vra vir die slagting van wit mense – en dit dan met ’n flou kwalifikasie temper. Ditto Velaphi Khumalo, ’n staatsamptenaar en trotse ANC-ondersteuner, wat gevra het dat daar aan wit mense gedoen word wat Adolf Hitler aan die Jode gedoen het. Of Lulu Xingwana, ’n voormalige minister wat Afrikanermans as moordenaars tipeer. Of Luvuyo Menziwa, ’n lid van die Tuks-studenteraad wat wit mense met ’n AK47 en bazooka wil afmaai.

 

Hierdie gevalle is net ’n paar voorbeelde van die soort kru rassisme wat niks anders vermag as om wit mense ontuis en vervreemd te laat voel nie. Helen Zille se uitlatings oor kolonialisme verlede week, en die herrie wat daarop gevolg het, wys dat die debat oor versoening, vrye spraak en rassisme ’n baie eensydige en venynige een geword het – allermins ’n tweerigtingstraat soos Mthethwa wou hê.

 

As hy bedoel dat versoening beteken dat wit Suid-Afrikaners tot totale oorgawe gedwing moet word, vir altyd verskoning moet maak vir goed waarby hulle nie direk betrek word nie en hulle letterlik nie meer langer ’n sê in die land moet hê nie, is daardie versoening doodgebore en per definisie nie langer versoening nie. Dan lewe ons in ’n dwingelandy waar wedersydse respek en ’n oop gesprek bloot nie bestaan nie.

 

Andersyds word die welwillendheid tussen wit en swart mense totaal misken in Mthethwa se kommentaar en die ANC se fantasievolle dokumente. Hoekom slegs een groep kritiseer, en dan nie ook die goeie stories vertel nie? Wit mense het veral al baie prysgegee oor die laaste 23 jaar in die vorm van die verlies aan politieke en kulturele mag, regstellende aksie, ensovoorts. Miskien moet Mthethwa en sy hoë ANC-vriende eerder uit sy ministeriële ivoortoring klim en sien wat werklik op die grond gebeur voordat hulle lawwe uitsprake in beleidsdokumente maak. Versoening is besig omop die koop toe goed te vorder sonder inmenging van politici af.

 

 

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  • Andre

    “Versoening”, die eerste gebaar van witmense, maar geen dank aan die witmense oor die grootste offer wat enige volk nog aan andere gemaak het, ons het ons land oorgegee aan andere.Dit was nie Nelson Mandela en die ANC wat die swartes hulle vryheid gegee het nie maar die wit kiesers wat vanaf 1983 in referendums gestem het tot die uiteindelike een man een stem. Deur die gebaar is die grootste versoenings offer ooit gebring, maar nog nooit was daar dank betoon teenoor wittes vir dit nie.
    Maar selfs wittes dra by tot die ontkenning van die “wit offer” deur demokrasie ens toe te dig aan Mandela.
    Al die huise en dienste wat hoofsaaklik die afgelope 23 jaar verskaf is kom uit die hard verdiende beursies van hoofsaaklik wittes, nie vanaf die ANC regeering nie, die regering is slegs ‘n parrasiet, dit vat net, maar ons as die grootste bydraers kry die minste terug, nie eens ‘n dankie nie, net slagspreuke van wittes moet gee en nog meer gee.
    As die land se voorste burgers wat huidiglik die bevoordeeldes van alles is moet hulle nou opstaan en die hand uitsteek soos ons dit vir hulle gedoen het. Hoe gaan hulle die benadeeling van die huidige “disadvantaged” (die wittes) herstel wat van ons af gesteel is deur ons en ons kinders te ontneem van dinge deur diskrimineerende wette soos regstellende aksies ens.
    Wanneer gaan hulle (die swartes) ophou lieg vir hulle self oor die geskiedenis en sien watter voordele hulle alles ontvang het uit “apartheid” en “kolonisasie”.
    Eers as daar werklike vesoening van af hulle kant kom en die witte, kleurling en indier aanvaar wat hier is en was, en hulle erken dat hulle nie inheems aan Suid Afrika is nie, dan sal ons by ‘n punt van versoening kom.

  • As jy in ag neem die totale diskrimineerende wetgewing wat deur die swart regering ingestel is teenoor blankes is daar slegs een party wat ‘n probleem het met versoenning, en dit is nie die Blanke bevolking nie. Die blankes het nog nie so ver gegaan soos die ANC nie, so ja vir die laaste 23 jaar wag ons vir die swartes om hulle hande uit te reik, ek is moeg gewag Fo… Hulle as hulle nie kan erken dat hulle die oorsaak is vir die verdeling in die land nie moet ons as blankes maar ‘n paar blaaie uit die ANC se boek gebruik

Ander Artikels

Nuuskommentaar: Swart ontleder slag heilige koeie van radikale transformasie by landbouskou
Dit is maklik vir die ontwerpers en toepassers van radikale ekonomiese transformasie (RET) om kritiek daarop uit wit geledere af te skiet. Koppel dit net aan ʼn begeerte om wit bevoorregting en oorheersing in stand te hou (ongeag of hierdie drang werklik by die kritici bestaan), voeg ʼn uitdruklike of  ... Lees meer
Nuuskommentaar: Die president moet álle moorde veroordeel
Eugene Brink   Pres. Jacob Zuma se oproep dat alle Suid-Afrikaners moet verenig teen aanvalle en moorde op vroue en kinders, asook teen mensehandel, moet geloof word. Tussendeur al sy politiekery, rassisme en ondeugde is dit ʼn welkome boodskap, al is die impak daarvan onseker en waarskynlik slegs simbolies. Dit  ... Lees meer
Nuuskommentaar: ANC nou kwaad oor Molefe, maar hy is net nog ʼn kader
Eugene Brink   Brian Molefe se terugkeer na Eskom as uitvoerende hoof nadat die kragverskaffer se direksie om weer aangestel het, is besig om weer die verdelings in die ANC en ook pres. Jacob Zuma se greep op die party op skouspelagtige wyse na vore te bring. Lynne Brown, minister  ... Lees meer
1 2 3 75