Nuuskommentaar: Dlamini sal min gevolge ly oor Sassa-krisis

Donderdag, Maart 16th, 2017

Eugene Brink

 

Die krisis by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) is een van die grootste en skandaligste voorbeelde van staatskaping en onbevoegdheid sedert 1994. Dit staan ook in die teken van die wyse waarop die uitvoerende gesag blatant hofbevele deur die konstitusionele hof minag en ongestoord voortgaan met korrupte bedrywighede.

Dit hou op die koop toe ʼn wesenlike gevaar in vir Suid-Afrika se sosio-politieke stabiliteit. Hoewel maatskaplike toelaes as bloot ʼn tydelike maatreël beskou moet word tot tyd en wel meer werk deur ekonomiese groei geskep kan word, is dit wel op hierdie tydstip ʼn maatreël wat van kardinale belang is om ʼn moontlike rewolusie af te weer. ʼn Mens kan net dink wat die gevolge kan wees indien 17 miljoen mense, waarvan heelwat op die platteland woon, skielik nie meer die paar honderd rand kry waarvan hulle totaal en al afhanklik is nie. Misdaad sal hand oor vuis toeneem en die “have nots” sal waarskynlik nie langer geduldig wees nie. Toelaes moet dus mettertyd afgeskaal word, maar nie onmiddellik weggeneem word nie.

Toelaes is een van die beste maniere vir die ANC om lojaliteit onder die meeste van sy ondersteuners, as synde swart en arm, te handhaaf. Die toelaes, en die bedreiging dat dit weggeneem sal word, dryf miljoene kiesers klokslag in die arms van die ANC-beheerde regering in by verkiesingstyd.

Die korrupte Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, staan sentraal in hierdie gemors. Die kontrak met Cash Paymaster Services (CPS) wat volgens alle aanduidings kop in een mus is met Dlamini, is in 2014 deur die hoogste hof in die land ongeldig verklaar en Dlamini en Sassa is gelas om ʼn nuwe manier te soek om die toelaes uit te betaal. Sassa het aangedui hulle gaan dit self doen, maar daar is later erken dit sal nie moontlik wees nie. Hulp van die Poskantoor is ook afgewys en die direkteur-generaal van die departement het ook onlangs te midde van hierdie krisis bedank toe hy die Poskantoor wou betrek het.

CPS se kontrak verstryk op 31 Maart en dit is onseker of die toelaes op 1 April betaal sal word. Die kwessie draai nou weer in die konstitusionele hof. Haar bevoegdheid het sterk onder skoot gekom van regter Moegoeng Moegoeng oor die feit dat sy gesê het sy het eers in November 2016 uitgevind dat die betalings nie gedoen sal kan word nie. Dit is egter hoogs onwaarskynlik omdat die uitbetalings een van haar kerntake is en sy daarom haar vinger op die pols van hierdie kwessie moes hou.

Ondanks al die probleme met Sassa is alle aanduidings nou dat CPS in die tussentyd steeds die betalings sal hanteer. Sassa se regspan dring aan op 18 maande, maar Moegoeng kyk na 12. Die res van die partye het ook nie ’n probleem dat dit op ’n tussentydse grondslag deur CPS hanteer word nie, maar hulle verskil oor hoe lank. Black Sash het ses maande voorgestel en Freedom Under Law glo 12 is beter.

Terwyl dit ’n verligting is dat die toelae-kraantjie nie skielik toegedraai sal word nie, sal die korrupte blik weer net in die pad afgeskop word en die land en sy mense is beslis nie buite gevaar nie. Gaan CPS in die pad gesteek word of sal ons oor 12 maande maar net weer op dieselfde plek wees as nou? Sal die kwessie maar nie dan net weer deur Moegoeng (nog ’n Zuma-man) uitgestel word nie? Sal Sassa self die betalings kan oorneem? Sal iemand van nuuts af aangestel word en sal die korrekte prosedures met die tenders gevolg word? Dit is van die vrae wat beantwoord sal moet word.

Die ander groot vraag is wat met Dlamini, een van Zuma se groot bondgenote en leier van die ANC Vroueliga, sal gebeur. Zuma sal haar nie sondermeer in die pad steek nie, al is daar skril oproepe dat sy afgedank moet word – en met goeie rede ook. Sy moet help om die Zuma-faksie, met Nkosasana Dlamini-Zuma aan die spits, aan bewind te hou in die aanloop tot, en tydens, Desember se leierskonferensie. Daar word verwag dat hy die kabinet later in Maart gaan skommel en hy kan haar dus dan, of tydens ʼn latere kabinetskommeling, na ʼn ander portefeulje as ʼn minister of adjunkminister verskuif net om die druk op haar te verlig en gemoedere te kalmeer. Dit is egter te betwyfel of selfs so ʼn massiewe krisis, voortspruitend uit blatante onbevoegdheid, politieke gedienstigheid sal troef. Daar sal min gevolge vir haar wees as daar tot dusver niks met haar gebeur het nie. Die uitstel van hierdie kwessie sal ook vir haar en Zuma meer tyd koop en ʼn gerieflike verskoning aan hulle verskaf omdat die druk oor die betaling van toelaes minder sal wees. Sy kan dan later, in rustiger tye, herontplooi word.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Nuuskommentaar: Zille-skorsing kan DA veral wit kiesersteun kos
Eugene Brink   “Om haar kop te eis, is nie noodwendig voordelig nie,” het die politieke kommentator Daniel Silke met omsigtigheid aan Netwerk24 gesê oor die DA se stappe teen Helen Zille oor haar kolonialisme-twiet. Hy het daarmee ook ʼn vergelyking getref tussen haar situasie en dié van pres. Jacob Zuma en die ANC. Silke […]
Protesteer vir Afrikaans
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het vandag gesê dat hy eersdaags, op Dinsdag 28 Maart 2017, die jaarlikse Afrikaans-Ekspo gaan bekendstel, en so ook met nuwe vorm en kleur! Die Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n opwindende skryfkompetisie wat veral fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Tesame met die feit dat dit […]
Nuuskommentaar: Universiteite sal soos Prasa, SAL opeindig as hulle genasionaliseer word
Eugene Brink   Die bykans irrelevante ANC Jeugliga soek nou goedkoop publisiteit en probeer verlore aansien by die EFF terugwen met sy nuwe idee dat universiteite genasionaliseer moet word. Dit is egter ondeurdag, vol blinde kolle en in wese onwerkbaar. Luidens ’n berig deur Netwerk24 het die Jeugliga tydens ’n sitting van die kommissie van […]
1 2 3 63