Nuuskommentaar: Plaasmoorde is buite beheer en verg buitengewone ingryping

Donderdag, Februarie 16th, 2017

Eugene Brink

 

Die jaar 2016 was ’n besonderse slegte jaar wat plaasaanvalle en plaasmoorde betref. Luidens syfers wat deur AfriForum en die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) uitgereik is, het daar tot en met 30 November 64 plaasmoorde in die land plaasgevind. Genl. Chris van Zyl, assistenthoofbestuurder van TLU SA, het egter daarop gewys dat daar ook sowat een plaasmoord per dag in Desember gepleeg is en dat die totale plaasmoordsyfer vir 2016 die hoogste van die afgelope sewe jaar was.

 

’n Soektog op Netwerk24 lewer onlangse opskrifte op soos “Man in aanval op plaas vermoor”, “Man op plaas buite Bela-Bela vermoor”, “Man se oor in plaasmoord afgesny” en “Man op plaas met moersleutel doodgeslaan”. Elf mense is al in Februarie vermoor en die helfte van die maand is nog oor. Sedert die begin van Januarie is reeds 30 mense in plaasmoorde vermoor. Vier familielede is in Balfour tereggestel. Teen hierdie tempo gaan vanjaar enige ander jaar sedert 1994 ten opsigte van plaasmoorde loshande oortref. Die absolute brutaliteit en ongeërgdheid waarmee dit plaasvind is ysingwekkend.

 

Plaasaanvallers is ook nie ragtag-bendes nie.  “ ’n Verdere kommerwekkende tendens is die klaarblyklik toenemende gebruik van tegnologie deur plaasaanvallers. Ons het CCTV-bewyse van ’n toestel wat deur plaasaanvallers gebruik is, wat radio- en selfoonkommunikasie asook alarms onderdruk. Hierdie toerusting val in dieselfde liga as militêre toerusting wat ’n eindgebruikersertifikaat vereis,” het Van Zyl luidens AfriForum se webwerf oor verlede jaar se plaasmoorde gesê.

 

Lorraine Claasen, misdaadontleder verbonde aan die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI), het aangedui dat sy sekere patrone in haar analise van talle plaasaanvalle en plaasmoorde kon identifiseer. Dit sluit in dat plaasaanvallers toeslaan in groepe wat wissel van 1 tot soveel as 13 aanvallers per insident en dat aanvalle haarfyn beplan word. Die boer word spesifiek tydens ’n aanval geteiken en is dikwels die eerste persoon wat aangerand of vermoor word.

 

Boere is natuurlik ’n maklike teiken weens onder meer hul afgesonderdheid. Groot dele van Suid-Afrika se platteland het ook dermate verval dat dit net nie meer moontlik is om daar ’n lewensvatbare en veilige bestaan te voer nie.

 

Plaasaanvalle is ’n vergryp jeens die boere maar ook teenoor die hele Suid-Afrika. En dit kry nie naastenby genoeg aandag nie – veral nie in die Engelstalige media nie – want dit is polities inkorrek om daaroor te praat, veral in die lig van grondhervorming. Boere, sowel as hul werkers en familielede, word wreed afgemaai en die samelewing is grootliks stil daaroor. Die boere is ’n kritieke lewensaar van ons ekonomie en as ’n boer sterf, is daar ’n goeie kans dat sy plaas tot stilstand kan kom en onproduktief raak. Dit het uiteraard ’n groot impak op ondermeer sy werkers en verbruikers sal uiteindelik hard getref word weens die talle produktiewe boere wat sterf.

 

Daarbenewens kan die invloed van opruiende en kwaadwillige uitsprake deur sommige politici net nie buite rekening gelaat word nie. Dit moeilik om ’n regstreekse kousale verband te tref tussen plaasmoorde en aanhitsing tot geweld, maar stellings deur mense soos Julius Malema dra ongetwyfeld by tot ’n klimaat van geweld jeens wit mense en plaasboere in die besonder.

 

Daarom is dit belangrik dat die boerderygemeenskap, georganiseerde landbou, burgerlike samelewing en trouens die hele land nuut moet dink oor hierdie grusame tendens. Daar kan bloot net nie slegs op die polisie staatgemaak word nie, die ooreenkomste en goedgunstigheid op hoë vlak ten spyt. Die nuutste en ouer syfers bewys dit. Daar sal ’n baie breë en dringende inisiatief moet kom, andersins kan die verskynsel van die Suid-Afrikaanse boer later net ’n herinnering wees.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  • Johan Botha

    Dis hartseer. Mens moet net nie ‘n rassiestiese opmerking maak of met ‘n geverfde gesig rondloop nie of onnadenkede “krenkende” sosiale media boodskap stuur nie dan is die gort gaar en is weke lange bespiegeling en veroordeling. Maar mense word afgemaai in die land … wit en swart… en die media loop katvoet daaroor. “Here red ons land, hierdie situasie bring U geen eer” Soos die Psalms sê welgeluksalig is die land wat nie ‘n geskreeu op sy pleine het nie en wie se God die Here is (Laaste deel van Ps 144. Lees hele een)

Ander Artikels

Protesteer vir Afrikaans
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het vandag gesê dat hy eersdaags, op Dinsdag 28 Maart 2017, die jaarlikse Afrikaans-Ekspo gaan bekendstel, en so ook met nuwe vorm en kleur! Die Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n opwindende skryfkompetisie wat veral fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Tesame met die feit dat dit […]
Nuuskommentaar: Universiteite sal soos Prasa, SAL opeindig as hulle genasionaliseer word
Eugene Brink   Die bykans irrelevante ANC Jeugliga soek nou goedkoop publisiteit en probeer verlore aansien by die EFF terugwen met sy nuwe idee dat universiteite genasionaliseer moet word. Dit is egter ondeurdag, vol blinde kolle en in wese onwerkbaar. Luidens ’n berig deur Netwerk24 het die Jeugliga tydens ’n sitting van die kommissie van […]
Politici en die media moet daarteen waak om aanhoudend rassisme te skreeu
Die laaste tyd begin die tendens al hoe meer kop uitsteek dat rassisme in antwoord op enige voorval geskreeu word. Dit maak my egter baie bekommerd dat daar vandag in Suid-Afrika ’n samelewing tot stand gekom het waar dié woord so gemaklik aan mense toegesnou kan word, soveel so dat ons al amper op ’n […]
1 2 3 63