Nuuskommentaar: Polisie se probleme laat ons onveilig voel

Woensdag, Februarie 15th, 2017

Eugene Brink

 

Die statistikus-generaal Pali Lehohla se nuutste syfers oor misdaad is bedeeld met ’n goeie dosis ironie, maar is geensins verrassend nie. Onder meer bevat die statistiek ’n interessante feit dat 70% van Suid-Afrikaners snags onveilig voel nieteenstaande die feit dat hul ervaring van misdaad afgeneem het. Hul werklike slagofferskap het dus afgeneem, maar hul vrese is steeds hemelhoog.

 

“The crime, although declining in their experiences, is probably not reaching the threshold where they feel safe and secure,” sê Lehohla.

 

In 2011 het hierdie peiling bevind dat 931 000 mense reeds ten minste een voorval van huisbraak of huisrooftog beleef het. Hierdie syfer het in 2015/’16 tot 807 000 gedaal, maar dit is steeds nie genoeg om hulle veiliger te laat voel nie.

 

’n Ander treffende stukkie inligting is dat, afgesien van kardiefstal en moord, mense nie juis veel moeite doen om misdade aan te meld nie omdat hulle dink dis nie ernstig genoeg nie of dat die polisie niks daaraan sal doen nie. Moord is natuurlik ’n baie ernstige misdaad en daarom word dit die meeste aangemeld (95%) en veediefstal word die minste aangemeld (17,3%). Motordiefstal is taamlik ernstig, maar mense gaan meld dit net aan sodat hulle ’n saaknommer kan kry en van hul versekering kan eis.

 

Lehohla het ook die polisie se eie syfers oor misdaad sterk in twyfel getrek en gesê dit kwalifiseer nie om as behoorlike statistiek gebruik te word nie. Statistiek SA beoog glo om uiteindelik die versameling van misdaadstatistiek by die polisie oor te neem.

 

Al hierdie gegewens dui op disfunksionaliteit van die polisie as die publiek se belangrikste veiligheidsinstelling. Dit is ’n verdoemende aanklag teen die staat se vermoë om een van sy primêre funksies uit te voer.

 

Sedert die jaar 2000 is nagenoeg 3 000 mense in polisie-aanhouding dood. Sommige het met beserings daar aangekom, ander is straks deur medegevangenes doodgemaak of hulle het selfmoord gepleeg, terwyl ander weer deur polisie-optrede gesterf het. Hoe dit ook al sy, die polisie moet pa staan hiervoor – ongeag of dit weens nalatigheid of doelbewus gebeur het.

 

Deur die jare is talle mense al weens direkte polisie-optrede, doelbewus of onopsetlik, dood. Onskuldige mense is al doodgeskiet omdat die voormalige nasionale polisie-kommissaris Bheki Cele gesê het die polisie moet skiet om dood te skiet. Die dood van 34 mynwerkers by Marikana en Riah Phiyega se gevolglike skorsing oor haar aandeel daarin, verdien ook spesiale vermelding.

 

Dis belangrik om te noem hoeveel moorde daar werklik jaarliks in Suid-Afrika aangemeld word. In 2014-’15 is 18 000 moorde by die polisie aangemeld en ’n soortgelyke aantal pogings tot moord. Dit is massief en kan selfs hoër wees as Lehohla en ander kenners se sieninge oor die polisie se statistiek geglo kan word. Dit is eenvoudig enorm en gelykstaande aan ’n oorlogsone. In die jare voor hierdie tydperk was dit nie veel beter nie, hoewel dit voor 2010 veel hoër was.

 

Die polisie en regstelsel is duidelik ondoeltreffend daarmee om moorde te bekamp, straf en voorkom. Hoeveel van hierdie moorde word uiteindelik opgelos en ry die moordenaars aan die pen in die hof? Dit is die belangrike statistiek wat ons nog nie weet nie, maar te oordeel aan hierdie syfers is dit geensins ʼn afskrikmiddel nie.

 

Moord is boonop ’n baie ernstige misdaad wat klaarblyklik nie deur die polisie vreeslik ernstig opgeneem word nie. Wat word dus van duisende der duisende minder ernstige misdade? Dit word bloot afgeskryf en nie aangemeld nie.

 

Die polisie is ’n problematiese organisasie en sy kwale begin by sy bestuur. Die huidige waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane, word tans deur die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) weens korrupsie en omkoopgeld ondersoek. Hy leef in weelde op ’n polisielid se salaris. Hy word ook deur Paul O’Sullivan ondersoek oor ’n rits korrupte aktiwiteite terwyl hy die polisie se hoof van forensiese ondersoeke was.

 

Dit is dus geensins vreemd dat O’Sullivan en sy assistant, Sarah Jane Trent, onlangs deur die polisie geboelie en onregmatig gearresteer is nie.

 

Laastens is die polisie nou al bekend vir sy grondvlak-korrupsie, ondoeltreffendheid en beheptheid met ras. As die beste mense nie aangestel word nie of nie behoorlike hulpbronne het om hul werk te doen nie, kan jy nie goeie diens verwag nie. Hoekom moet Solidariteit konstant die howe gebruik om die polisie te dwing om meriete-aanstellings te maak? Baiekeer meld mense uit vrees vir die polisie ook nie misdade aan nie.

 

Ons voel nie net onveilig omdat die polisie nie hul werk doen nie en die misdadigers vrye teuels het nie, maar ook omdat hulle baie keer self misdadig is. Gemeenskappe moet daarom groter sorg dra om hul eie veiligheid te verseker, want op die polisie kan ons nie staatmaak nie.

 

 

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Protesteer vir Afrikaans
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het vandag gesê dat hy eersdaags, op Dinsdag 28 Maart 2017, die jaarlikse Afrikaans-Ekspo gaan bekendstel, en so ook met nuwe vorm en kleur! Die Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n opwindende skryfkompetisie wat veral fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Tesame met die feit dat dit […]
Nuuskommentaar: Universiteite sal soos Prasa, SAL opeindig as hulle genasionaliseer word
Eugene Brink   Die bykans irrelevante ANC Jeugliga soek nou goedkoop publisiteit en probeer verlore aansien by die EFF terugwen met sy nuwe idee dat universiteite genasionaliseer moet word. Dit is egter ondeurdag, vol blinde kolle en in wese onwerkbaar. Luidens ’n berig deur Netwerk24 het die Jeugliga tydens ’n sitting van die kommissie van […]
Politici en die media moet daarteen waak om aanhoudend rassisme te skreeu
Die laaste tyd begin die tendens al hoe meer kop uitsteek dat rassisme in antwoord op enige voorval geskreeu word. Dit maak my egter baie bekommerd dat daar vandag in Suid-Afrika ’n samelewing tot stand gekom het waar dié woord so gemaklik aan mense toegesnou kan word, soveel so dat ons al amper op ’n […]
1 2 3 63