Nuuskommentaar: Solidariteit enigste vegtende vyand teen regstellende aksie in polisie (en elders)

Vrydag, Maart 17th, 2017

Eugene Brink

 

Daar is min beleide, oftewel verskynsels, wat soveel skade in die nuwe Suid-Afrika aangerig het soos regstellende aksie. Weens die toepassing hiervan in Suid-Afrika het honderde duisende wit mense reeds met hul vaardighede landuit vertrek, sukses elders behaal en ander lande versterk. Suid-Afrika is letterlik en figuurlik armer oor hierdie beleid terwyl ander mense en lande die vrugte daarvan gepluk het.

 

Nie net het dit die aangewese groep sleg geraak nie, maar dit het ook ’n uiters nadelige impak op die nie-aangewese groepe. In munisipaliteite en ander staatsdepartemente is kaders met politieke bande aangestel onder die dekmantel van die soetklinkende term “regstellende aksie”. Hierdie mense het dikwels nie die regte vaardighede nie en het hulself bloot gaan verryk ten koste van die inwoners en burgers.

 

Dit het ook nie net wit mense geraak nie. Nadat die bruin werkers van die departement van korrektiewe dienste in die Wes-Kaap “tee en simpatie” by talle organisasies – insluitende die DA, wat grootliks deur bruin mense in die provinsie aan bewind gestem is – gekry het oor hulle deur hul werkgewer op grond van hul ras onbillik behandel is, het net Solidariteit die regsmantel vir hul saak opgeneem.

 

In die swart Amerikaanse ekonoom Thomas Sowell se seminale boek oor die onderwerp, Affirmative Action around the world: An empirical study (wat uitmuntende en ongeëwenaarde empiriese data daaroor bevat), voer hy aan dat die voorstanders en teenstanders van regstellende aksie gewoonlik oor die teorie van regstellende aksie stry. Die feitelike kwessie oor die werklike toepassing en uitkomste daarvan kry merkwaardig min aandag, aldus Sowell. “Assumptions, beliefs and rationales dominate controversies on this issue around the world,” skryf hy.

 

Suid-Afrika is geen uitsondering nie en met ons verlede sal iets soos regstellende aksie altyd die mening grootliks langs rasselyne verdeel. Ek sê “grootliks” omdat daar baie bruin, Indiër en swart mense is wat sterk teen regstellende aksie gekant is en dit oortuigend kritiseer terwyl daar ook baie wit mense aan die linkerkant van die politieke spektrum is wat dit steun. Apartheid het swart mense die reg ontneem om hul werk te kies en ordentlike opleiding daarvoor te ontvang, sal laasgenoemde groep gebiedend aanvoer.

 

Albei hierdie groepe stem grootliks saam dat daar ’n mate van regstelling in die arbeidsmark moet en kan wees en dat regstellende aksie ’n sleutelkomponent hiervan is. Maar die huidige toepassing daarvan, wat diskriminerend en rasbehep van aard is en meriete buite rekening laat, is nie aanvaarbaar nie en uitgedaag en met iets beters vervang word. Daarom het die groep wat dit teenstaan, met Solidariteit aan die spits, heelwat morele en empiriese ammunisie aan hul kant en kan ons Sowell se uitnodiging met selfvertroue aanvaar om hierdie kwessie op retoriese gronde te beveg.

 

Solidariteit se sege by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) om binne die polisie te organiseer, is ontsaglik belangrik om die stryd teen regstellende aksie verder te voer. Die polisie is juis in ’n warboel oor swak aanstellings waarin meriete nie in ag geneem is nie. Ons as burgers is die mense wat daaronder ly. Ten spyte van vyf partye – wat nie net die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) insluit nie, maar ook elke ander noemenswaardige rolspeler in hierdie sfeer – se teenkanting is daar juis in Solidariteit se guns beslis. Dit is ’n morele oorwinning en tewens een vir minderhede en meriete.

 

Hierdie partye wou Solidariteit juis uithou omdat ons in dispute oor regstellende aksie aan die kant van minderhede veg. En so is dit ook in verskeie sektore en maatskappye. Solidariteit is die enigste organisasie wat hierdie beleid onwrikbaar en met voldoende gesag en hulpbronne beveg en dit maak die voorstanders van regstellende aksie kwaad en beangs. Op partypolitieke vlak is dit slegs die VF+ wat heftig beswaar daarteen maak. Die groter partye soek almal swart steun, nes die ander vakbonde in die polisie en elders swart werkers wil werf. Hulle gaan eenvoudig nie hierdie beleid met veel ywer beveg nie.

 

Een van die groot redes waarom Apartheid later onwerkbaar geword het, is omdat daar eenvoudig nie genoeg wit arbeid was om die land doeltreffend te bestuur nie. Niemand wil swart mense daarvan weerhou om te kan werk nie en hulle sou buitendien in enige demokratiese bestel die meerderheid in die staatsdiens en straks ook op ander plekke uitmaak weens hul demografiese en politieke gewig. Hoekom moes daar dan ’n beleid en wetgewing geskep word om die meerderheid teen die minderheid te beskerm en die voor die hand liggende werklikhede wetlik te dwing om te gebeur? Dit is omdat dit ’n gerieflike simboliese en politieke wekroep vir die ANC is en om die paradoksale term “billike indiensneming” nog meer onbillik te kan maak.

 

Sowell dui ook aan dat hoewel regstellende aksie in der waarheid ’n tydelike middel moet wees om groter balans te bewerkstellig, bewys die empiriese data dat dit feitlik altyd deur die toepassers daarvan as ’n permanente maatreël beskou word. Suid-Afrika blyk geen uitsondering op hierdie reël te wees nie en lê die hef aan dus beslis nog voor in hierdie geveg.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  • Andre

    Dit is ook belangrik om te onthou dat apartheid nie swartes weerhou het van opleiding af nie, in die sewentiges en tagtigs het hulle die slagspreuk aan gehang en beoefen van “Revolution before education”, brand eerder skole af as om te leer. hulle het die euwel oor hulle self gebring maar wil he ons as wittes moet die skuld dra.
    Hoe word iets soos regstellende aksie geregverdig in ‘n grondwet soos ons sin. Ons hoor gereeld hoe die uwe mr Mandela sonder ‘n greintjie haat uit die tronk gekom het, weereens ‘n verdugsel van die waarheid, hy was die vader van regstellende aksie. En die stelsel is geskroei op die gedagte dat die huidige geslag moet betaal vir vorige geslagte, hoe vind jy mense skuldig sonder ‘n vehoor en vonnis hulle wat onskuldig is tot die doen en lates van andere? op ‘n tyd sal jy aan hulle genoegdoening moet betaal (Die huidige benaadeeldes (die wittes). Baie regverdig in ‘n sogenamde stelsel onderskryf deur ‘n grondwet wat beweer dat jy onskuldig is tot dat jy skuldigbevind word. wanneer kom die hofsaak?

Ander Artikels

Nuuskommentaar: Swart ontleder slag heilige koeie van radikale transformasie by landbouskou
Dit is maklik vir die ontwerpers en toepassers van radikale ekonomiese transformasie (RET) om kritiek daarop uit wit geledere af te skiet. Koppel dit net aan ʼn begeerte om wit bevoorregting en oorheersing in stand te hou (ongeag of hierdie drang werklik by die kritici bestaan), voeg ʼn uitdruklike of  ... Lees meer
Nuuskommentaar: Die president moet álle moorde veroordeel
Eugene Brink   Pres. Jacob Zuma se oproep dat alle Suid-Afrikaners moet verenig teen aanvalle en moorde op vroue en kinders, asook teen mensehandel, moet geloof word. Tussendeur al sy politiekery, rassisme en ondeugde is dit ʼn welkome boodskap, al is die impak daarvan onseker en waarskynlik slegs simbolies. Dit  ... Lees meer
Nuuskommentaar: ANC nou kwaad oor Molefe, maar hy is net nog ʼn kader
Eugene Brink   Brian Molefe se terugkeer na Eskom as uitvoerende hoof nadat die kragverskaffer se direksie om weer aangestel het, is besig om weer die verdelings in die ANC en ook pres. Jacob Zuma se greep op die party op skouspelagtige wyse na vore te bring. Lynne Brown, minister  ... Lees meer
1 2 3 75