Nuuskommentaar: Terreur ruk handuit in Europa

Vrydag, April 21st, 2017

Eugene Brink

 

Die nuutste voorval waarin ʼn Franse polisieman deur ʼn 39-jarige lid van die Islamitiese Staat (IS) in Parys doodgeskiet en nog twee gewond is, is geen geïsoleerde lone wolf-voorval nie. Onlangs het ʼn mislukte asielsoeker van Oesbekistan met ʼn vragmotor in ʼn winkel in Stockholm, die hoofstad van Swede, vasgejaag en vier mense se lewens geneem terwyl 15 mense in die voorval beseer is. Daarbenewens het ʼn Islamitiese aanvaller onlangs ook ʼn aanval naby Westminster in Londen uitgevoer waarin vier mense dood en sowat 50 beseer is. Verlede jaar is 32 burgerlikes dood en 300 beseer toe IS-lede bomaanvalle in België uitgevoer het.

In 2016 en 2015 het Europa bloedige jare beleef. In Januarie 2015 is talle mense by die satiriese tydskrif Charlie Hebdo se kantoor afgemaai nadat die tydskrif in een van sy uitgawes die draak gesteek het met Islam. Verlede jaar is daar met voertuie in skares in onderskeidelik Frankryk en Duitsland ingeploeg en talle mense is in die voorvalle dood en beseer. Op 18 Maart vanjaar is ʼn polisieman ook in Frankryk aangeval en die aanvaller is later doodgeskiet. Op Nuwejaarsdag verlede jaar het ʼn Moslem-man met sy voertuig in vier soldate wat ʼn moskee in Valence opgepas het, vasgejaag. Islamitiese propaganda is later op sy rekenaar gevind. In November 2015 het die dodelikste terreuraanval in die Franse geskiedenis plaasgevind toe IS-lede 90 mense by ʼn rockkonsert in die Bataclan-teater in Parys met gewere en handgranate afgemaai het.

Frankryk het in 2016 altesame 12 terreuraanvalle beleef. Dit is vier keer meer as die aantal aanvalle in Frankryk in 2012, 2013 en 2014 saam. Dit is duidelik geen geringe probleem nie. Soos pres. Donald Trump van Amerika in sy reaksie op die nuutste aanval gesê het: “Dit lyk soos nog ʼn terreuraanval . . . en wat kan ʼn mens daaroor sê? Dit kom net nie tot ʼn einde nie.”

Hierdie voorvalle gaan hand aan hand met ʼn paar ander tendense en gebeurtenisse. Immigrasie is ʼn normale en aanvaarde verskynsel in die wêreld. Vroeër is mense op een plek gebore; daar het hulle dan ook getrou; ʼn loopbaan en gesin begin; en daar het hulle ook doodgegaan. Dit is nie meer so nie: Mense trek in groot getalle na ander lande toe omdat hulle op soek is na beter ekonomiese geleenthede en toenemend omdat hul eie lande mislukte state is of deur erge konflik geteister word. Die vraag is hoe ander lande en die wêreld die massa-immigrasie uit Derdewêreldlande hanteer. Ná ʼn groot stroom immigrante Europa sedert 2015 binnegestroom het (met die verwelkoming en seën van Europese leiers en die publiek), het die Europese Unie en indiwiduele politici, wat uiteraard bekommerd geraak het oor die publiek se toenemende negatiwiteit daaroor en ook weens kommer oor veiligheidskwessies, die kraan begin toedraai. Intussen was daar ook ʼn opkoms van ʼn groot (en suksesvolle) politieke teenreaksie met heelwat politici soos Geert Wilders en Marie le Pen wat die golf van onvergenoegdheid ry.

Op die oomblik kom heelwat minder immigrante die Europese vasteland binne danksy ʼn ooreenkoms met Turkye wat as deurgangsroete vanuit die Midde-Ooste dien. Maar hierdie ooreenkoms is uiters wankelrig en is afhanklik van die outoritêre pres. Tayyip Erdogan se goedgunstigheid.

Die probleem is dat daar reeds duisende mense – met geen agtergrond van hoe die Weste polities, sosiaal en ekonomies werk nie – in Europa toegelaat is en hoewel ʼn kleiner getal nou op die vasteland toegelaat word, is dit steeds aansienlik meer as wat byvoorbeeld ʼn paar jaar gelede Europese lande binnegekom het.

Talle van hierdie mense is moeilik integreerbaar en baie van hulle is nie asielsoekers nie; hulle is geharde vegters wat die djihad in Europese state wil voortsit. Die feit dat IS verantwoordelikheid kan aanvaar vir soveel van die bogenoemde aanvalle, bewys dat dit ʼn stewige vastrapplek in Europa gekry het en hierdie aanvalle met groeiende gemak koördineer. Die aftakeling van die groot en haglike vlugtelingkamp in Calais, Frankryk en die blote loslaat van dié mense in die Franse samelewing gaan waarskynlik nog groot probleme skep. ʼn Redelik onlangse BBC-ondersoek het gewys die inwoners van Calais voel baie onveilig, veral snags.

Dit is ook nie net die nuwe immigrante wat geradikaliseer is nie. Die 52-jarige man wat die aanval in Londen uitgevoer het, is iemand wat in Brittanje gebore is. Dit dui straks op ʼn lank bestaande vervreemding onder mense wat al dekades lank in Europese lande woon.

Hoewel dit ʼn oorvereenvoudiging sal wees om dit as ʼn soort kulturele oorlog te beskryf, is daar wel gronde om dit as erge kulturele wrywing te tipeer. Om groot getalle mense met ʼn andersoortige kultuur skielik in ʼn land toe te laat sonder om hulle behoorlik te laat assimileer en behoorlike ekonomiese geleenthede en behuising vir hulle te verskaf, bied ʼn vrugbare teelaarde vir groepsvorming, vervreemding en ekstremisme. Andersyds is die owerhede in Europa, waarskynlik weens politieke korrektheid maar beslis ook weens laksheid, nie paraat genoeg wat terreur betref nie. Die aanvaller in die mees onlangse voorval in Frankryk was op die Franse owerhede se radar as ʼn vermeende Islamitiese terroris. Hy het ook etlike jare se tronkstraf uitgedien nadat hy in die vroeë 2000’s op polisielede geskiet het.

Die eerste ronde van Frankryk se presidensiële verkiesing vind Sondag plaas. Die tydsberekening van die nuutste aanval is daarom van groot belang. Le Pen en die sentrum-regse François Fillon kan dalk net ʼn klomp nuwe stemme inoes en die huidige dooiepunt met betrekking tot steun tussen die vier kandidate verlig. Die huidige president, François Hollande, se swak hantering van veiligheids- en immigrasiekwessies sal beslis teen die sosialiste tel in hierdie verkiesing. So ook die feit dat sy beleide die Franse ekonomie geen guns bewys het nie. Fillon is opgesaal met die las van skandale op hom en heelwat moet nog gebeur voordat ʼn nuwe president aangewys word, maar hierdie aanval het dalk net op die regte tyd vir hom gekom.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Nuuskommentaar: Vier vryheid vandag, maar beoefen allereers selfstandigheid
Eugene Brink   Vandag sal ANC-leiers en veral pres. Jacob Zuma praat oor die stemreg wat 23 jaar gelede aan almal gegee is om hul eie leiers te kies. Hulle sal praat oor hoe sogenaamde ekonomiese vryheid nog nie vir die meerderheid van die bevolking aangebreek het nie – ten spyte daarvan dat die ANC […]
Nuuskommentaar: Zuma soek vandeesweek oral fout behalwe by homself en die ANC
Eugene Brink   ʼn Beleërde pres. Jacob Zuma is vandeesweek weer op ʼn strydvaart teen al sy vyande, werklikes sowel as denkbeeldiges. Vroeër die week het hy in ʼn toespraak by die Universiteit van Zoeloeland gesê sou die ANC en sy alliansievennote die mag verloor, sal die land in die greep van armoede wees. Voorts […]
Nuuskommentaar: Waaksaamheid moet SA keer om Venezuela-gemors te word
Eugene Brink   Die situasie in Venezuela is een van die grootste mensgemaakte tragedies ter wêreld. ʼn Mens sou dink dat kommunisme en selfs sosialisme as die ligter variant van ekonomiese egalitarisme ná die val van die Sowjetunie totaal en al gediskrediteer sou wees. Dit bly helaas ʼn magtige en aantreklike middel vir heersers om […]
1 2 3 69