Deur Reon Janse van Rensburg
Motoriste sal vanaf 7 April 2021 met ʼn enorme petrolprysverhoging van R1,00 per liter getref word terwyl die groothandelprys van diesel met tot 65c sal styg.
BusinessDay berig dat die Sentrale Energiefonds (CEF), wat die brandstofpryse maandeliks aanpas, aangekondig het dat die kleinhandelprys van 95-oktaanpetrol met R1 per liter in die binneland en 99c per liter aan die kus sal styg, terwyl 93-oktaanpetrol met 95c in die binneland en 94c aan die kus sal styg.
Die groothandelprys van diesel met ʼn hoë swaelinhoud styg met 65c per liter in die binneland en 64c aan die kus, terwyl diesel met ʼn lae swaelinhoud met 63c per liter in die binneland en 62c aan die kus styg.
Die brandstofprys vir April van R17,32 vir 95-oktaan- loodvrye petrol in die binneland sal ʼn nuwe rekordprys wees wat die vorige rekord van 2018 (R17,08 per liter) oortref.
Hierdie verhogings sluit in stygings van onderskeidelik 16c per liter en 11c per liter in die brandstofheffing en die heffing vir die Padongelukkefonds (POF) op beide petrol en diesel wat Tito Mboweni, die minister van finansies, tydens sy begroting op 25 Februarie vanjaar aangekondig het.
Vanaf 7 April 2021 sal die brandstofheffing in die prysstruktuur van petrol en diesel dus onderskeidelik R3,93 per liter petrol en R3,79 per liter diesel beloop en die POF-heffing sal vir beide petrol en diesel R2,07 per liter beloop.
Volgens OUTA (Organisation Undoing Tax Abuse) is verskeie heffings deel van die brandstofprys, en dit sluit onder andere nie-brandstofverwante koste in, soos die brandstofheffing, die POF-heffing, groothandel- en kleinhandelwinsmarges asook kleiner bedrae vir vervoer- en bergingskoste.
In 2009 het die gesamentlike waarde van hierdie heffings R3,61 of 49% van die totale brandstofprys vir ʼn liter brandstof uitgemaak. In 2020 het die bedrag tot R9,48 gestyg, en teen April verlede jaar het dit reeds 68% van die brandstofprys uitgemaak.
Volgens Morné Malan, afdelingshoof vir nuus en publisiteit by Solidariteit, raak die wesenlike las vir die belastingbetaler doodeenvoudig te veel. Hy voer aan dat die algemene brandstofheffing wat oënskynlik gebruik word om paaie in stand te hou, en die heffing vir die Padongelukkefonds, ʼn instansie wat reeds besig is om in duie te stort, tot gevolg het dat brandstof duurder is wat dit behoort te wees.
Die slegte nuus vir Suid-Afrikaanse motoriste is dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die regering hierdie heffings sal uitskakel. Dit blyk eerder dat die regering die verantwoordelikheid vir padinstandhouding en die Padongelukkefonds eensydig op Suid-Afrikaners afskuif terwyl die regering belastingbetalers se geld aan die steeds groeiende staatsburokrasie bestee. Hierdie bodemlose put gaan nooit met iets anders as leë beloftes gevul word nie.
Die oplossing vir Suid-Afrika lê nie in ʼn nuwe regering of in die aanstelling van nuwe personeel wat vir die regering werk nie, maar eerder in minder inmenging vanaf die staat en ʼn vryemarkekonomie wat toelaat dat daar mededinging in die mark kan wees. Nie net sal dit die pryse van produkte soos brandstof meer bekostigbaar maak nie, maar dit sal ook vir die beste dienslewering sorg omdat verbruikers se swaarverdiende geld die praatwerk sal doen. Laasgenoemde is veral nodig in Suid-Afrika om dienslewering te verbeter en te sorg dat monopolisering nie plaasvind nie.
Brandstofprys styg met ʼn astronomiese bedrag
Volgens die Automobiel-Assosiasie (AA) is Suid-Afrikaners kwesbaar weens die swak rand en stygende oliepryse. Die AA het gewaarsku dat toekomstige ekonomiese en beleidskokke waarskynlik ʼn beduidende uitwerking op die brandstofprys sal hê, veral nou dat die internasionale olieprys weer herstel het.
Bronne:
SA’s fuel price needs less government intervention, not more – https://www.businesslive.co.za/bd/opinion/2018-10-24-sas-fuel-price-needs-less-government-intervention-not-more/
Here is the official petrol price for February – https://businesstech.co.za/news/energy/464714/here-is-the-official-petrol-price-for-february-2/
Taxes and levies make up almost 70% of South Africa’s fuel price – https://businesstech.co.za/news/energy/388415/taxes-and-levies-make-up-almost-70-of-south-africas-fuel-price/
Petrol price to hit record high – https://www.businesslive.co.za/bd/national/2021-04-01-petrol-price-to-hit-record-high/