BEL ONS: 012 644 4300

Die nominasies vir besonderse en merkwaardige onderwysers het behoorlik ingestroom, en die kompetisie is straf! In elke kategorie is daar ʼn top-20 aangewys. Jou stem bepaal watter hoërskool- en laerskoolonderwysers as onderwyser van die jaar gekroon gaan word en wie met pryse ter waarde van R26 500 gaan wegstap.

Lees elke kandidaat se storie hier en stem vir jóú gunsteling #Bordkrytboffin!

*Stemme sluit 1 Oktober 2021 om 17:00

heindrich
momberg

Cilani
Isel

Maryke
du Toit

Frances
Uys

Stefan
Geldenhuys

Catharina
Magrietha Clarke

Kriekie
Bekker

Nardus
van der Vyver

Nelmari
Eksteen

Elena
Vorster

Susan
Roberts

Gerald
Marks

Kosie
Smit

Eghard
Basson

Hanneke
Wolmarans

Anel
van Wyk

Juan
Nagel

Ilse
van Zyl

Zelna
du Plooy

Petro
Richardson

Valerie
de Jonge

Melcolm
Griffiths

Tiaan
Muller

Helgardt
Hoffmann

Lana van
der Westhuizen

Ronell
Pitout

Meliska
Herbst

Marcherie
Strydom

Doanda
Meyers

Nicoline
de Beer

Marna
Jacobs

Annari
Lingenvelder

Vanessa
Nel

Klarize
Marnewick

Celetia
Reinders

Charmaine
Potgieter

Carla
Botha

Annali
Muller

Elmarie
Jansen

Mariette
Cilliers

Onderwyser van die jaar is tans gesluit.

Registreer / Register

Maak toe / Close

Heindrich
Momberg

Ek glo dat mens voluit moet lewe en die lewe geniet. Ek wil graag 'n inspirasie wees en verseker dat die beste uit elke leerling ontgin word. Geloof, hoop, harde werk, passie, integriteit en respek is my fondasie. My benadering tot onderrig is uniek en holisties. My doelwit is om elke leerling se karakter te ontwikkel sodat hulle almal hul volle potensiaal kan bereik en aanhou droom!

Cilani Isel

Ek het my prakties in 2006 by die Hoër Tegniese Skool Pretoria-Tuine voltooi. Dit was ook tydens die tydperk wat ek my liefde vir die leerlinge van dié skool en die gemeenskap gekry het. In 2007 is ek aangestel as Afrikaansonderwyser en ná 15 jaar is ek steeds trots om te kan sê ek is deel van die HTS Pretoria-Tuine se familie. Ek is bevoorreg genoeg om elke dag my passie te kan uitleef en by my kinders te kan leer. Ek is hoofsaaklik betrokke by leierskap en kultuur, maar ondersteun graag die kinders op die sportveld omdat ek glo dat 'n leerling in geheel ontwikkel moet word en nie net akademies nie. Ek help graag met ekstra klasse waar dit nodig is en is altyd bereid om die ekstra myl vir die leerlinge te loop. Ek is interne departementshoof vir Afr., SW, EBW en RTT en is betrokke by die distriksmoderering sodat ek myself op professionele vlak kan ontwikkel sodat ek 'n beter onderwyser vir my kinders kan wees. Ek moedig my leerlinge aan om in alle omstandighede in hulleself te glo, want enige iets is moontlik deur geloof en harde werk en ek is daar om vir hulle die nodige ondersteuning te bied. Ek het in 2018 my honneursgraad in

Psigo-opvoedkundige Ondersteuning verwerf. Ek wil my kennis gebruik om 'n verskil in kinders se lewens te maak.

Maryke du Toit

Ek is 'n 24-jarige Christen wat as 'n Lewenswetenskappe-onderwyser by Hoërskool Centurion werk. Ek is lief vir die natuur, vir tieners, vir avonture saam met geliefdes, asook vir sokkie en foto- en videografie. Ek waardeer kwaliteittyd met my gesin en my kêrel. Ek sien myself as iemand met 'n humorsin en as 'n leier. Ek is ernstig wanneer nodig, maar geniet dit om vrolik te wees en ander te laat glimlag. Ek glo vas dat 'n mens die verskil moet wees wat jy in die wêreld wil sien.

Psigo-opvoedkundige Ondersteuning verwerf. Ek wil my kennis gebruik om 'n verskil in kinders se lewens te maak.

Frances Uys

Ek is 'n gebore onderwyseres. My groot liefdes is my liewe Heer en die natuur. Dit is ongelooflik dat ek dit kan uitleef in my klaskamer deur die aanbieding van my groot passie, Aardrykskunde.  Ek vind waarde in familietyd en is versot op my kleine Yorkie-hond, Lienke. Al is ek in onderwys, is ek 'n persoon van min woorde met 'n ongelooflike liefde vir lees! Ander se woorde inspireer, gee moed en verbreed kennis. Ek sal graag op my oudag meer wil reis, veral na dele in en om Suid-Afrika wat ek nog nie gesien het nie.  

Stefan Geldenhuys

Ek het my graad in Onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Ek het in 2010 by Hoërskool Wilgerivier in Frankfort begin skoolhou as 'n Ingenieursgrafika en -Ontwerp-onderwyser vir Gr. 10 –12. In 2013 het ek by HTS Sasolburg aangesluit en is steeds deel van die wonderlike span. Ek is departementshoof vir Ingenieursgrafika en -Ontwerp, Tegnologie en tegniese vakke. Ek is betrokke by die dagbestuur van die skool en ek is die personeelverteenwoordiger in die beheerliggaam van die skool. Ek is die koshuisvader en is aktief betrokke by die afrigting van atletiek, rugby en krieket. In my spaartyd geniet ek dit om te braai asook om rugby en gholf te speel. Ek het nooit vir 'n oomblik twyfel in my hart gehad dat ek 'n onderwyser wil wees nie, dit is my roeping. Duisende leerlinge gaan deur die loop van 'n loopbaan deur ons hande en ek poog om waarde toe te voeg tot elke leerling se lewe wat by ons skool inskryf. Maar soos wat ek 'n verantwoordelikheid teenoor ons leerlinge het, het ek ook 'n verantwoordelikheid teenoor my kollegas om 'n omgewing te help skep waarin hulle kan ontwikkel tot die beste moontlike onderwyser of onderwyseres wat hulle kan wees. Die onderwys is nie 'n maklike beroep om in te staan nie, maar my werk is elke dag vir my lekker, nie altyd die hele dag nie, maar elke dag. Sal ons wankel voor die storm van die dag? Nimmer nee!

Catharina Magrietha Clarke

Ek het my onderwyskwalifikasies in 1989 aan die Noordwes-Universiteit (NWU) voltooi. In September 2009 het ek my ACE-sertifikaat met sukses verwerf en in 2012 voltooi ek my sertifikaat in “Advanced Women in Management and Leadership” aan die Besigheidskool van die NWU. My onderwysloopbaan het as 'n aflos-onderwyseres by Fochville Hoërskool begin, waarna ek, ná my huwelik met Colin Clarke in 1992, 'n pos by Edu-College in Pretoria beklee het. Later is ek permanent aangestel by Thuto-Kitso Comprehensive School waar ek graad 12-leerlinge in Lewenswetenskappe onderrig het. Danksy baie ekstra ure, Saterdag- en naskoolse klasse behaal my leerlinge 'n 100%-slaagsyfer. In 2002 het ek 'n pos by Die Wilge Skool aanvaar om nader aan my kinders te wees. Ek is in 2009 tot departementshoof bevorder en in 2013 tot adjunkhoof asook koshuismoeder. Hier leef ek my passie vir kinders behoorlik uit. In moeilike situasies oorweeg ek verskillende sienings, debatteer daaroor –-al verskil ons. Aanpassings op politieke, maatskaplike, kulturele, godsdienstige en persoonlike terrein het my toekomsvisie verander, maar my streng morele waardes en geloof in my Rots, Skepper en Onderhouer was my behoud. Vasbyt en nogmaals vasbyt! Vertroue en samewerking het my geleer om buigsaam maar steeds emosioneel intelligent en geestelik sterk te wees.  Met behulp van Solidariteit se SOS-vereniging en SAOU wat verskeie webinare aanbied (Covid-19) bly ek op hoogte van verskillende aspekte van bestuur en leierskap, transformasie, organisering, projekbestuur en spanwerk. Die toekoms is steeds wasig, maar eendag!  “Ek is nie volmaak nie, slegs passievol en roepingsbewus!”

Kriekie Bekker

Ek is gebore Catharina Bekker, maar vanweë my liefde vir gesels is ek vinnig Kriekie gedoop. In Evander, 'n klein dorpie in Mpumalanga, het ek gematrikuleer. Ná skool was ek in C-Kruis en het 'n diensjaar vir Christus gedoen. Een jaar het drie jaar geword. Hierna was my roeping duidelik – ek moes 'n onnie word. Ná vier wonderlike studentejare by TUKS het ek my onderwysdae by Hoërskool Ben Vorster begin. Onder mnr. Piet Swart het ek geleer om 1 000 kinders te laat geesvang, trompoppies af te rig, my eie revue te skryf en het ek Afrikaans op my lessenaar as verhoog leer liefkry. Ná drie jaar het Londen my geroep vir 'n kultuurontdekking om terug te bring SA toe. In 2007 het dr. Louis Swanepoel my by Hoërskool Nelspruit aangestel en wat 'n voorreg was dit om onder hom as hoof te werk! Hy het my vrye teuels gegee om my talente uit te leef. Groentjiekonsert, vandag genoem Gr. 8-konsert, skryf ek al vir die 15de jaar, 14 interhoër-sangskouspele met die hele skool was als ’n voorreg, maar die beste plek is steeds in my klaskamer. Dis hier waar die Here my uit sy genade geplaas het. Daar was goeie en ook 'n paar minder goeie oomblikke, maar die onderwys verruil ek vir niks. Deesdae gee ek ontwerp en my kreatiewe kant kry weer asem. Ek is dankbaar vir die nominasie, maar die kinders se glimlagte as ek grappies maak en as hulle punte beter raak, bly my hoogste prys.

Nardus van der Vyver

Ek is in 1974 in die klein dorpie Carolina in Mpumalanga gebore. Ek het my laerskoolloopbaan by Laerskool HM Swart begin en het later aan Hoërskool Hoogenhout in Bethal gematrikuleer. Bethal was vir my 'n sorgelose lewe op die plaas. My pa het met skape, melkbeeste en mielies geboer. Ná skool het ek in Pretoria 'n BCom-graad verwerf, asook 'n HOD (nagraads) aan die Universiteit van Pretoria in 1996. Gedurende 1997 werk ek aan spesiale projekte in Stellenbosch by die destydse ACSV. Die sirkel word voltooi toe ek in 1998 by Hoërskool Hoogenhout begin skoolhou. In 2001 ek die geleentheid om in Londen te gaan skoolhou met albei hande aangegryp. Terug in Suid-Afrika in 2004 begin die plaas roep. Weens die hartseer van geslaagde grondeise het ek in 2006 na die onderwys teruggekeer. Ek was vir 'n kort rukkie by Laerskool Badplaas, maar is toe as departementshoof by Hoërskool Secunda aangestel. Gedurende 2009 het ek die ontstellende nuus ontvang dat ek besig was om my sig te verloor. In 2010 het ek na Pretoria verhuis, waar ek by Hoërskool Gerrit Maritz aangesluit het. Ek was daar tot in 2016. In 2017 het ek 'n Sabbatsjaar van die onderwys geneem om Suid-Afrika in die LEFRA-verhoogproduksie van Fiela se Kind plat te toer. Sedert 2018 is ek betrokke by Hoërskool Linden, waar ek 'n verskeidenheid van vakke aanbied. Ek is ook betrokke by toneel.

Nelmari Eksteen

Ek is 'n toegewyde onderwyser wat reeds 23 jaar in die onderwys is. Vanaf my heel eerste keer voor 'n klas was ek verlief op die uitdagings en geleenthede wat die onderwys bied. Mense wat my ken, beskryf my as 'n hoogs bekwame onderwyseres wat met behulp van tegnologie groot sukses met haar leergestremde leerlinge by Nuwe Hoop skool behaal.  In die wyse woorde van “Reading and Writing Haven”:”Go the extra mile it’s never crowded,” word ek gesien as iemand wat buite die boks dink en wie se innovasie geen perke het nie. Ek het Unboxed Teaching op die been gebring, 'n onderneming wat bekostigbare leermateriaal van hoë kwaliteit vir ander beskikbaar stel. Ek is diep passievol oor die onderwys en werk hard om op hoogte te bly van nuwe, verreikende onderwysmetodes, konsepte en inisiatiewe deur middel van webinare en massas navorsing. Martina Cahill van “The Hungry Teacher” en Sir Ken Robinson hou my passievol, onselfsugtig en gedrewe. My uitgangspunt is om my leerlinge te prikkel en om leer opwindend te maak sodat hulle sukses kan behaal. My klaskamer, na enige novelle se toneelskikking, is genotvolle ontvlugting vir die leerlinge, veral op 'n Vrydag met “First Chapter Friday”.  Jy sal ook nou en dan 'n uitbundige gelag hoor en leerlinge soos een man hoor uitbulder: “because there is method in the madness …”  Ek glo dat die sleutel tot ‘n goeie onderwyser is om jou sin vir humor te behou sonder dat jou hamster van die wiel afval.

Elena Vorster

Ek is reeds 30 jaar lank ‘n passievolle onderwyseres. Ek het my graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Ek begin my loopbaan in 1993 by my alma mater, Panorama Laerskool in Newcastle en is bevoorreg om in vier streke van Suid-Afrika skool te hou. Hokkie, tennis, verspring, koor, spraakgilde en revue is van my ander passies, maar dit is in my klas en vak waar ek my leerlinge se siele wil aanraak. Afrikaans is daarom nie net ‘n taal nie, maar ‘n aktuele vak wat my toelaat om deur gedigte en stories ‘n kans aan elke leerling te gee om sy of haar eie lewensverhaal te skryf en om hulle passie in die lewe te ontdek en voluit daarvoor te leef. Ek is betrokke by die IEB-merksessies en verbreed ook so my lewensuitkyk op die onderwys. Ek verweef graag my ander belangstellings soos reis, dans en tuinmaak in my klasgee en vermy nie die werklikheid nie. Sekuriteit, liefde en dissipline gee vrede en sonskyn in die klas. My leuse is: “Wees genadig in ‘n ongenadige wêreld en sien iemand raak wat niemand raaksien nie. Met tegnologie en Covid-19 sal skoolhou nooit weer dieselfde wees nie, maar voeg net Afrikaans, melktert, biltong, sjokolade, roomys, blatjang, melkkos, braaivleis, familie, hoop, geloof, liefde, vrede en 'n bord goeie Boerekos daarby en die Kaap is Hollands en ek kan vir nog 30 jaar skoolhou. My lewe is gevul met ongelooflike kinders, ouers en kollegas. Ek is geseënd en tevrede met die wonderlikste beroep.

Susan Roberts

Ek het my graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en het daarna my loopbaan in die onderwys in 1988 by Hoërskool Jagersfontein begin. Ná 'n besige ses jaar het die noorde geroep en sluit ek in 1994 by Pro Arte Alphenpark aan. Tussen al die kunste deur en die verskillende denkwyses van verskillende leerlinge word daar kliphard Fisiese Wetenskappe aangebied. In 1999 neem ek deel aan die Fulbright Teacher Exchange Program en vir ‘n jaar het ek Fisika en Chemie by King and Low Heywood Thomas in Stamford Connecticut, VSA gegee. Wat ‘n leerskool!  Leerlinge wat elkeen met ‘n skootrekenaar werk, verskillende leerstyle, die uiteenlopendste persoonlikhede – absoluut die moeite werd.  Terug in Pretoria het ek tussen Hoërskool Linkside en Doxa Deo gependel en het ek die Departement Fisiese Wetenskappe (Gr. 10 tot 12) by Linkside gestig. Ná die geboorte van my tweelingdogters verhuis ons terug na Pretoria.  Ek het by Pretoria High School for Girls aangesluit, en ná 10 jaar se voluit en met oorgawe se skoolhou in die Fisiese Wetenskappe, is ek in 2015 as departementshoof vir Fisiese Wetenskappe by Hoërskool Garsfontein aangestel. Ek het by albei skole robotika geïmplementeer. Geen werk is te hard of te moeilik nie. Die ure wat jy insit om kinders se lewens te verander en verbeter is altyd die moeite werd en kan met geen geld gekoop word nie. Ek is steeds by Garsfontein en ten spyte van al die huidige uitdagings bly die leerlinge steeds die rede waarom ek in die onderwys is.

Gerald Marks

Die lewe het verskeie draaie met my geloop voor dit my by die onderwys uitgebring het. Ek het myself as ontwerptekenaar bekwaam en toe my ambag as passer en draaier asook wapensmid voltooi. Ek het ook my Nasionale Tegniese Diploma deur Pretoria-Wes Tegniese Kollege verwerf. Ek het my ware loopbaanpad in 1990 begin stap toe ek by die Gautengse Onderwysdepartement begin skoolhou het. Ek het my HOD in Tegnies deur Unisa verwerf. Ek is al vir die laaste 14 jaar 'n onderwyser in Limpopo en is tans 'n IGO-onderwyser by Hoërskool Merensky. Ek is betrokke by die merk van vraestelle en is vir die laaste sewe jaar hoofnasiener vir IGO in Limpopo. Ek is betrokke by die opleiding van IGO-onderwysers en staan hulle by met PAT-opleiding.  Ek het ook verskeie kere toekennings ontvang vir uitstekende Gr. 12-uitslae en het verlede jaar ook weer 'n 100%-slaagsyfer behaal. Ek is al as beste IGO-onderwyser in die Mopani-streek aangewys. Ek het 'n groot passie vir sport en rig rugby en atletiek af. Vir ongeveer tien jaar tree ek op provinsiale vlak op as spanbestuurder vir onder andere Limpopo se Cravenweek-span en vir die laaste vier jaar is ek die sekretaris van Limpopo se Blou Bulle-rugbyvereniging. Vroeër jare was ek ook die sekretaris van Gautengse spesiale skole se krieket. Ek was ook verskeie jare lank departementshoof vir tegniese vakke intern en het ook op verskeie skole se skoolbestuurspanne gedien. Ek het ook as verkiesingsbeampte vir skoolbeheerrade asook vir leerlingrade opgetree. 

Kosie Smit

Ek, Jacobus Johannes Smit (Kosie) is op 17 Maart 1962 op Despatch gebore. Ek matrikuleer in 1979 aan Hoërskool Despatch. Ek het in 1983 my Hoër Onderwysdiploma aan die Onderwyserskollege Wellington verwerf. Ná twee jaar in die weermag, begin my onderwysloopbaan op 1 Januarie 1986 by Hoërskool Despatch, my alma mater. My droom was om eendag my Skeinat-onderwyser, mnr. De Jager, se pos te beklee en om my liefde vir Skeinat aan die leerlinge oor te dra. In 1996 het ek ‘n Verdere Diploma in Onderwys (VDO) in Lewensopvoeding voltooi, en is van 2000 tot 2019 graadhoof. Ek het in 2018 ‘n departementshoof geword.  Tans is ek die enigste Fisiese Wetenskappe-onderwyser vir graad 10 tot 12, asook vir Wiskundige Geletterdheid vir graad 10 tot 12. Ek stel ook my FW-leerders bloot aan MINTEK-vasvrakompetisies, Waterwerkkompetisies, Brugboukompetisies, asook die STEMLAB by NMMU. Ek bied ook vir al my FW-leerders ekstra klasse aan na skool om die sillabus met meer gemak te voltooi. Tydens 2020 se grendeltyd het die STEMLAB my genader om hulle te help om FW-lesse te vertaal en vir aanlyn video’s aan te bied. In hierdie tyd het ek ook geleer watter wonderlike hulpmiddel ZOOM-klasse is. Ek is ook sedert 1997 betrokke by die merk van matriekantwoordstelle en is die laaste paar jaar 'n senior merker. Ek was vanaf 1986 tot en met 2020 ‘n skyfskietafrigter. In 2013 is ek as nasionale SANSSU-afrigter gekies en het ek 'n span na Bisley in Engeland vergesel. Tans bedryf ek die skool se Groenklub.

Eghard Basson

In 2014 het ek het my honneursgraad in Drama en Teaterstudies cum laude aan die US verwerf en het my NOS-kwalifikasie in 2015 verwerf. My onderwysloopbaan begin in 2015 by Hoërskool Hugenote in Wellington as Drama-onderwyser. In 2016 het ek by Helpmekaar Kollege as Drama-onderwyser aangesluit, en in 2018 word ek vakhoof vir Dramatiese Kunste. Dié vak spog jaarliks met topresultate binne die IEB en toon elke jaar groei. Ons neem ook elke jaar deel aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie en spog jaarliks met insluiting in die finaal. Sedert 2018 skryf ek individuele leerlinge in vir die Nasionale Toneelspelkompetisie en ons leerlinge was nog elke jaar in die top-30. In 2021 het my twee leerlinge die topagt gehaal en die een kandidaat het die kompetisie gewen!  My toneelstuk word ingesluit in die topses van die Aardklop Pronkpodium-toneelkompetisie. Skole van reg oor Gauteng asook Noordwes neem in 2021 aan die kompetisie deel. Ek skryf en regisseer die skool se jaarlikse produksie wat al 1 200 leerlinge insluit. In 2020 het ons 'n filmweergawe gemaak wat weens die pandemie by uitgesoekte Ster Kinekor-teaters vertoon is.  Twee van my Drama-leerlinge werk onderskeidelik in 2021 aan kortfilms.  Ek glo dat elke leerling as individu benader moet word en dat daar nie ‘n kits-metode vir sukses is nie. Die vak bied aan leerlinge 'n ruimte om hulself te wees, asem te skep en net te wees. Dis belangrik om op elke leerling te fokus, en elkeen te ken om voldoende te kan onderrig – elkeen se sterk-en swakpunte te ken.

Hanneke Wolmarans

Ek het in 1976 my BSc-graad aan die NWU voltooi met Plant- en Dierkunde as hoofvakke en kwalifiseer in 1977 as Biologie-onderwyser. Ek het my loopbaan in die onderwys in 1978 aan Hoërskool Schoonspruit in Klerksdorp begin. Die daaropvolgende jaar het ek by Hoër Volkskool, Potchefstroom aangesluit. Ek is ná 10 jaar tot departementshoof bevorder. Ek het my studie deeltyds voortgesit en in 1992 my BSc (honneurs) in Dierkunde voltooi. Ek was van 2001 tot 2003 na die Fakulteit Opvoedingswetenskappe gesekondeer, maar het in 2004 weer na Hoër Volkskool teruggekeer as departementshoof waar ek steeds Lewenswetenskappe onderrig. Ek beskik oor 43 jaar se onderrig-ervaring, waarvan 35 jaar onderrig aan matrieks behels het. Ek het deur die loop van my loopbaan vier merietetoekennings vir uitstaande onderrig ontvang. Tussen 2001 en 2008 het ek as eksaminator, hoofnasiener en interne moderator vir Lewenswetenskappe in Noordwes opgetree.  Om elke kind as persoon te aanvaar en te motiveer, is vir my die sleutel tot onderrigsukses. Ek vestig daarom onder andere 'n tradisie om elke jaar 'n handgeskrewe kaartjie vir elke matrikulant te skryf waarin ek hom of haar as individu bemoedig en bedank vir sy/haar toewyding. Onderrig in Lewenswetenskappe is meer as die indril van terme en definisies – dit is 'n geleentheid om die grootsheid van God se Skepping uit te lig en vir God 'n ligdraer van liefde en naastediens te wees. Wat ‘n ryke en reuse-voorreg!

Anel van Wyk

Geloof, geluk en genade. Dit omskryf my hart as onderwyser, die juffrou wat vir leerlinge droom. Ek het grootgeword en skoolgegaan in Orkney, daarna het ek my BEd-graad en NGDIP in Potchefstroom met groot trots as 'n Pukkie verwerf.  Ek is tans 'n opregte Pretorianer en glo in my skoolleuse met die wense vir elke Suid-Afrikaanse leerling: Prestasie, Groei, Ontwikkeling. Dit is 'n voorreg om te weet dat ek daagliks lewens kan verander en soveel liefde kan deel. Ek is 'n groot diereliefhebber en spandeer alle ander tyd ná werk saam met my pragtige chihuahuas. Graag haal ek 'n bekende in die onderwysgemeenskap, Magé Troksie, aan: “Lig jou ken en ken jou lig.”

Juan Nagel

Ek is tans die adjunkhoof by Hoërskool Waterkloof. Ek het in 2008 my BTech-graad in Sportafrigtingsdidaktiek aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie voltooi. Daarna het ek my Nagraadse Onderwyssertifikaat, asook my BEd (honneurs) in Onderwysbestuur by Unisa verwerf. Vanaf 2012 tot 2019 was ek aktief betrokke by die afrigting van krieket op provinsiale vlak sowel as by rugby-afrigting op hoërskoolvlak. My passie lê daarin om kinders op te hef, my gemeenskap te dien en ek is ook 'n groot voorstander daarvan om van die onderwyssektor 'n beter omgewing te maak waarin alle betrokke rolspelers optimaal kan funksioneer. Ek is self 'n kranige sportman en 'n gesinsman vir my twee kinders en vrou. 

Ilse van Zyl

Ek het vanjaar 60 geword. Ek is getroud met Nico, 'n pastorale sielkundige. Ek het in 1983 begin skoolhou. Vanaf 1985 tot 2006 was ek voltyds 'n mamma vir my vier kinders. Ek gee tans Afrikaans Huistaal. Dit is vir my baie belangrik om leerlinge met respek te behandel en hulle te motiveer om die beste weergawe van hulself te wees. Ek geniet my werk baie, veral die interaksie met die leerlinge. Dis 'n groot voorreg om 'n rol te speel in leerlinge se lewe wat die leiers van môre gaan wees.

Zelna du Plooy

Ek is vanjaar 41 jaar en woon tans in Kemptonpark. Ek is getroud met Eugene en het twee kinders, Marco (13) en Mieke (10). Vir die afgelope 19 jaar is ek 'n onderwyseres by Hoërskool Jeugland, waar ek SW, Afrikaans en Geografie onderrig.  Vandat ek as sesjarige saam met my maatjies by Laerskool Donkerhoek klippieskool gespeel het, het ek net geweet ek wil 'n juffrou word! Ek het in 1998 aan die Hoërskool Garsfontein gematrikuleer, waarna ek by NKP/TUKS gaan onderwys studeer het.  Sport en kultuur het altyd 'n groot deel van my lewe uitgemaak en ek het nog altyd by die slagspreuk “Be the teacher you needed when you were younger” gehou.  Soms het leerlinge ander leiding en vorming nodig as wat in 'n kurrikulum opgeskryf staan. My grootste droom is om kinders te inspireer en ook te leer dat hulle altyd moet onthou dat almal eendag hulle volle potensiaal sal bereik as hulle hard werk. Dis vir my 'n groot voorreg om vir 2021 se Onderwyser van die jaar-toekenning genomineer te word.

Petro Richardson

Van kindsbeen af was dit my droom om 'n juffrou te wees. Ek het my BA-graad en Hoër Onderwysdiploma aan die Universiteit van Pretoria verwerf met Geografie en Sepedi as hoofvakke. Ek is die gelukkige wederhelf van Deon en ons het 'n 21-jarige seun, Michiel. My onderwysloopbaan het in 1997 by die Hoërskool Oos-Moot afgeskop, waarna ek ook by die Hoërskole Waterkloof en Silverton in diens was. Sedert 2001 gee ek onderrig in Toerisme en Geografie by Hoërskool Zwartkop en ek is 'n volbloed Zwarrie! Ek tree ook sedert 2013 as 'n graadhoof op.  Die onderwys is absoluut 'n roeping, want dis hier waar ek elke dag my passie as opvoeder ten volle kan uitleef! Ek is baie lief vir kinders en is fyn ingestel op elke individu. My topprioriteite is om liefde uit te deel waar ek kan en 'n verskil in kinders se lewe te maak, al is dit ook hoe klein, maar my grootste doelwit is om so te leef dat ander Christus in my kan sien.  Die natuur is my groot liefde en my gunstelingplekke is die bosveld of berge. Ek is baie lief vir nuwe avonture en is 'n kranige drawwer.   Oudword vrees ek nie, maar ek is bang ek stagneer en geniet dit om myself gedurig uit te daag. Ek het in 2019, as 45-jarige, vir my eerste Comrades-marathon ingeskryf en dit suksesvol voltooi. My nuutste uitdaging is verdere studie en ek is tans besig met 'n honneursgraad in Opvoedkunde.

Valerie de Jonge

Ek gee sedert 2015 onderrig as geregistreerde onderwyser by SARO,  en ek is trots om ’n onderwyser by Curro Thatchfield sedert 2015 te wees.  Sedert ’n baie jong ouderdom wou ek nog altyd ’n onderwyser wees en ’n verskil in die lewens van ons kinders maak. My droom is in 2015 bewaarheid. Ek is lief vir elke oomblik van my werk; al die uitdagings en die resultate aan die einde van die jaar is baie lonend. Om die helder ogies en opgewondenheid te sien terwyl ek skoolhou vul my hart met vreugde, en om net die trots op ’n kind se gesig te sien wanneer hulle in iets verbeter waarmee hulle gesukkel het, of wanneer hulle ’n persoonlike doelwit bereik, is van onskatbare waarde. As jong kind het ek self gesukkel om te lees en ek het dit my doelwit in die lewe gemaak om leerlinge te beïnvloed en om ’n passie en liefde vir leer en lees aan te moedig. Ek het vanjaar ’n droom gehad om ’n biblioteek by ons skool te kry – nie net ’n biblioteek nie, maar ’n leessentrum waar kinders welkom voel en waar hulle voel hulle wíl lees. Hierdie droom het ’n realiteit geword omdat ek dit my visie en missie gemaak het. Die biblioteek is in Julie voltooi en ons kinders geniet dit so baie. God is my leiding in my klas en in my lewe en ek is geëer dat Hy my met die gawe om skool te kan hou, geseën het.

Melcolm Griffiths

Ek is ’n Christen man en pa wat baie groot passie vir ontwikkeling het, in die klas asook op die sportveld. Ek hou skool by Uitsig Primary waar ek gr.-4 Natuurwetenskap en Tegnologie asook gr.-7 Sosiale Wetenskap aanbied.  Ek was die sporthoof, rugby-, atletiek-, en sokkerorganiseerder van 2017 tot 2020 gewees (voor Covid-19), vanaf 2022 sal ek net die rugby-organiseerder wees asook ’n afrigter vir atletiek, bulletjie rugby, eerstespan rugby, sokker en mini sokker.  Ek het ’n Gevorderde Diploma in Sportbestuur, ’n nagraadse sertifikaat in Onderwys en is tans besig om my honneurs in Onderwys te voltooi.  Ek het Blou Bulle 7’s rugby gespeel, Blou Bulle Amateurs o/21-rugby, Varsity-beker vir TUT en het nasionale klere in binnenshuise krieket verwerf. Ek geniet my loopbaan ongelooflik baie. My doel is om ten minste een kind elke jaar op ’n positiewe manier te beïnvloed wat hom/haar in die toekoms sal laat uitblink.

Tiaan Muller

Ek is ’n onderwysing in kodering en robotika wat die kurrikulum vir die skool skryf. Ek het ’n passie om kinders na Christus toe te wys as rolmodel vir die lewe en leer. Ek is plat op die aarde en probeer vir die kinders wys dat die klein dinge in die lewe die goed is wat saak maak. Liefde is die nommer een prioriteit in my klas. Liefde, omgee, verdraagsaamheid en dan later die kurrikulum. Ons maak mense groot, nie boeke nie.

Helgardt Hoffmann

Ek is sedert 2015 ’n onderwyser by skool by AJ Jacobs primêr. Ek het my passie vir onderwys ontdek toe ek destyds as bemarkingstudent, onverwags ’n aflospos by dié skool aanvaar het. Ek het aanhou studeer terwyl ek skoolgegee het, maar het vinnig besef dat onderwys in my bloed is. Ek het vanjaar met my nagraadse onderwyssertifikaat deur Akademia begin. Tans is ek die departementshoof van Engels asook die hoof van atletiek. Ek rig ook skaak en sokker af en help graag uit by die naskoolsentrum. Wat vir my besonders spesiaal is, is die band wat ek met my leerlinge het. Dit beteken so baie om by ’n kind te hoor jy vul ’n vaderfiguur rol, omrede hy nie een het nie. Of wanneer ’n leerling in die lokasie vir sy familie van sy gunsteling Engelse meneer wat soveel moeite doen om hom te help, gaan vertel. Dit laat jou opnuut besef watter verskil jy werklik maak. Om behoeftige kinders op te hef is vir my baie belangrik. By AJ Jacobs word kinders min aan tegnologie blootgestel, daarom het ek ’n witbord en ’n projektor gekoop sodat ek met my skootrekenaar vir hulle lesse kan aanbied. Hulle geniet die skyfievertonings of taalspeletjies wat ons doen, vreeslik. My leuse is, respekteer my en ek respekteer jou. Doen jou deel en ek gee 100 keer my deel.

Lana van der Westhuizen

Ek is ’n kombinasie “resep” van ’n vrou, mamma, dogter, suster en juffrou. Ek is ’n mamma van twee stelle dubbeldore. Ek is ’n trotse mamma van drie outistiese seuntjies en ’n dogtertjie met ADD. Ek glo met my alles dat onderwys ’n absolute roeping is en dat die liefde om te onderrig deur jou totale menswees klop. Al is daar dae wat ek in myself twyfel en die lewe soms opdraande loop, streef ek daarna om vir elke kind, hetsy hindernisse of nie, ’n gelyke kans tot onderrig te gee en die geleenthede te bied om tot die beste van hul vermoëns te groei. Ek maak foute, maar deur my foute leer ek. ’n Mens is nooit te oud om te leer nie. Ons as volwassenes en onderwysers is die toonbeeld van liefde, geduld en opoffering. Onderwysers se harte is amper soos taxi’s – daar is altyd plek vir nog. My missie op die oomblik is om mense meer bewus te maak van hoe die wêreld deur die oë van ’n outistiese/ADD en ADHD kind lyk. Die lewe is ’n legkaart en elkeen van ons is legkaartstukke wat net hul plekkie soek om in te pas; ’n plekkie om te behoort en aanvaar te word vir wie jy is. My visie is om met minder oordeel, meer begrip, geduld, respek en integriteit te leef asook om ’n volwaardige vrou, mamma, dogter, suster en juffrou vir my Skepper en Here te wees.

Ronell Pitout

Ek hou al vir 30 jaar lank skool. Ek is passievol lief vir Jesus en vir my graad 1’s. Daar is niks wat ek eerder sal wil doen nie. Ek is getroud met Charles – hy gee my drome vlerke, en dink ek is die beste juffrou ooit! Ek het drie wonderlike kinders, elkeen geseënd in hulle onderskeie beroepe. Wat ’n voorreg om ’n mamma en ’n juffrou te kan wees! Ek leef en werk my droom. Daar is nie een dag wat ek nie met ’n lied in my hart na Louis Leipoldt toe ry nie – ’n lentelied vol opgewonde dankbaarheid in my hart, soos ons skoollied sê. My skool en my klassie is “huis”. Hiermee dan ook ’n groot dankie aan ons hoof, mnr. Pieter Ferreira, my departementshoof, Angelique Coetzee, en graadhoof, Elmarie Swanepoel, vir julle elkeen se uitstekende leiding en passie waarmee julle voorloop. Skoolhou vir graad 1’s is nie aldag maklik nie; daar is soms groot uitdagings, maar ook baie pret, lag en werksbevrediging. Dis hier waar ek my Godgegewe talente en gawes kan uitleef, en waar hartjies en lewens verander word deur groot genade, harde werk, baie liefde en aanmoediging – aanhou probeer en nooit opgee nie. Om onderrig te gee is ’n groot voorreg. Om jaar na jaar die fondasie te vestig, en te sien hoe die kinders groei, is my vreugde en trots. Werk is nie werk wanneer jy doen waarvoor jy passievol lief is nie!

Meliska Herbst

Wanneer jy ’n lewe van dankbaarheid met empatie vir ander kan leef, is jy ’n gebore onderwyser! Van kleintyd af was ek gemotiveerd om ’n onderwyseres te word.  Tydens my eerste proefperiode het ek besef dat onderwys die een plek is waar ek al die talente wat God vir my gegee het, kan gebruik en uitleef. Na amper 14 jaar in die onderwys is ek nie een dag spyt oor my loopbaankeuse nie. Op sport, kultuur en akademiese gebied kan ek my passie uitleef en van diens wees tot die leerlinge in my klas en my kollegas op die personeelraad. As ek een kind se lewe op ’n sinvolle wyse kan aanraak, is onderwys die moeite werd. As onderwyseres is ek betrokke by vele buitemuurse aktiwiteite en geniet ek dit om aktief deel van my gemeenskap te wees.  Ek is getroud met ’n wonderlike man wat ook ’n onderwyser is. Dit is kosbaar om ons passie vir kinders en die onderwys te kan deel en uit te leef. As trotse ouers van twee jong seuns, geniet ons dit om verskeie interessante dinge saam te doen, soos sportskiet, jag, visvang, en deesdae sommer familie golf ook. As koshuisma met ’n hart vir elke kind, is dit ’n eer om die rol van ouerskap ook hier te behartig. Dit bly ’n voorreg om gelukkig in jou beroep te wees en ek het die boerpot geslaan. My leuse in die onderwys:  Ek wil die son vang en lig neem na waar daar donkerte is.

Marcherie Strydom

Ek is ’n laerskoolonderwyseres en gee klas vir graad 2’s. My passie is kinders, omgee, liefde en soveel meer. Ek wil ’n verskil maak en voel in my hart dat om ’n onderwyser te wees my in staat stel om dit daagliks te doen. Ek glo dat as jy doen waarvoor jy lief is, maak jy ’n groot verskil in baie se lewens. Jy besef dit dalk nie altyd nie, maar jou sagte stem, jou lag en toeganklikheid maak dalk net daai eensame kind in jou klas se dag. Ek dink deur die tye het ons so baie bereik met kinders, en ek voel dat ons werklik uit ons pad gaan om hulle toekoms beter te maak. Ek wil al my liefde en omgee, aan elke kind in my klas gee. Ek wil hê hulle moet soos sponsies wees en als opsuig wat ek hulle leer. Ek dink nie jy kies die beroep as onderwyser nie, die beroep kies jou.

Doanda Meyers

Ek is ’n passievolle laerskoolonnie wat verskriklik lief is vir my graad 1, 2, 4, 5 en graad 6 Afrikaanse seuntjies. Hulle is dierbaar as hulle so hard probeer om my te beïndruk om lekkers of ’n pretzel na ’n speltoets op ‘n Vrydag te kry! Ek is gelukkig en geseënd om na ongeveer 30 jaar in die onderwys, vir hulle te kan skoolhou. Ek het vir die meerderheid van my loopbaan vir hoërskoolkinders klas gegee wat ek ook vreeslik baie geniet het, maar as ek my loopbaan in oënskou neem is die pos wat ek tans beklee die kersie op die koek tot dusver.

Nicoline de Beer

Ek is lief vir my werk wat ook my passie is. Ek is sedert April 2002 ’n onderwyseres by Middelburg Gekombineerde Skool in Nasaret. Die grootste beloning is nie altyd prestasies van kinders nie, maar wanneer jy die moedelose ogies sien ophelder in vreugde omdat daar deurbrake plaasgevind het, of wanneer jy kan aanvoel daar is fout en sal krap tot die seer oopbars sodat dit gesond kan word. Om brûe te bou oor onwaarhede wat verkondig word oor apartheid. Soms wens ek daar was meer tyd om alleensessies met kinders te hê sodat hulle vry kan kom. My beloning is Sef. 3:17 en dit word vervul indien ek ook daardie vreugde op my kinders se swart en bruin gesiggies kan sien. Om Provita’s met grondboontjiebotter te gee as hulle bleek van die honger is en om saam te huil wanneer ’n geliefde afgesterf het. Hier het ek ook geleer om uit niks, iets te kan maak. Herwinbare materiaal doen “amazing” goed. Luukshede bestaan nie, want daar is nie fondse nie. Eendag wanneer my skip in die hawe dok, gaan ek beslis ’n projektor en witbord vir my klas koop sodat my kinders ook tegnologiese wonderwerke met skoolwerk kan beleef. Dankie vir die voorreg om genomineer te kon word.

Marna Jacobs

Ek het in 1994 afstudeer aan Potchefstroom Onderwys Kampus (POK), en het my onderwysloopbaan in my tuisdorp Hoopstad by Bambi Kleuterskool begin. Tans is ek ’n onderwyser by ’n LSEN (Education for Learners with special educational needs). Met ongeveer 27 jaar se ondervinding in die onderwys, het ek al by verskeie skole onderrig gegee. Elke skool met sy kinders is vir my spesiaal en het ek herinneringe wat ek in my hart koester. My leuse in my klaskamer is; Welkom in die klas waar vreemdes vriende word. Dit is inderdaad so, ek het saam my kinders gegroei en hegte bande met die ouers gesmee. Ek leer my leerders van die Bybel en wat reg en verkeerd is. My dissipline is op die Bybel geskoei. Ek sal nie sonder my Bybel kan skoolhou nie. My passie lê by ons kinders wat ons toekoms is. My man sê altyd my hart is soos ’n Toyota E20 TAXI, daar is altyd nog plek vir nog ’n kind. Die af-vlerk voëltjies lê my na aan die hart en ek geniet dit om hierdie kinders vaardighede te leer wat hulle vorentoe in die lewe sal neem. Die Here is my Herder en sonder Hom sal ek nie kan doen wat ek elke dag doen nie!

Annari Lingenvelder

Ek het al vroeg in my skoolloopbaan geweet dat ek en die onderwys pasmaats is. In 2006 het ek my graad in B.Ed. (Grondslagfase) NWU se Fakulteit Opvoedkunde verwerf en in 2007 in my eerste onderwyspos by Laerskool Witrivier begin.
Ek is getroud en het na Pretoria verhuis. Sedertdien was ek in verskeie hoedanighede aan skole in Pretoria, meestal as ’n grondslagfase onderwyseres verbonde: Curro Hazeldean, Monumentpark (aflos), Constantiapark (aflos), Pretoria-Oos (aflos). Sedert Oktober 2020 beklee ek ’n permanente pos as ’n Afrikaanse onderwyseres vir graad 4’s, by laerskool Garsfontein. Die onderwys is werklik vir my ’n roeping en ek kan my my nie ’n lewe voorstel sonder die kinders wat deur my hande gaan, en reeds gegaan het nie. Hulle maak my die mens wat ek is: passievol, toegewyd, entoesiasties en kreatief. Dit is dan ook my onderwysfilosofie: passie, toewyding, entoesiasme, kreatiwiteit, en innovasie met die uitvoer van my dagtake en in my opdrag as onderwyser. As dit waarde tot leerders se ontwikkeling kan toevoeg, het ek my doel bereik.

Vanessa Nel

Ek is sedert 2010 ’n onderwyseres by laerskool JJ van der Merwe in Ermelo, Mpumalanga.  Ek is getroud en ons het drie kinders – tweeling dogters van 12 en ’n seun van agt jaar oud.  Ek het in 2000 aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer. Na skool het ek my B-Tech. Diploma in Gasvryheidstudies by TUT (Technikon Pretoria) verwerf.  Daarna het ek deeltyds my Onderwysdiploma by UNISA gedoen. My eerste tree in die onderwys, was as dosent by PE Kollege in Port Elizabeth waar ek vir ses jaar werksaam was. Ek is terug na my tuisdorp in 2010 waar ek by Laerskool JJ van der Merwe as graad 3 onderwyseres aangesluit het. Ek het 2019 na graad 4 wiskunde geskuif en het ook die graadhoof van die graad-4’s geword.  My buitemuurse aktiwiteite sluit atletiek, netbal en landloopafrigting in. Ek is ook die landlooporganiseerder van ons skool. Ek tree ook as mentor op vir die onderwysstudente by ons skool. Die geleentheid om ’n verskil in elke kind se lewe te maak, klein of groot is vir my baie belangrik. Elke kind moet spesiaal en uniek voel. Ek wil ’n passie wakker maak sodat hulle voluit wil en kan lewe. My kindertjies weet: Ons gee nooit op nie en as ons dink ons kan nie meer nie dan kan ons nog sewe keer. Onderwys is my roeping en my passie. Ek dank God elke dag vir die geleentheid wat ek ontvang het om ’n onderwyseres te kan wees.

Klarize Marnewick

Ek is ’n grondslagfase-onderwyseres. Ek gee al vyf jaar lank skool vir graad R. Ek het my graad by Tukkies voltooi asook my honneursgraad in Leerondersteuning. My droom is om verder te studeer in die onderwys. My klaskamer is my weg waar ons drome kan aanraak en die toekoms raak. Ek is ook ’n mamma van ’n pragtige seuntjie.

Celetia Reinders

Voor ek begin skoolhou het, het ek nooit geweet dat ’n mens só baie kindertjies in een hart kan inpas nie! Ek is 28 jaar oud en is tans in my tweede jaar van onderwys.  Ek het my B.Ed Intermediêre en -Seniorfase graad, sowel as B.Ed Honneurs in opvoedkundige sielkunde aan die NWU Potchefstroomkampus voltooi.  Daarna het ek vir twee jaar as ’n internasionale lugwaardin gewerk, en nou is ek bevoorreg om daardie ervarings met die leerders in my klasse te kan deel! Ek is ’n graad 6 juffrou by Universitas Primêre Skool in Bloemfontein, waar ek Engels en Sosiale Wetenskappe gee. Ek poog daagliks om kinders te inspireer en hoop te gee. Om kinders te kan help leer en te kan hoor lag, maak elke dag die moeite werd. Die grootste kompliment en hart-smelt-oomblikke is wanneer een van my leerlinge my per ongeluk mamma noem. Ek glo dat elke kind verdien om te weet dat hy of sy ’n spesiale plek in die wêreld het, enige uitdaging kan oorkom en dat elkeen geliefd is. Ek streef daarna om ’n goeie rolmodel vir leerlinge te wees en ’n veilige omgewing van saam lag, huil en leer te skep. Alhoewel daar ’n groot verantwoordelikheid op onderwysers se skouers rus, bly dit ’n reusevoorreg om met die jeug te kan werk. Dankie ouers, dat julle julle kosbaarste besitting daagliks aan my toevertrou!

Charmaine Potgieter

Ek is al 31 jaar lank ’n onderwyser by Laerskool Hermanstad. Ek het 4 jaar by Pretoria Onderwyskollege studeer asook ’n 2 jaar verdere Onderwysdiploma verwerf terwyl ek skoolgehou het. Onderwys is beslis nie vir sussies nie! So wat maak dit vir my  nog steeds lekker? As my Wiskunde-leerlinge dit as hulle gunsteling  vak beskryf omdat ek moeite doen en dit verduidelik totdat dit maklik raak. Die “aww” van die kinders as die klok lui aan die einde van my periode, maak enige dag die moeite werd. As ’n moeilike gr.-7 seun jou alleen voorkeer en sê “Juffrou jy is eintlik oraait, ek ‘like’ jou want jy verstaan my.” Dat ek ’n ma kan vashou wat huil oor haar kind se probleme en ons saam die pad stap om hulp vir haar kind te kry. My hart wat bars van trots as my Revue groep na lang ure se oefening, hulle uitleef en fantasties optree. Die goeie verhoudings met my ouers, want hulle kind word soos my eie; ons is vennote in hulle kind se ontwikkeling. Ons beleef saam sy hoogtepunte en teleurstellings. Om elke dag kinders te help om akademies, sosiaal en kultureel te ontwikkel is ’n groot eer vir my. Ek hou van die gevoel wanneer ’n behoeftige kind, skool as ’n goeie en veilige plek ervaar omdat ek belangstel. Passie volg nadat ’n mens sukses in iets wat jy doen beleef en onderwys is my passie.

Carla Botha

“Tien klein hasies, kom sit in ’n kring. Bring julle boekies en laat ons sing. Maak julle bekkies wawyd oop, sing vir my so soet soos stroop.” So sing ons op ’n Vrydagmiddag in die graad 1 Hasieklas by Laerskool Skuilkrans terwyl ons besig is met kuns. Ek het reeds vroeg in my lewe besluit om ’n onderwyser te word (my poppe kan daarvan getuig).  Om ’n onderwyser te wees is meer as net stories lees, tel, somme maak en woorde bou. Jy maak elke jaar jou hart oop vir ’n nuwe groep hasies, wat jy moet leer. Die vorige jaar se hasies is nooit vergete, want hulle onthou jou tot in lengte van dae. Die nuwe groep hasies kruip sommer vinnig diep in jou hart in en kom verryk jou dag met verskeie faktore en stories. Dit terwyl die ou legendariese hasies nog steeds kom groet en jou styf vas druk wanneer hulle ’n kans kry. Ek glo as graad 1-juffrou is ek verantwoordelik vir die fondasie van elke kind se skoolloopbaan, asook sy/haar verhouding met die “groot skool”. Hoe ons vandag die vak hanteer bepaal hoe die kind in die toekoms oor die vak gaan voel, want ’n onderwyser is iemand wat jou help om probleme op te los. Die beste leermeesters is hulle wat jou wys waar om te kyk, maar nie vir jou vertel wat jy moet sien nie. Mag al my hasies altyd onthou hoe ek hulle laat voel het.

Annali Muller

Ek het in 1985 my hoër-onderwysdiploma in Junior Primêr aan die onderwyserskollege, Paarl, verwerf.  In 1986 het ek as plaasmeisie my onderwysloopbaan by die Laerskool Eversdal begin. Ek het so baie geleer, onder andere om elke dag jou heel beste gegee – vir die leerlinge, vir die gemeenskap, vir jou kollegas en skool. Ek het baie veranderinge in die onderwysstelsel beleef, ondermeer die gebruik van tegnologie. Ek moes myself deurlopend met menigte rekenaar- en onderrigkursusse bemagtig om te verseker dat ek my leerlinge die beste onderrig bied. Ek streef daagliks daarna om ’n ware rolmodel vir leerlinge, mede-personeel en ouers te wees. Vir ongeveer twaalf jaar was ek die graadhoof van graadeen. Vir die laaste drie jaar is ek vakhoof van Wiskunde in die grondslagfase en vanaf die begin van 2021 waarnemende departementshoof en kurrikulumhoof in die grondslagfase. Dit bly my strewe om die take na die beste van my vermoë uit te voer en so my bydrae tot die onderwysprofessie van uitstaande gehalte te maak. Na 35 jaar bly dit steeds die lekkerste om daagliks met ouers se kosbaarste besittings te werk, om hierdie klein mensies te ontvang en van hulle leerlinge te maak wat kan lees, skryf en reken. “Wow”, dit is einde van elke jaar net ’n vreugde en trots om hierdie leerders oor te gee aan hulle volgende juffrou, maar met ’n baie seer hart, want vir 12 maande was elkeen van hulle myne, elk met ’n baie spesiale plekkie in my hart.

Elmarie Jansen

Wat ek die meeste van my kinderjare onthou is dat ek van kleins af skool-skool gespeel het. Juffrou-wees het soos bloed deur my are gevloei. Ek is nou ’n mamma van vier kinders en ’n graad-R juffrou by Laerskool Tzaneen. In 2005 het ek my eerste graad as ’n hoërskoolonderwyseres in Natuurwetenskappe voltooi, maar later het ek my groot liefde vir grondslagfase ontdek, en my kwalifikasie daarin verwerf. My pa het altyd gesê ’n plek van ’n onderwyser is in die hart van ’n kind en dit het ek met hierdie klein lyfies ontdek. Hulle vra so min en gee so baie. Ek wil daai juffrou wees wat leerders vir altyd sal onthou, en wat vir hulle kinders eendag sal vertel van die juffrou wat ’n plek in hulle harte het. Behalwe dat ek lewe vir my klas is my ander passie om my mede-personeel opgewonde te maak oor die onderwys. Ek probeer deur my posisie as graadhoof hulle te lei om altyd nuwe dinge te probeer, om nooit op te gee nie en altyd die beste te wees wat jy kan. My visie vir myself is om ’n spesialis te wees op die gebied van skoolgereedheid aan die einde van my onderwysloopbaan en ander juffrouens op te lei om ons klein lyfies ten volle te ontwikkel om hulle potensiaal te kan bereik. Ek glo om ’n suksesvolle onderwysstelsel in SA te hê, moet ons as onderwysers begin om ons wysheid in mekaar te begin belê.

Mariette Cilliers

Ek is al vir agtien jaar ’n juffrou vir kinders in die grondslagfase. Ek is gelukkig getroud met twee kinders. Ek is doelgerig, eerlik en streef daarna om elke dag net my beste te gee en ’n verskil in iemand se lewe te maak. Dit vul my hart met vreugde om te beleef hoe kinders in die klaskamer, op die sportveld en tot op die verhoog ontwikkel. In die onderwys is daar “never a dull moment”. Van ’n ontdekkingsoomblik, ’n ernstige opmerking, ’n grappie of ’n werkstuk. In die kinders se oë lees jy ’n verhaal. As ek in elkeen se verhaal een goeie sin kan skryf, het ek die verskil gemaak wat ek so graag wil. Dit is ook my voorreg om aan onderwysstudente by ons skool te help vorm. Hierdie jong onderwysers is ons toekoms en ek sien uit om saam met hulle nog ’n groot verskil te maak. My netwerk is my kollegas. As ’n span is ’n mens sterker en kan jy elke kind tot sy of haar volle potensiaal ontwikkel. My passie om kinders te ontwikkel is nie net beperk tot die klaskamer nie. Dit is net so belangrik om op emosionele, sosiale, sport- en kulturele gebied die kinders geleentheid te gee om te ontwikkel. My passie was nog altyd om ’n verskil te maak en ek kan dit uitleef in my roeping as juffrou. “Choose a job you love, and you will never have to work a day in your life.” – Confucius