Dawie Roodt se wenke
Oorkom die ekonomiese uitdagings van 2016 só
Die skrif is aan die muur – 2016 gaan een van die mees uitdagende jare vir elke Suid-Afrikaner wees. Almal – selfs die superrykes – word deur die swak ekonomiese groei, verswakkende rand, hoër rentekoerse en inflasie, asook die heersende droogte geraak.
Inge Strydom het met Dawie Roodt, onafhanklik ekonoom, gesels oor hoe individue die impak van al hierdie uitdagings op hulself en hul gesinne kan versag. Hy plaas ook die uitdagings in perspektief en besweer verskeie wanopvattings oor die land se ekonomie.
Hoër belasting (veral die beoogde styging in BTW)
Roodt meen die impak van verhoogde belasting kan teengewerk word deur so min as moontlik belasting te betaal, natuurlik binne die perke van die wet. Dit behels byvoorbeeld dat belastingbetalers al die betrokke aftrekkings waarvoor hulle in aanmerking kom in hul jaarlikse belastingopgawe aandui. Roodt meen dat die publiek, veral lede van die laer-inkomstegroep, ʼn verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) ten sterkste sal teenstaan en dat die regering dit daarom waarskynlik nie sal deurvoer nie.
Stygende rentekoerse
Volgens Roodt gaan rentekoerse nog lank stabiel bly voordat dit sal styg. “Wanneer dit uiteindelik styg, is dit belangrik om in gedagte te hou dat hoër rentekoerse voor- en nadele inhou. Die voordeel daarvan is dat mens meer rente op spaargeld en sekere beleggings sal verdien. Die nadeel is natuurlik dat premies op bestaande skuld sal verhoog. Dit is daarom ʼn goeie idee om so gou moontlik van skuld wat nie ʼn inkomste genereer nie ontslae te raak,” sê Roodt.
Die skerp styging in inflasie
Roodt meen die bespiegelings dat die koers van inflasie vanjaar tot hoër as 10% sal styg, hoogs onwaarskynlik is. Hy meen egter dat ʼn drastiese verhoging in voedsel-inflasie weens die heersende droogte beslis verbruikers se sakke sal ruk. “Verbruikers moet liefs nie probeer om hul eie groentetuine of vee te onderhou nie aangesien die koste daaraan verbonde waarskynlik hoër sal wees as om die items by ʼn supermark aan te skaf,” waarsku Roodt. Hy raai verbruikers aan om eerder hul eetgewoontes aan te pas en hul inkopielyste in te kort.
Swak ekonomiese groei
Roodt raai Suid-Afrikaanse gesinne aan om ʼn “familieplan” in te voer. So ʼn plan moet verskeie onderafdelings, waaronder ʼn maandelikse begroting, aftreebeplanning en voorsiening vir kinders se tersiêre opleiding, bevat. Die plan moet voortdurend gewysig word om by die verswakkende ekonomie aan te pas. Dit is dus belangrik dat gesinne waar moontlik koste bespaar en uitgawes verminder.
Verswakkende rand
Roodt meen lede van die hoër- en middelinkomstegroep kan hulle teen die verswakkende rand verskans deur hul beleggings te diversifiseer en toenemend na die buiteland te skuif.