Solidariteit is in 1902 gebore en sedertdien is dit ons werk om seker te maak dat ons lede gelukkig kan werk. Dit is nou 2021 en Solidariteit se missie is nog presies dieselfde. Ons werk is om seker te maak dat mense ’n goeie werk het.
In ’n chaotiese tyd soos nou is werk een van die sfere in jou lewe wat stabiliteit kan bring. Daarom het Solidariteit die Werkherstelprogram einde verlede jaar begin. Sonder kennis of opleiding is werk nie moontlik nie en daarom die sterk fokus op opleiding as deel van die Werkherstelprogram.
Daar is ’n paar groot uitdagings waarmee almal gekonfronteer word. Die eerste is die veranderende struktuur van die arbeidsmark. Die inligtingsrewolusie het tot gevolg dat kennis radikaal meer word, groot maatskappye in kleiner maatskappye opbreek, mense van werk verander en dat maatskappye op hul kernbesigheid fokus. Inkontraktering raak ’n reël, lewenslange leer raak ’n noodsaaklikheid en werkonsekerheid raak deel van ’n werknemer se bestaan.
Die tweede uitdaging is ’n verswakkende staat. Om werk in ’n werkende staat te beskerm is eenvoudiger. Die basiese infrastruktuur vir ’n werkende ekonomie word verskaf; daar is ekonomiese groei, openbare universiteite, tegniese kolleges en skole, terwyl veiligheids- en gesondheidsdienste ook bestaan. Indien die staat – soos in Suid-Afrika se geval – egter verswak, bring dit nuwe uitdagings vir ons mee.
Volgens Jim Clifton, voorsitter van die Amerikaanse meningsopnamemaatskappy, Gallup, is mense se grootste behoefte ’n goeie werk en gaan daar ’n oorlog vir goeie werk kom. Die ammunisie vir daardie oorlog is kennis en die wapentuig is kennisinstellings. In die kennisekonomie is kennis noodsaaklik. Solidariteit bou op groot skaal aan kennisinstellings om sy lede in staat te stel om doeltreffend deel te neem aan die groot oorlog vir goeie werk.
Die Solidariteit Werkherstelprogram pak die uitdagings van die nuwe arbeidsmark aan, bou nuwe instellings waar die staat verswak, en waar Afrikaans uitgeboelie word, bou ons ‘n nuwe universiteit.
Daarom brei Solidariteit sy opleidingsaanbod nog verder uit om te verseker dat sy lede, hul kinders en die breër gemeenskap waarvan hulle deel is, ook toegang tot ʼn beter en meer omvangryke onderwys- en opleidingsaanbod kry.
SOLIDARITEIT SE OPLEIDINGSAANBOD:
Akademia
Sol-tech
Kanton
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum
S-leer
Solidariteit Helpende Hand