’n Omvattende opleidingsaanbod wat strek van skool, vaardigheidsopleiding, beroepsopleiding, universiteitsopleiding tot by voortgesette leer gaan die hart van die Solidariteit Werkherstelprogram wees.
“Ons moet ons uit die Covid-19-krisis werk en leer. Volhoubare werk sonder kennis is egter nie moontlik nie. Indien ons in die kennisrewolusie op die voorpunt van werk wil wees, moet ons op die voorpunt van kennis bly. ’n Groot deel van die Solidariteit Werkherstelprogram gaan dus op kennis berus,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gaan verantwoordelikheid neem om wêreldklas Afrikaanse onderwys nou én in die toekoms te help verseker. Wolkskool het voor die inperking 5 000 kinders geregistreer en meer as 120 000 kinders na die inperking. Daar is ook aangekondig dat die SOS ’n model skool gaan bou sodat gemeenskappe in staat gestel kan word om onafhanklike skole te bou waar daar nie meer ’n openbare aanbod is nie.
Solidariteit Helpende Hand gaan verskeie vaardigheidsopleidingsprogramme saam met vennote aanbied. Bo-Karoo Opleiding gaan sy opleidingsprogram op Orania uitbrei.
Die groot nuus is dat Sol-Tech sy nuwe kampus al in Januarie 2021 betrek. Dit gaan sy vermoë meer as verdubbel. Die proses om ’n koshuis te bou het ook begin.
Akademia gaan haar eerste voltydse studente in 2021 ontvang. Meer planne is ook bekend gemaak vir die bou van Akademia se nuwe kampus wat die aankoop van sowat 220 hektaar grond buite Pretoria insluit. Die graadaanbod van Akademia gaan radikaal uitgebrei word.
S-leer neem verantwoordelikheid vir voortgesette leer.
Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum verwag om meer as R40 miljoen se studiehulp in 2021 uit te betaal.