Solidariteit se Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns het vandag sy ernstige besorgdheid uitgespreek oor die kommerwekkende feit dat nie een van die staatsgesondheidsfasiliteite in Gauteng aan die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid (OHSA) voldoen nie.
“Die flagrante miskenning van beroepsveiligheid by Gauteng se staatshospitale en -klinieke is verdere bewys dat die regering nie toegerus is om ʼn nasionale gesondheidsorgplan uit te voer nie. Hulle is nie eens daartoe in staat om die veiligheid van personeel en pasiënte in een provinsie te verseker nie,” sê Hennie Bierman, hoof van Solidariteit se Beroepsgildes.
Bierman is veral besorg oor die lede van die Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns wat in hierdie onsekere en lewensgevaarlike situasies moet werk omdat die staat geensins oor die vermoë beskik om selfs net die minimum aanvaarbare veiligheidsmaatreëls in te stel nie.
Dit volg nadat die portefeuljekomitee vir gesondheid die sluitingsdatum vir kommentaar op die voorgestelde Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering aangekondig het. Volgens Morné Malan, senior navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, dien dit as verdere aanduiding van die staat se onbevoegdheid om selfs op beperkte skaal gesondheidsorgfasiliteite te bestuur. Enigiemand wat van die veronderstelling uitgaan dat ʼn toename in die omvang van staatsbetrokkenheid by gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners noodwendig gepaard sal gaan met ʼn verbeterde vermoë om gehaltediens te lewer, is naïef of oneerlik.
“Hoewel ons die idee verwelkom dat kwaliteitgesondheidsorg toegankliker vir alle Suid-Afrikaners moet word, is ons daarvan oortuig dat die regulatoriese vaslegging en tegnokratiese beheer wat deur die NGV voorgestel word, die swakste moontlike voertuig is om hierdie doel te bereik,” het Malan afgesluit.