Suid-Afrika se rassebeleid is nou amptelik op verhoor by die Verenigde Nasies (VN) se arbeidsagentskap, die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO).
Dit volg nadat die beheerliggaam van die IAO op sy 344ste sitting in Maart vanjaar verklaar het dat Solidariteit se klagte teen die Suid-Afrikaanse regering se rassebeleid ontvanklik is. Dit beteken die klag het op sigwaarde meriete, voldoen aan die vereistes van die IAO en daar word erken dat ons alle remedies in Suid-Afrika uitgeput het. Die klag gaan nou oor tot ʼn verhoorfase. Dit is ʼn groot kompliment vir ons regspan.
In Solidariteit se klag voer hy aan dat die Suid-Afrikaanse regering ILO Konvensie nr. 111 oor diskriminasie oortree.
Die IAO se bevinding is volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, ʼn enorme deurbraak en kan die aangesig van rassekwotas vir altyd verander. Alhoewel dit ʼn reusestap vorentoe is, is die stryd nog nie verby nie.
“Dit is die eerste keer sedert 1994 dat daar nie net ʼn klag teen die regering gelê is nie, maar dat dit tot die verhoorfase oorgegaan het,” het Hermann gesê.
Die IAO het reeds aan die Suid-Afrikaanse regering geskryf dat ʼn proses van vrywillige konsiliasie tussen die regering en Solidariteit ingevolge die reëls van die IAO onder toesig van dié liggaam gevolg kan word.
Solidariteit het intussen aangedui dat hy aan so ʼn proses sal deelneem. Indien die regering nie in konsiliasie belangstel nie, moet hy voor 30 Mei vanjaar kommentaar op die Solidariteit-klag lewer. Dit sal daarna deur die IAO beoordeel word.
In die massaklag wys Solidariteit daarop dat Suid-Afrika se rassebeleid mense weer volgens ras klassifiseer, ʼn permanente karakter het en nie tot regstelling van benadeling lei nie.
Solidariteit het ook ʼn verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien wat wys dat die regering se rassebeleid ongrondwetlik is en waarin aanbeveel word dat die Wet op Gelyke Indiensneming gewysig moet word. Die verslag van die SAMRK volg ná ʼn klag wat Solidariteit by die SAMRK ingedien het. Die regering het SAMRK se aanbevelings geïgnoreer.
Die IAO is ʼn agentskap van die VN en is daarvoor verantwoordelik om internasionale arbeidstandaarde daar te stel. Altesaam 187 lande, insluitende Suid-Afrika, is lede van die IAO. Suid-Afrika het Konvensie nr. 111 wat rassediskriminasie verbied, bekragtig en is dus gebonde aan die konvensie. Suid-Afrika moet sy wetgewing ingevolge aanbevelings van die IAO aanpas. Indien Suid-Afrika dit ignoreer, kan die IAO tot diplomatieke stappe teen Suid-Afrika oorgaan en Solidariteit kan die plaaslike howe nader.
Solidariteit het op 5 Oktober 2021 ʼn massaklag teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies se Internasionale Arbeidsorganisasie en die Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) in Genève gelê. Solidariteit het ook verskeie klagtes by Europese parlemente ingedien. Ná afloop van Solidariteit se VN-besoek het afvaardigings uit Nederland en Hongarye Suid-Afrika besoek om verdere inligting te bekom.