Deur Reon Janse van Rensburg
Solidariteit het die aankondiging van die regering se plan om die kragkrisis in Suid-Afrika aan te pak, verwelkom. Volgens Solidariteit is die plan, wat talle van Solidariteit se onlangse voorstelle eggo, ʼn benoude sprong in die regte rigting.
Die verwelkoming volg nadat president Ramaphosa Maandagaand (25 Julie) Suid-Afrika toegespreek het en genoem het dat Suid-Afrika ʼn tweeledige strategie moet implementeer om die kragkrisis die hoof te bied wat die land reeds vir langer as ʼn dekade lamlê en wat Suid-Afrikaners veral oor die afgelope vyf weke verhinder het om die ekonomie aan die gang te hou. Die tweeledige plan sluit in om die vermoë te skep om die huidige tekort aan elektrisiteit die hoof te bied en beurtkrag onmiddellik te beperk en om dringend broodnodige kapasiteit vir die lang termyn te skep om sodoende beurtkrag in die Suid-Afrikaanse geskiedenisboeke in te skryf.
Die regering se planne om die kragkrisis op te los sluit die volgende aspekte in:
Verdere planne deur die regering sluit ook die volgende in:
Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het Solidariteit die sogenaamde “common sense”-regulasies verwelkom. Hy voer aan dat verskeie van die regulasies wat in die regering se plan ingesluit is om die kragkrisis op te los, afkomstig is uit die verslae wat onlangs deur die SNI saamgestel is. Mulder voer verder aan dat Solidariteit wel jammer is dat hierdie plan, waarvan talle aspekte as “common sense” beskou moet word, na 15 jaar eers die lig sien en nou eers in regulasies omskep word.
Mulder voer aan dat Solidariteit se fokus nou skuif na die fyn monitering van die implementering van hierdie regulasies wat aangekondig is.
“Ons wil doodseker maak dat die regering daarby gaan hou dat hulle uit die pad van die private en ook die gemeenskapsektor gaan skuif om Suid-Afrikaners toe te laat om hierdie krisis op te los sodat Suid-Afrika na ʼn toekoms kan aanbeweeg waar energiestabiliteit aan die orde van die dag is en die ekonomie weereens in ʼn posisie is waar groei kan plaasvind.” – Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut
Volgens dr Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, moet enige plan, ongeag hoe goed, steeds behoorlik geïmplementeer word. Hy voer aan dat baie van hierdie voorstelle wat deur die regering gemaak is, loodreg teen die regering se staatsgesentreerde DNA indruis en dat die regering in die versoeking sal wees om terug te val na die uitgediende model wat hulle tans volg.
Solidariteit hou die regering met valkoë dop om seker te maak dat die regering hierdie beloftes nakom.
Bronne:
Ramaphosa’s plan to end load shedding in South Africa – https://businesstech.co.za/news/energy/610432/ramaphosas-plan-to-end-load-shedding-in-south-africa/
Cyril se kragplan: 10 dinge wat jy moet weet – https://www.netwerk24.com/netwerk24/sake/energie/cyril-se-kragplan-10-dinge-om-te-weet-20220725