Solidariteit se Regsgilde het vandag sy kommentaar op die voorgestelde SEB-kodes vir die regsberoep ingedien. Die gilde staan die voorgestelde kodes wat SEB-regulasies op privaat praktyke wil afdwing, teen.
Volgens Solidariteit behoort gelykheid nie met staatsinmenging in die vorm van van wetgewing afgedwing te word nie. Meer as 80% van regsfirmas in Suid-Afrika word deur enkelpraktisyns bestuur. Sodanige wetgewing sal vir hierdie firmas noodlottig wees.
“Enige voorstel dat regstellende aksie meganies toegepas kan word, moet verwerp word,” sê Henru Krüger, sektorhoof van die professionele gilde by Solidariteit. “Wat die regering nou doen is om regulasies op ʼn sektor te wil afdwing wat homself kan reguleer. Verder staar die staat hom weereens vas in kwotas eerder as om die werklike behoefte raak te sien en die huidige situasie binne gemeenskappe realisties te beoordeel.”
In sy kommentaar voer Solidariteit aan dat maatreëls wat daarop gemik is om diskriminasie uit die verlede te herstel met die nodige omsigtigheid geformuleer moet word om nie die waardigheid van alle betrokkenes onnodig aan te tas nie.
“Regstellende aksie moenie as straf of vergelding ingestel word nie. Die Regspraktisynsraad moet daarteen waak dat die stappe wat gedoen word om gelykheid te bevorder, nie die waardigheid van individue skend nie. Gelykheid kan onmoontlik bevorder word wanneer regulasies onbillik en sonder insig afgedwing word,” sluit Krüger af.
Lees die kommentaar hier.