Solidariteit het vandag sy dringende regsproses namens dr. Bianca Lucas teen die departement van gesondheid begin. Dit volg nadat die departement versuim het om die jong dokter, na afloop van haar studies, by enige mediese sentrum of hospitaal te plaas.
“Dit is verregaande dat die staat jong dokters sal verplig om deur ʼn proses te gaan wat die staat dan as gevolg van hul eie onbevoegdheid vertraag. Daar word van dokters verwag om na afloop van jare se studies bykomende internskappe en gemeenskapsjare te voltooi. Tog kan mens nie eens op die regering staatmaak om die basiese plasing binne hierdie stelsel te bestuur nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit.
Solidariteit het vandag ʼn aanmaning aan die departement van gesondheid gestuur waarin hul eis dat dr. Lucas geplaas word. Die departement is met verdere regsaksie gedreig wat die algehele stelsel ingrypend sal hersien.
“Dit is tyd dat die staat erken dat hy nie die administratiewe mas kan opkom wat hy vir homself gestel het nie. Hy moet afstand doen van sy beheer en die stelsel desentraliseer sodat die privaat sektor kan toetree om internskappe te fasiliteer. Op hierdie manier kan jong dokters die geleentheid kry om hul gemeenskapsjare te voltooi en tot die arbeidsmark wat juis ʼn tekort ondervind, toetree. Ons sal voortgaan om ons saak te voer om sodoende die departement te dwing om sy verpligtinge teenoor dr. Lucas na te kom,” sluit Van der Bijl af.