Deur Reon Janse van Rensburg
Die kredietagentskap Moody’s Investor Service het Suid-Afrika op 1 November beoordeel en die land se vooruitsigte tot negatief laat krimp. Dit volg op die begrotingsrede van die Minister van Finansies, Tito Mboweni, wat toon dat die regering se finansiële situasie vinnig versleg het. Suid-Afrika is tot ’n Baa3-gradering afgegradeer.
’n Baa3-gradering word deur Moody’s gebruik vir langtermyneffekte en ander beleggings.Baa3 is onderaan beleggingsgraderings, maar is ook slegs een graad hoër as rommelvlak. Belanghebbende beleggers moet dus versigtig wees in Baa3-beleggings, veral as die gradering onlangs verlaag is.
Die meeste finansiële ontleders wat Suid-Afrika se finansiële sektor volg en ontleed, verwag dat die land sy finale beleggingsgraad sal verloor; trouens, die meeste meen dat dit eintlik reeds moes gebeur het. Die ontleders stem egter nie saam oor wanneer dit wel gaan gebeur en wat die gevolge daarvan sal wees nie.
Volgens die mees pessimistiese uitkyk of verwagting sal die afgradering meer as $10 miljard se uitvloei veroorsaak en die rand tot sy laagste vlak in bykans vier jaar laat verswak, terwyl ander ontleders meen dat beleggers reeds ‘ n afgradering ingeprys het en dat Suid-Afrikaanse bates in die nasleep selfs kan styg. Die verhoogde risiko kan gevolglik hoër opbrengste beloof, wat vir sommige beleggers aanloklik kan wees.
Suid-Afrika het dus nou sy laaste kans gekry. Dit beteken dat die risiko vir ’n amptelike afgradering binne 18 maande nou ongelooflik hoog is.
Waarom is dit dan juis ’n probleem?
Indien Suid-Afrika se gradering tot rommelstatus verlaag word, sal dit veroorsaak dat verskeie indekse van buitelandse staatseffekte volgens regulasies nie in Suid-Afrika mag belê nie.
Dit is kommerwekkend omdat buitelandse beleggers tans 37% of R780 miljard van Suid-Afrika se randgenomineerde staatseffekte hou. Dit beteken dat Suid-Afrika se kredietstatus met betrekking tot ons plaaslike geldeenheid in gedrang is en nie Suid-Afrika se skuld in buitelandse valuta nie.
Die eerste uitwerking wat rommelstatus inhou, is dat die randgenomineerde staatseffekte nie meer op die FTSE Wêreldstaatseffekindeks (WSEI) sal wees nie. Hierdie indeks bevat min of meer $3 000 miljard beleggings en werk met 14 geldeenhede, volgens die Bank of New York Mellon (BoNYM).
Dit is dus in die Suid-Afrikaanse regering se belang om Moody’s reg te bewys omdat Moody’s die laaste van die drie groot kredietgradeerders is wat Suid-Afrika nog nie tot rommelstatus afgegradeer het nie, terwyl S&P en Fitch dit reeds gedoen het.
Daniel Tenengauzer, hoof van markstrategie by BoNYM, is baie meer pessimisties en voorspel dat tussen $8 miljard en $12 miljard die land sal uitvloei as Suid-Afrika sy plek op die WSEI sou verloor.
Suid-Afrika is meer as 12 jaar laas opgegradeer deur Fitch Ratings, ’n toonaangewende verskaffer van kredietgraderings, kommentaar en navorsing.
Hierdie probleem word vererger deur ’n hoë vlak van werkloosheid, groot ongelykhede in inkomste, en maatskaplike en politieke uitdagings wat die gevolge is van slegte beleide. Dit blyk ook dat die struikelblokke wat Suid-Afrika in die gesig staar, veral vir die regering se planne om potensiële ekonomiese groei te verhoog, groter is as wat ’n jaar gelede voorspel is
Die land bestee etlike miljarde aan Eskom, die kragvoorsiener wat opgesaal is met R450 miljard skuld. Gereelde kragonderbrekings het veroorsaak dat die ekonomiese uitsette in die eerste kwartaal die meeste in ’n dekade gekrimp het, en dit het veroorsaak dat die tesourie sy groeivooruitsigte vir hierdie jaar tot 0,5% verlaag het.
Dit is veral Eskom wat steeds aansienlike en deurlopende steun van die regering benodig. Die ontwikkeling van ’n geloofwaardige fiskale strategie om die toename in skuld te stuit, insluitend in die 2020-begrotingsproses, sal van uiterse belang wees om die gradering op sy huidige vlak te handhaaf.
“As regering is ons daartoe verbind om die nodige instaatstellende omgewing te skep sodat ondernemings kan groei. Ek doen ’n beroep op die beleggersgemeenskap om die klimaat van hervorming wat die kontinent beleef, te benut en voordeel daaruit te trek,” het president Cyril Ramaphosa tydens die Financial Times Africa Summit in Londen gesê.
Ramaphosa het ook aangekondig dat daar oor die volgende vyf jaar meer as 400 000 werkgeleenthede geskep gaan word.
’n Mens kan egter nie anders as om te wonder hoe dit gedoen sal word indien Suid-Afrika minder aanloklik raak vir buitelandse beleggers en ook sit met staatsamptenare wat nie hul verantwoordelikhede ernstig opneem nie. Dit is tyd dat die Suid-Afrikaanse regering in sy eie agterplaas inklim en behoorlik skoonmaak sodat Suid-Afrika die nodige beleggers lok waarby elke Suid-Afrikaner kan baat. Die tyd van nou of nooit is op ons voorstoep. Die vraag bly egter of die regering die voordeur gaan oopmaak.