Die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns wou onlangs van die publiek weet wie Suid-Afrika se grootste gesondheidsamaritaan is. Dit het aan lede van die publiek die geleentheid gegee om hul stem te laat hoor oor watter gesondheidspraktisyn hulle meen die erkenning daarvoor moet kry.
Gesondheidsamaritane is daar wanneer ons die beste en slegste tye in ons lewens beleef. Hulle help om ons as babatjies in die wêreld te bring en hulle druk ons oë vir oulaas toe. Hulle is daar wanneer ons gestroop voel van ons waardigheid. Hulle behandel ons met begrip, sonder oordeel of ongeduld. Hulle is ware Samaritane – jou dokter, klinieksuster, terapeut of sielkundige; jou tandarts, oogarts, spesialis, die paramedikus of verpleegster.
In fase een van die toekenningsproses het honderde lede van die publiek mense wat in hul oë Samaritane is, genomineer en elkeen het ʼn unieke storie om te vertel. Lede van die publiek wat nominasies ingedien het, het die kans gestaan om een van twee pryse – ʼn vakansie of R10 000 kontant – te wen. Die wenners van hierdie kompetisie is nou getrek:
Die wenner van die seevakansie is: Mari-Louise Carstens
Die wenner van R10 000 is: Alida Smit
In die volgende fase van die toekenningsproses deel ons graag van die stories wat die publiek in die nominasieproses met ons gedeel het. ʼn Onafhanklike paneel word binnekort aangewys om die vyf Samaritaanfinaliste aan te wys wat ons in September gaan vereer.
* Die nominasiewenners is onafhanklik en ewekansig getrek uit al die nominasies wat ontvang is. Die gesondheidspraktisyns wat deur die betrokke nomineerders genomineer is, is nie noodwendig ʼn finalis in die toekenningsproses nie. Die laasgenoemde finaliste word deur ʼn onafhanklike paneel aangewys.
Waarom het jy hierdie gesondheidspraktisyn as Samaritaan genomineer?
Mari-Louise Carstens het haar plaaslike dokter (algemene praktisyn) vir die toekenning genomineer op grond van haar deernis, vriendelikheid, vasberadenheid en “hart van goud”. “Sy (genomineerde gesondheidspraktisyn) is sommer ʼn dokter en ʼn sielkundige alles in een. ʼn Mens kan oor alles met haar praat en sy het goeie raad. Ek’s baie dankbaar dat ek daardie stukkie goud in die Swartland kon kry,” vertel Mari-Louise.
Alida Smit het ook haar jare lange algemene praktisyn vir die toekenning genomineer op grond van sy deeglike diagnoses en advies, asook vir sy vriendelike en onmiddellike bystand in noodsituasies. “Die dokter het my in 2000 met pulmonêre embolisme gediagnoseer, en danksy sy vinnige optrede het ek betyds die korrekte behandeling ontvang. Die verkeerde diagnose kon noodlottig gewees het, aangesien die behandeling van pulmonêre embolisme onmiddellik en korrek moet wees. Dit is dus danksy sy vinnige optrede dat ek dit oorleef het. Hierdie voorbeeld is maar een van die duisend stories wat oor dié spesiale dokter te vertel is,” skryf Alida.
Wat is ʼn gilde?
Die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns is ʼn helpmekaargemeenskap wat gesondheidspraktisyns in Suid-Afrika help om in hul loopbane vry, veilig en voorspoedig te wees. Die gilde help jongmense om dié spesifieke beroepsrigting te betree, is ʼn waghond vir die bedryf en help praktisyns met persoonlike ontwikkeling deur voortgesette opleiding te verskaf. Die gilde lê veral klem op meesterskap – nie net in lede se onderskeie dissiplines nie, maar ook in die gemeenskap. Dit is juis daarom dat die Gesondheidsamaritaan-kompetisie aangepak is – om buitengewone meesterskap en roepingsgedrewenheid onder gesondheidspraktisyns te beloon.
*Gesondheidspraktisyns se name mag ingevolge wetgewing nie gepubliseer word nie. Skuilname is gebruik.