Solidariteit is verheug om aan te kondig dat die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) sy eerste paaiement aan MEDiPOS, die mediese fonds vir werknemers by die poskantoor, betaal het. Dit volg nadat Solidariteit gedreig het om regstappe teen die instelling te doen om hom te dwing om sy agterstallige statutêre verpligtinge na te kom.
“Dit is ʼn groot oorwinning vir ons lede, alhoewel dit slegs tydelike verligting bied. Werknemers is nou daarvan verseker dat hulle vir die voorsienbare toekoms steeds lede van MEDiPOS sal wees, en dat hul mediese dekking nie teen 1 Januarie opgeskort gaan word nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit. “Ons berus egter nie hierby nie en soek na ʼn permanente oplossing waar betalings gereeld soos volgens dienskontrakte sal geskied.”
Solidariteit stel dat hy nie sal skroom om verdere litigasie teen Sapo te voer totdat alle agterstallige fondse oorbetaal is en werknemers permanente gerusstelling het dat hulle toegang tot hul mediesefondsvoordele het nie.
“Solidariteit sal bly veg vir die belange van sy lede en sal voortgaan om druk op Sapo te plaas om sodoende ʼn oplossing te vind om alle agterstallige betalings in te haal en te verseker dat Sapo nie weer versuim om sy kontraktuele verpligtinge teenoor sy werknemers na te kom nie,” sluit Van der Bijl af.