Solidariteit het die optrede van Senwes tydens onderhandelinge tussen vakbonde en verskeie werkgewers wat deel van die Graanbedingingsraad vorm, ten sterkste veroordeel.
Riaan Visser, adjunkhoofsekretaris van Mynbou, Landbou en Sement by Solidariteit verduidelik: “Ons is uiters teleurgesteld in Senwes se gedrag. Ons kon alreeds tot ʼn vergelyk kom met alle ander werkgewers in die bedingingsraad, maar Senwes weier om in goeie trou te onderhandel. Ons is nie te vinde vir staak as ʼn algemene reël nie, maar onderhandelinge het dooie punt bereik en die bedingingsraad is in proses tot uitreiking van sertifikaat en ons sal ons raad aan lede dienooreenkomstig aanpas indien Senwes voortgaan met hul halsstarrige en hardkoppige gedrag.”
Solidariteit beskuldig Senwes daarvan dat hul deurlopend eensydig hul aanbiedinge wysig en werknemers wat dwarsdeur die inperkingstyd moes werk om kos op Suid-Afrikaners se tafels te sit nou ontneem van billike behandeling deur hul werkgewer.
“Verhogings wat aanvanklik aangebied is, is later verlaag en toe heeltemal weggeneem. Dit is ondenkbaar dat ʼn werkgewer getroue werknemers sal straf nadat hulle uitstekend presteer het midde in ʼn krisis. Dit is gewoon ʼn klap in die gesig vir ons lede en ons kan dit nie duld nie. Ons eis niks besonders nie. Ons verwag wel dat werkgewers, soos Senwes, met ʼn minimum drempel van redelikheid en ordentlikheid sal onderhandel,” sluit Visser af.
“Solidariteit dring aan dat Senwes terugkeer na die onderhandelingstafel in ’n poging om die dooie punt te bemiddel.”