Suksesvolle kultuurgemeenskappe benodig gesonde, stabiele en florerende onderwys en beroepsopleiding. Daarom het Solidariteit sedert 2010 al begin dink, droom en bou aan die idee van Akademia – om ʼn onafhanklike akademiese tuiste vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe daar te stel. Ná twee jaar se beplanning en ontwikkeling ontvang dié instelling op 3 Januarie 2012 die nuus dat Akademia suksesvol geregistreer is as ʼn privaat hoëronderwysinstelling. Akademia laat nie op haar wag nie en verwelkom slegs twee maande later 42 studente vir studie in vyf programme.
Gesien in die konteks van die tyd was hierdie projek versiende – openbare universiteite soos die Puk, Maties, Kovsies, en Tuks het in daardie stadium steeds Afrikaans as primêre onderrigtaal gebruik. Min het ons geweet dat universiteite sou wegskram van Afrikaans as onderrigtaal en dat Akademia juis ʼn selfs belangriker rol in die universiteitswese sou speel.
Hoekom die reusetaak aanpak om ʼn Afrikaanse universiteit te bou? Talle kenners en denkers het al aangevoer waarom gemeenskappe ʼn eie universiteit vir suksesvolle voortbestaan moet hê. ʼn Eie universiteit gebeur nie vanself nie, en dit is ons verantwoordelikheid om as gemeenskap ʼn selfstandige universiteit wat in ons moedertaal bedryf word op die been te bring. Sodoende kan ons jongmense ongesteurde toegang tot opleiding van wêreldgehalte in ʼn vriendelike en veilige omgewing ontvang.
Vandag is ons baie dankbaar dat Akademia reeds sedert 2012 met klasse begin het. Nou, amper ʼn dekade lank aan die gang, groei Akademia teen ʼn snelle pas en word dié instelling se aanbod jaar na jaar groter en beter. Vanaf 2021 word twaalf kwalifikasies oor vier fakulteite in die nauurse onderrigleermodel aangebied. Hierdie model span die jongste onderrigleer- en kommunikasietegnologie in ter ondersteuning van studente, en is veral aantreklik vir werkendes wat wil studeer.
ʼn Bykomende aanbod word vir 2021 in die vooruitsig gestel. Studente sal vanaf aanstaande jaar voltyds in hul moedertaal op die nuutingerigte Centurion-kampus kan klasdraf. Hier gaan hulle aan ʼn lewenskragtige studentelewe kan deelneem wat tot die groei en ontwikkeling van hul menswees bydra.
Akademia se toekomsplanne is belowend en ʼn omvattende residensiële kampus gaan die lig in die toekoms sien. Hier sal 5 000 voorgraadse en 2 000 nagraadse studente op ʼn pragtige kampus in Pretoria kan studeer. Die ontwikkeling van kwalifikasies oor sewe fakulteite is tans aan die gang, met die uiteindelike doel om ʼn volledige programaanbod oor verskeie dissiplines aan te bied.
Akademia beoog nie om bloot die universiteitswese wat baie van ons en ons ouers geken het, te laat herleef nie, maar om selfs nóg meer as dit te bereik. Ons voorsien ʼn universiteit wat nie net wêreldklas-opleiding aan ons gemeenskap bied nie, maar ook die klassieke rol van die universiteitswese vervul – om jongmense tot intellektuele, emosionele en lewensbeskoulike volwassenheid te bring. Akademia werk onophoudelik in geloof, hoop en liefde om dít vir ons gemeenskap tot stand te bring. Só vestig ons ʼn vernuwing in die Afrikaanse universiteitswese.