Tydens die amptelike inhuldiging van die nuwe Sol-Tech-kampus in Monumentpark, Pretoria is daar ook iets besonders onthul wat hierdie historiese dag altyd sal bybly.
ʼn Standbeeld is onthul as simbool van die inwyding van die Sol-Tech-kampus. Hierdie standbeeld is onthul deur die persone wat van dag een af betrokke was by Sol-Tech se ontwikkeling, naamlik Flip Buys, dr Dirk Hermann, Marthinus Visser, Henk Schalekamp en Paul van Deventer.
Die oorspronklike 1,5 ton klip waarop die beeld geplaas is, is tydens die grondwerk van Sol-Tech geïdentifiseer, uitgegrou en bewaar, juis vir hierdie rede.
11 jaar gelede is die Beiteltjie-gedig in ʼn video gebruik vir bewusmaking oor die kampus. Omdat die beitel so kragtig is en die mag van die ambag uitbeeld, het Sol-Tech besluit om die beitel uit te beeld in ’n standbeeld wat sentraal tot die kampus is.
Hierdie besonderse beitel-standbeeld, geskep deur die beeldhouer Jacques Müller, is die vergestalting van die ryke erfenis en toekoms van Sol-Tech.
Jacques Müller se loopbaan in die beeldende kunste het in 1998 begin by die School for Creative Arts in Centurion, Pretoria. Hy het sy studie in Beeldende Kunste aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) voortgesit. Hy ontvang sy nasionale B.Tech-beeldende kuns-diploma en word kort daarna ʼn voltydse professionele kunstenaar.
Sy werk is in verskeie versamelings in Suid-Afrika, Australië, Italië en die VSA opgeneem.
Die volgende teks is op die plaat by die beeld saam met die gedig geskryf:
ONS BOU
Hierdie werk is deur NP Van Wyk Louw se gedig, getiteld “Die Beiteltjie” geïnspireer.
ʼn Paar brons hande is op drie granietkolomme geset. Met hamer en beitel word daar in geloof ʼn toekoms vir gemeenskap, taal en kultuur uitgebeitel.
Die hande is grof, onafgerond en ferm – ambagshande wat ken van hard werk. Hulle werk nie net vir hulleself nie, maar bou voort op wat hulle ontvang het vir dié wat na hulle kom.
Hierdie drie steunpilare is van die oorspronklike graniet waarmee die Voortrekkermonument gebou is – met ambagshande vir Afrikaans.
Die rots is op die Sol-Tech-kampus uitgegrawe en is simbolies van die Rots waarop ons ons instellings bou.
Net soos die boustene van hierdie majestueuse Monument, hou hierdie stukke Afrika-aarde ons steeds geborge en gegrond.