Sol-Tech het onlangs groot opslae in die media gemaak met sy splinternuwe kampus. Vandag is die groot dag waarop die publiek ook kan sien wat die joernaliste eerstehands beleef het met hul besoeke om oor hierdie lewende monument te kan berig.
As jy nog nie jou toer van die kampus meegemaak het nie, gaan loer nou.
As gevolg van regulasies weens die Covid-19-pandemie is slegs ʼn paar mense na Sol-Tech se Skoudag genooi waar ʼn verrassing onthul is. Daar is ook ʼn spesiale toer deur die hele kampus aangebied. Oudergewoonte doen instellings van die Solidariteit Beweging dinge op ʼn ander vlak en vandag het weereens nie teleurgestel nie.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het hierdie groot dag op die regte manier begin met die volgende woorde: “Ons open nie uit gewoonte met die Woord van die Here nie, nee, ons wil hoor wat Hy vir ons op hierdie dag sê as ons soveel jare se beplanning, se werk, se genade in oënskou neem. En ja, ons wil bid dat Hy dit mag seën soos Hy dit tot hier geseën het, en ons wil nederig ons pad wat voorlê voor Hom bring en ons wil dankie sê dat Hy tot nou toe sy hand oor ons gehou het.”
“Hannes het in sy treffende opening na die 12 onthou-klippe verwys wat die volk met hulle moes saamdra. Ons is egter vandag so bevoorreg om nie net deur 12 klippe herinner te word nie, maar deur 1,3 miljoen klippe – boustene wat ons herinner aan wat dit gekos het om tot hier te kom, Wie ons tot hier gebring het en waarheen ons op pad is,” verduidelik Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech.
Vinnige feite:
“Hierdie hele kulturele bouplan is aangepak om dit vir Afrikaners moontlik te maak om vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika te kan leef. Dit is ʼn manier om ʼn blywende bydrae te kan maak. As ek praat van kulturele infrastruktuur, bedoel ek nie om iemand apart te hou of om ander uit te sluit nie,” verduidelik Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. “Dit is juis om dit moontlik te maak om saam te kan bly. Dit is soos ʼn huis wat jy bou. Jy bou nie jou huis om jou bure uit te sluit nie; inteendeel, jy bou dit om saam met hulle in ʼn buurt te kan bly.”
Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, vul aan deur te sê: “Hierdie kampus is ʼn merkwaardige prestasie vir die gemeenskap. Dit is ʼn tasbare resultaat van waartoe ʼn gemeenskap in staat is as hy sê: ‘Ons sal self.’ Ons vier hierdie mylpaal vandag saam met elke lid en skenker wat tot hierdie mylpaal bygedra het en ons is saam met hulle trots daarop. Ons jongmense is veerkragtig. Al wat ons moet doen, is om te sorg vir wind onder hul vlerke. Hierdie kampus en Sol-Tech is die wind onder ons jongmense se vlerke – kom kyk gerus,” sluit Hermann af.
Nasionale Ambagdag is hier, elke jaar op 26 Maart
Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het tydens die Sol-Tech Skoudag dié nuwe nasionale dag spesiaal vir ambagslui bekendgestel. Nasionale Ambagdag sal voortaan opgedra word aan al die ambagsmanne en -vroue van Suid-Afrika. Daar sal elke jaar op hierdie dag ʼn ambagsman of -vrou aangewys word as die “Jou Yster” en met die Jou Yster-toekenning vereer word.
“Die hart van die ambag klop in die geskiedenis van Suid-Afrika, en daarom is dit nodig om hierdie dag in te stel,” verduidelik Hermann.
Die heel eerste wenner van die Jou Yster-toekenning is Leon van Wyk, ʼn meester-ambagsman wat met ywer terugploeg in sy ambaggemeenskap. Die toekenning word deur Solidariteit se Ambaggilde gemaak. Solidariteit het onlangs besluit om ʼn netwerk van gildes te stig waardeur Solidariteit mense in hul beroepe gaan ondersteun, en hierdie toekenning is een van die eerste maniere waarop die Ambaggilde mense in ʼn ambagberoep vereer en ondersteun.