Die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns het die publiek onlangs gevra om Suid-Afrikaanse gesondheidspraktisyns, wat onder moeilike omstandighede steeds ʼn verskil in Suid-Afrika maak, te help identifiseer.
Ván die mense wat as gesondheidsamaritane genomineer is se stories is reeds met lesers gedeel, maar een van die gevierde Samaritane wie se storie nog met lesers gedeel moet word, is dié van dr. Ryan*.
Thelma Bodenstaff se storie is regtig ʼn geval van om jouself op die regte plek, op die regte tyd te bevind. Danksy hierdie sameloop van omstandighede is haar broer, Frans Bodenstaff, se lewe op 23 Januarie 2017 gered.
“My broer het aan die einde van 2016 hartversaking en endokarditis opgedoen en was van toe af aan in die hospitaal. Dr. Ryan, ʼn Pretoriase hartspesialis, het my broer in Januarie 2017 begin behandel,” vertel Thelma.
Hier is die Bodenstaffs se storie:
In die loop van die naweek van 22 Januarie 2017 het Frans ʼn angiogram by die hospitaal ondergaan en het die Sondagmiddag verneem hy moet die volgende oggend ʼn noodoperasie ondergaan. My broer is oorgeplaas na die hospitaal waar dr. Ryan opereer en ook sy eie praktyk het.
Dr. Ryan het ʼn drieledige hartomlyning sowel as ʼn hartklepvervanging gedoen. Frans het ʼn titaan-hartklep gekry. Nadat Frans uit die teater gekom het, het dr. Ryan moeite gedoen om die operasie in besonderhede aan my te verduidelik en ons te laat verstaan presies wat alles gedoen is. Hy het ook gesê dat as hy nie die operasie op daardie selfde dag nog gedoen het nie, my broer ʼn fatale hartaanval sou gekry het.
Vir drie weke lank was Frans se toestand kritiek. Die endokarditis waaraan hy voor die operasie gely het, het sy liggaam geweldig afgebreek.
Hoe ernstig was die operasie?
“Soos ek verstaan, het hulle my broer ʼn paar keer in die teater amper verloor en moes daar vir sy lewe geveg word,” vertel Thelma. Dr. Ryan was ure lank in die teater, maar hy het nooit moed opgegee nie en het ons die heeltyd verseker dat my broer sterk saam veg.”
As julle as familie ʼn boodskap vir dr. Ryan kon gee, wat sou dit wees?
Ons as familie, maar spesifiek ek en my ma, waardeer die persoonlike aandag wat dr. Ryan aan my broer gegee het. Hy het werklik “VVIP”-behandeling van dr. Ryan ontvang. Dr. Ryan het ons altyd laat inkom as dit slegter gegaan het. Hy het ons dan ook altyd die versekering gegee dat ons moet weet my broer is in goeie hande en dat hy as dokter nou alles in sy vermoë gedoen het, maar dat ons moet bid vir Frans, want net gebede kon hom in daardie stadium deurdruk. Wat ek ondervind het in die maand wat my broer in die intensiewesorgeenheid was, is dat dr. Ryan werklik ʼn pad met my broer as sy pasiënt geloop het. Hy het ons telkens verseker dat Frans daar gaan uitstap. Die behandeling ná die operasie was uitmuntend en alle eer en lof gaan aan dr. Ryan daarvoor. Hy het my broer se lewe vir ons gespaar. Hy is ʼn briljante dokter en ʼn absolute aanwins vir enige hospitaal in die land.
Danksy die suksesvolle operasie en dr. Ryan se sorg is Frans vandag een honderd persent gesond en sy hart werk perfek. Hoewel hy nog op die herstelpad is, is hy al sedert die einde van April terug by die werk.
Die doel van die nominasieproses was om uit die mond van Suid-Afrikaanse gemeenskappe spreekwoordelike Gesondheidsamaritane te identifiseer. Dit is praktisyns wat die ekstra myl vir hul pasiënte loop en boonop ʼn hart vir die gemeenskap het. Die Gilde gaan later vanjaar uit die nominasies wat ontvang is vyf gesondheidspraktisyns met die Gilde se Gesondheidsamaritaan-toekenning vereer. “Gesondheidspraktisyns in Suid-Afrika verdien erkenning omdat hulle onder ongelooflike moeilike omstandighede werk en binne ʼn hoogs gereguleerde, dog onstabiele gesondheidsorgsektor stabiliteit vir hul pasiënte gee,” sê Moira-Marie Kloppers, bestuurder van Solidariteit se beroepsgildes.
*Skuilnaam is gebruik