Solidariteit het vandag tydens ʼn mediakonferensie bekendgemaak dat hy hofstukke op die Universiteit van die Vrystaat (UV) beteken het in verband met dié universiteit se omstrede beleid om studente en werknemers te verplig om die Covid-19-inenting te kry.
Solidariteit het ook tydens die konferensie sy planne aangekondig om verskeie ander hofsake oor die verpligting van inentings in die werkplek aanhanging te maak. Volgens Solidariteit sal sy eerste saak teen die organisasie vir werkgewers in klein Suid-Afrikaanse ondernemings, SEESA (“Small Enterprise Employers of South Africa”), op 27 Januarie in die arbeidshof in Johannesburg aangehoor word.
“Op die oomblik word die Suid-Afrikaanse arbeidsmark gekonfronteer met ʼn geweldige onsekerheid oor of werkgewers hul werknemers, of selfs universiteite hul studente, kan verplig om die inenting te neem. As gevolg hiervan sien ons hoe tientalle werkgewers hierdie onsekerheid uitbuit en dit as ʼn verskoning gebruik om werknemers af te dank sonder om die regte prosedures te volg,” verduidelik dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Hierdie situasie word vererger deur ons regering wat deurlopend weier om duidelike rigting in hierdie verband aan te dui. Intussen sien ons hoe werknemers oral in Suid-Afrika se regte en lewensbestaan bedreig word. Dit kan nie so aangaan nie. Ons moet regsekerheid verkry.”
Solidariteit verduidelik dat hy in die laaste maand meer as 300 regsnavrae oor verpligte inenting vanaf sy lede ontvang het.
Volgens Solidariteit sal enige vorm van “kombersbenadering” wat nie die unieke situasie van individuele werknemers of studente in ag neem nie, onwettig maar ook onwenslik wees.
“Daar lê reusegevaar in ʼn bestel waarin die regering of ander liggame inentings verpligtend maak en daardeur mense se regte beperk. Geen staat behoort oor sulke mag te beskik nie – veral nie een wat reeds so baie van sy bevolking se vertroue geskend het nie,” sê Hermann. “Op ʼn praktiese noot sien ons ook dat verpligting nie goed is vir ʼn langtermyn-inentingsprogram nie. Dit skep weerstand, verbreek vertroue en vernietig verhoudings. Internasionale tendense wys ook dat lande wat suksesvol was met hul inentingsprogram, nie inentings verpligtend gemaak het nie, veral nie in die werkplek nie. Suid-Afrikaners word al hopeloos te lank in die donker gehou. Die onsekerheid knou ons ekonomie en ons gemoedere. Daar moet drasties tot aksie oorgegaan word.”