Solidariteit bring hofaansoek om die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf te red

Dinsdag, Desember 13th, 2016

 

Solidariteit het vandag hofstukke op alle belanghebbende partye beteken om die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf (“MEIBC”) onder kuratorskap te laat plaas om dit sodoende van ondergang te probeer red.

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, moes die vakbond nou ingryp om te red wat te redde is. “Die langdurige wanbestuur van die MEIBC is gekenmerk deur groot finansiële ongerymdhede, plundery en onderlinge politiekery. Dit het die MEIBC op sy knieë gedwing totdat die punt bereik is waar basiese verantwoordelikhede nie meer nagekom kan word nie.”

Solidariteit nader die arbeidshof vir ʼn bevel dat ʼn kurator/trustee met omvattende besigheidsreddingsmagte aangestel word om te poog om die MEIBC se sake reg te ruk. Volgens Croucamp is hierdie stap nie net in die belang van Solidariteit se lede nie, maar in die belang van die bedryf in die geheel. “Ordelike kollektiewe bedinging en dispuutresolusie staan sentraal tot die stabiliteit van die bedryf. Verantwoordelike rolspelers in die bedryf moet saamwerk om dit te beskerm.”

Croucamp verduidelik dat die MEIBC agterstallige skuld het wat die bedingsraad nie kan delg nie. “Weens uitstaande fooie van meer as R2 miljoen aan Tokiso het dispuutresolusie in die bedryf feitlik tot stilstand gekom. Gewone mense se dispute word eenvoudig nie aangehoor en afgehandel nie.”

Verskeie versoeke wat tot die minister van arbeid gerig is om in te gryp, het volgens Croucamp op dowe ore geval. “Die minister het eenvoudig verskeie skrywes wat die haglike toestand van die raad se finansies raad sowel as die wanbestuur daarvan uiteensit, geignoreer,” voeg Croucamp by.

Solidariteit hoop dat die kurator/trustee wat aangestel sal word die raad weer op koers sal kan kry en die verlammende greep waarin dit is, sal kan breek. “Die kurator word drie maande gegun om sake om te draai. Indien dit nie moontlik is nie, kan finale likwidasie die MEIBC gedurende 2017 in die gesig staar,” het Croucamp verduidelik.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Hoeveel Nico’s nog?
  Solidariteit veroordeel die doodsdreigemente wat Nico Viljoen, ʼn Solidariteit-lid van Orkney, ontvang weens ’n sosiale voorval wat in ’n Johannesburgse Spur-restaurant plaasgevind het en waarby hy nie betrokke was nie, ten sterkste. Hy het toevallig net dieselfde naam as een van die partye wat wel by die voorval betrokke was. Connie Mulder, hoof van […]
Skep werk om menseregte te bevorder – Solidariteit
  Die vakbond Solidariteit het vandag gesê dat werk, en nie hardnekkige rassewetgewing of grondhervorming nie, menseregte ten grondslag lê. Volgens dr. Eugene Brink, politieke ontleder verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, is regte sonder menswaardigheid nie werklik menseregte nie en is werk een van die vernaamste maniere om menswaardigheid aan mense te verleen. “Die Pew-navorsingsinstituut […]
Laaste verontregte DKD-lid uiteindelik aangestel
Die vakbond Solidariteit het vandag aangekondig dat die laaste DKD-lid, wat oor die hoof gesien is vir bevordering weens onbillike diskriminasie in die departement van korrektiewe dienste (DKD), terugwerkend vanaf 1 Desember 2010 aangestel en vergoed is. Dit volg nadat dié departement versuim het om gehoor te gee aan die uitspraak van die konstitusionele hof […]
1 2 3 687