Solidariteit het vandag skerp kritiek op die staatsrede van president Cyril Ramaphosa uitgespreek. Volgens Solidariteit is die president en sy regering nie in voeling met die land nie. Dit mag wel so wees dat mooi toesprake gelewer word, maar die werklike gevolge vir die land en sy burgers op grondvlak word nie in ag geneem nie.
“Wat die prioriteite betref wat die president nou stel, is dit so dat die regering al jare gehad het om iets daaromtrent te doen. Tog het die regering in al hierdie jare tot sy beskikking nog niks daaraan gedoen nie,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut. “Die nuutste van daardie prioriteite was die verkryging en verspreiding van Covid-19-entstof, wat ook pas in vlamme opgegaan het. Daarbenewens trek ons nou al in die 13de jaar van beurtkrag. Niks gebeur behalwe beloftes en mooipraatjies nie.”
Volgens Solidariteit is die regering se plan vir ekonomiese herstel rampspoedig en sal dit nie tot stimulering en groei lei nie, maar wel eerder verdere inkrimping tot gevolg gaan hê, wat meer werksverliese sal meebring. Met faktore soos beurtkrag, korrupsie en SEB kan die privaat sektor nouliks groei en word hy geen geleentheid gegun om werkskepping te bevorder nie. Wat in werklikheid moet gebeur, is dat die ekonomie gedereguleer moet word. Dit moet goedkoper word om plaaslik te vervaardig.
“In die geskiedenis van Suid-Afrika se demokrasie het geen president al ooit so ʼn oormaat selfvoldaanheid getoon nie. Dit is verstommend. Vanaand het die keiser kaal voor die land gestaan en vreeslik gespog oor sy plaaslik vervaardigde pak klere terwyl elke vervaardiger paniekerig wonder hoe enigiemand nog ʼn pak kan vervaardig terwyl daar op die volgende sessie beurtkrag gewag word,” sluit Mulder af.