Deur Marisha Hermann
Solidariteit Helpende Hand, in samewerking met Gratia Via Akademie, bied vir die eerste keer opleiding in tuisversorging aan. Hierdie kursus gaan nie net opleiding aan tuisversorgers bied nie, maar dit is ook die begin van ʼn waardevolle, roepingsgedrewe toekoms vir elkeen wat ʼn passie vir mense het. Die kursus gaan fokus op die verskillende waardes wat vir tuisversorging geld, naamlik: respek, etiese beginsels, om vir ander om te gee, uitnemendheid, professionalisme en integriteit. Die kursus is meer omvattend as die minimum uitkomste wat Seta vir die soort opleiding voorskryf. Hierdie kursus sal persoonlike ontwikkeling aan studente bied en sal versorgers van gehalte verseker, wat weer dienslewering van gehalte verseker.
Benette Welman, ʼn projekorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand, wys daarop dat daar ʼn groot behoefte aan tuisversorgers bestaan. Daar is baie seniors wat nie duur versorgingsoorde kan bekostig nie en wat graag by hul huise versorg wil word.
Talle instellings sukkel om akkreditasie vir verplegingskursusse te kry en hierdie opleiding in tuisversorging is ʼn goeie eerste stap in die regte rigting vir enige student wat graag ʼn verpleegster wil word. Die opleiding ondersteun ook een van Solidariteit Helpende Hand se fokusgebiede, naamlik opleiding. Opleiding is een van die sleutels tot gesonde gesinne asook gemeenskappe deurdat dit werkloosheid die hoof bied. Terselfdertyd word sterkpunte in gemeenskappe geaktiveer.
Studente wat vir die opleiding wil aansoek doen, moet ʼn besonderse liefde vir hul medemens toon en moet regtig omgee. Daar moet ingedagte gehou word dat die opleiding en die werk self ongelooflike harde werk behels wat ʼn gesindheid van toewyding verg. Die student moet self fisiek en geestelik gesond wees en moet die waardigheid van sy of haar medemens hoog ag. Die minimum toelatingsvereiste is graad 10 en die onderrigtaal is Afrikaans. Kursusse sal in Pretoria-Noord en in Bloemfontein aangebied word.
By suksesvolle voltooiing van die kursus kan die student as tuisversorger of as versorgingshulp in tehuise of by ander residensiële instellings in diens geneem word.
Vir meer inligting stuur ʼn e-pos na tuisversorging@helpendehand.co.za. Aansoeke moet op die laaste teen Maandag, 1 Maart 2020, aanlyn voltooi word.