Solidariteit sal môre in die arbeidshof wees in ʼn saak wat Numsa teen hom en Comair aanhangig gemaak het. Numsa dring daarop aan dat ʼn kollektiewe ooreenkoms tussen die lugredery en onder meer Solidariteit en sy lede geskrap moet word. Die afskaffing van die ooreenkoms sal meebring dat Comair sy sakereddingsbefondsing kwyt sal wees.
Comair is tans in sakeredding en ontvang befondsing van R500 miljoen van beleggers wat onderworpe aan verskeie voorwaardes beskikbaar gestel is, wat onder meer bepaal dat die lugredery sy konsultasieprosesse met betrekking tot afleggings met ʼn maand moes verkort. Solidariteit, wat ingevolge ʼn mandaat van sy lede en as kollektiewe meerderheid optree, en Comair het tot ʼn vergelyk in hierdie verband gekom.
“Die doel van die ooreenkoms is om die voortbestaan van Comair te verseker sodat so veel as moontlik poste behoue kan bly. Solidariteit het deurentyd met sy lede en ander werknemers gekonsulteer en het slegs volgens die mandaat wat van hierdie lede ontvang is, opgetree,” sê Derek Mans, organiseerder van lugvaart en verdediging by Solidariteit. “Dit is nie moontlik om ons lede se werk te beskerm as die werkplek nie meer bestaan nie. Dit is dus in die beste belang van sowel die werknemer as die werkgewer om ʼn ooreenkoms te bereik wat die voortbestaan van die entiteit sal verseker.
“Die argumente wat Numsa in sy stukke aanvoer, is nie alles feitlik nie. Solidariteit het daarom ʼn bevestigende verklaring ingedien wat hierdie ‘feite’ van Numsa weerspreek. Ons prioriteit is om ten alle tye in die beste belang van ons lede op te tree en die beste moontlike uitkoms vir hulle te bewerkstellig. Dit is waarom ons nie in hierdie verband kan stilbly nie,” het Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, afgesluit.