Solidariteit Jeug het vandag ʼn dringende hofaansoek teen die nasionale finansiële hulpskema (NSFAS) gebring om dié hulpskema te dwing om onmiddellik alle beurse waartoe hy hom kontraktueel verbind het, te heraktiveer en sy finansiële verpligtinge dienooreenkomstig na te kom. Die aansoek volg nadat NSFAS in sy reaksie op Solidariteit se aanmaning ontken het dat daar enige ongerymdhede of wanbestuur met betrekking tot die wanbetaling van studente se beurse bestaan.
“NSFAS is besig om hom te verontskuldig terwyl duisende studente nou sonder ʼn toekoms is,” sê Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling. “Die gevolg van NSFAS se wanbestuur is dat studente hul beurse kwyt is en dus nie hul studie sal kan voortsit en voltooi nie. Hierdie studente is almal uit laerinkomstegroepe en kan nie hul studies op ʼn ander manier befonds nie. NSFAS was vir hulle ʼn uitkoms en ʼn kans om hul eie toekoms te vorm. Nou word hulle deur ongerymdhede by die hulpskema hiervan ontneem.”
In sy hofstukke verwerp Solidariteit NSFAS se bewerings dat hy billik en binne sy reg opgetree het deur die kansellasie van studiebeurse en die onttrekking van finansiële steun aan studente. Solidariteit dring daarop aan dat alle ongerymdhede onmiddellik gestaak word en vra dat die hof NSFAS beveel om sy kontraktuele verpligtinge teenoor die studente met wie hy ʼn ooreenkoms gesluit het, moet nakom.
“Geen instelling het die reg om eensydig ʼn einde aan ʼn kontrak te maak en sommer net sy verpligtinge te versuim nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsdienste by Solidariteit. “Wat NSFAS gedoen het, is nie net oneties nie, maar ook immoreel. NSFAS vergeet dat hy nie bloot met nommers werk nie, maar met mense wie se toekoms op die spel is. Solidariteit sal sulke optrede deur instellings nie duld nie en veg teen sulke ongerymdhede.”