Solidariteit Jeug het vandag sy ondersteuning aan die Universiteit van Stellenbosch se studenteorganisasie, StudentePlein, bekendgemaak en die erns van enige taal wanpraktyke wat ongrondwetlik is beklemtoon.
Dit volg nadat StudentePlein gister in hulle verklaring aangetoon het dat hulle by die sentrum vir studentegemeenskappe aangedring het vir ’n behoorlike ondersoek en regstelling nadat wanpraktyke wat taal aanbetref, op kampus en in koshuise, aan die lig gekom het.
Solidariteit Jeug het met sy regspan gekonsulteer en is bereid om te litigeer indien die sentrum vir studentegemeenskappe versuim om daadwerklike ondersoek te doen of gehoor te gee aan StudentePlein se versoeke. StudentePlein se versoeke sluit die volgende in: ’n oorsig oor die ondersoek, ʼn oudit van alle studentegemeenskappe oor taalpraktyke, opleiding rakende meertaligheid, en die regstelling van onregte.
“Dit is verblydend om te sien hoe studente deur middel van sulke studenteorganisasies opstaan vir hulle grondwetlike regte. Ons by Solidariteit Jeug sal alles in ons vermoë doen om hulle by te staan waar nodig. Ons het definitief meer sulke drukgroepe onder die jeuggeledere nodig,” het dr. Juran van den Heever, hoof by Solidariteit Jeug, gesê.
Solidariteit Jeug is ook tans besig om sy kommentaar oor die taalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch te finaliseer en sal dit eersdaags indien.