Solidariteit het vandag dringende hofstukke op die sukkelende wapenvervaardiger Denel beteken om hom te dwing om werkloosheidsversekering en belasting wat van werknemers se salarisse afgetrek is, oor te betaal. Solidariteit het ook met ’n proses ingevolge artikel 165 van die Maatskappywet begin om wanbestuur en korrupsie van voormalige direkteure van Denel te ondersoek, met die oog op moontlike vervolging.
“Die slagoffers van roekelose bestuur en staatskaping is werklike mense met gesinne en emosies. Werknemers se salarisse word gebruik om kontantvloei te subsidieer. Denel het egter nog verder gegaan en verpligte betalings nie aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oorbetaal nie, alhoewel dit so op die betaalstrokies van werknemers aangedui is,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Die geregtelike stappe wat Solidariteit nou volg, is dus tweeledig. ’n Dringende aansoek volg nadat Denel bekendgemaak het dat hy slegs in staat is om ’n sekere gedeelte van sy werknemers se salarisse vir Junie en Julie te betaal. Sekere statutêr verpligte betalings soos LBS, WVF en heffing op vaardigheidsontwikkeling is op betaalstate aangedui, maar is egter nie oorbetaal nie.
“Ons sien ongelukkig dat dit praktyk word dat die belastingbetaler en werknemers van staatsinstellings sogenaamde finansiers word vir staatskaping en die wandade wat daar gepleeg word. Solidariteit sê genoeg is genoeg, en deur middel van hierdie saak sal instellings verplig word om aanspreeklikheid vir die wandade te aanvaar,” se Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Regsdienste.
ʼn Tweede geregtelike stap volg na aanleiding van Solidariteit se Denel-dossier. In die dossier, wat reeds in April 2018 onthul is, is dit duidelik dat die wanbestuur en moontlike korrupsie van vorige Denel-bestuurslede tot die wapenreus se finansiële verknorsing gelei het. Sedertdien is ʼn forensiese ondersoek ook gedoen en Denel het vanjaar bevestig dat stappe teen die betrokkenes beoog word, maar Solidariteit het geen bevestiging van enige stappe gekry nie.
“Diegene wat verantwoordelik is vir Denel se finansiële krisis word nie aanspreeklik gehou nie en het feitlik skotvry daarvan afgekom, terwyl ons lede, onskuldige werknemers, die gevolge daarvan moet dra. Die onlangse wanbetaling van salarisse kan direk teruggevoer word na die effek van staatskaping,” sê Johan Botha, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris.
Deur middel van hierdie regstap plaas Solidariteit die bestuur van staatsinstellings terug in die hande van die belastingbetaler. Die belastingbetaler kan hierdie nuttige regsproses gebruik om te verseker dat die hoogste standaard van aanspreeklikheid by die instellings gehandhaaf word.
Die Denel-stappe vorm deel van ʼn veel groter veldtog – dié van Solidariteit se wettige belastingprotes. Dié protes sluit minstens ses regsaksies teen staatsondernemings en belastingplunderaars in.
“Belastingbetalers moet eenvoudig “nee” sê. Ons hoef nie toe te laat dat daar met ons geld gemors word nie,” sluit Hermann af.