Solidariteit ondersteun Eskom se ondersoek na afloop van ’n ontploffing by die Medupi-steenkoolkragstasie die naweek. Solidariteit het ook aangekondig dat hy sy lede wat by die ontploffing geïmpliseer word en gedurende die proses geskors is, sal verteenwoordig.
“Ons is tans besig met die opstel van motiverende dokumentasie om redes aan te voer waarom ons lede nie geskors moet word nie. Met betrekking tot die stelling dat sabotasie gepleeg is, is dit hoogs onwaarskynlik dat werknemers hulle werk en veral hul lewens op die spel sou plaas om ’n ontploffing te veroorsaak. Dit is jammer dat daar finansiële skade en natuurlik skade aan die kragopwekker is, maar Eskom moet nie uit die oog verloor dat menslike foute ’n werklikheid is wanneer take fisies met die hand gedoen word nie. Ons glo en vertrou dat die ondersoek ons lede se onskuld sal bewys,” het Deon Reyneke, adjunkbestuurshoof van arbeidsverhoudinge by Solidariteit, gesê.
Volgens Solidariteit is die ontploffing ‘n tragiese ongeluk en kan daar nie aangeneem word dat dit toe te skryf is aan die opsetlike optrede van werknemers nie. Hy voer verder aan dat die aard van die ontploffing lewensgevaarlik is en dat dit onwaarskynlik is dat werknemers hul lewens op die spel sou plaas om slegs ’n enkele kragopwekker in die aanleg te saboteer.
“Dit is belangrik om te besef dat geen persoon al deur die ondersoek geïmpliseer is nie en dat die hoofdoel van ’n ondersoek is om die oorsaak van die ongeluk te vind, en dat dit nie noodwendig beteken dat daar ’n skuldige party is nie. Werknemers moet dus voortydig en sonder bewyse nie as skuldig behandel word nie. Ons ondersteun Eskom se besluit om die ontploffing te ondersoek en het ons lede geadviseer om hulle volle samewerking met die ondersoek te gee. Ons sal hulle ook gedurende die proses verteenwoordig.
“Die ontploffing was vir ons en ons lede wat by die aanleg aan diens was, ’n groot skok. Dit is tragies dat hierdie ontploffing plaasgevind het. Solidariteit is dankbaar dat daar geen lewensverlies was nie,” het Reyneke afgesluit.