Die Solidariteit-beweging in Pole en Solidariteit in Suid-Afrika het vandag by Solidariteit se kongres in Pretoria hulle samewerking om die uitdagings van globalisering die hoof te bied, formeel aangekondig.
Die twee vakbonde gaan onder andere ʼn gesamentlike forum stig om hulle lede in Mittal SA en Mittal Pole te beskerm.
In ʼn brief aan die Solidariteit-kongres skryf die president van die Poolse Solidariteit in Katowice, Pole dat plaaslike gemeenskappe te swak is om die uitdagings van globalisering alleen die hoof te bied.
Daar moet internasionale samewerking tussen vakbonde wees.
Die twee Solidariteite moet saamwerk en beplan as eerste stap ʼn gesamentlike konferensie in Katowice om die uitdagings van globalisering te bespreek.
Groeteboodskappe van Belgiese en Nederlandse vakbondbewegings en vakbondfederasies in Afrika is op die Solidariteit-kongres voorgelees.
Solidariteit se nuutverkose president, Steve Scott, het in sy presidentsrede gesê dat vakbonde op die lys van bedreigde spesies geplaas kan word en selfs moontlik kan uitsterf as hulle nie ingrypende aanpassings by die nuwe ekonomie maak nie.
Vakbonde sal bande oor nasionale grense heen moet sluit en Solidariteit is geen uitsondering nie.
Hy werk veral saam met die federasie Consawu om hierdie doelwit te bereik.
Volgens Scott het multinasionale maatskappye só groot geword dat hulle omset groter as dié van baie lande is.
As vakbonde werkers doeltreffend in die globale era wil beskerm, sal hulle so sterk soos weermagte moet word.
’n Maatskappy soos Exxon Mobil se omset is 1,5 maal dié van Suid-Afrika – Afrika se grootste ekonomie – se algehele bruto binnelandse produk; 3,8 maal groter as die bruto binnelandse produk van Egipte, Afrika se naasgrootste ekonomie; en 36 maal groter as die BBP van Botswana, een van Afrika se vinnigste groeiende ekonomieë. ’n Maatskappy soos Wal-Mart se omset is bykans dieselfde as Suid-Afrika se BBP.
Vakbonde slaag egter nie daarin om by die globale rewolusie aan te pas nie.
Hulle tree steeds op asof hulle in nywerheidsera is.
Hulle dink massa-mobilisering is die alfa en omega van vakbondwese, terwyl die nuwe ekonomie ’n baie meer gesofistikeerde benadering tot vakbondwese vereis.
Die gevolg daarvan is dat vakbondgetalle oor die hele wêreld beduidend afneem. In Brittanje, eens die bakermat van die vakbondwese, het vakbondlidmaatskap van 12 miljoen twintig jaar gelede tot die huidige ledetal van 7 miljoen gedaal.
In die VSA het die vakbonddigtheid van ongeveer 30% tot 12% afgeneem. Die magtige Israelse Histadrut se ledetal het van 1,6 miljoen na ongeveer 600 000 verminder.
Solidariteit het ʼn nuwe program van vakbondwese bekendgemaak om die uitdagings van die nuwe ekonomie die hoof te bied.
Die program sal die opleiding van werkers, mobilisering van arbeid se kapitaal, internasionale vakbondbande, die nasionale afdwinging van internasionale arbeidskonvensies en nuwe vakbond-diensmetodes behels.
Solidariteit glo dat sy model werk, want anders as vakbonde elders in die wêreld ervaar hy ʼn reuse groeikurwe.
Solidariteit wil graag ’n leier in die nuwe globale vakbondwese wees.
Dirk Hermann Adjunk Uitvoerende Hoof: Solidariteit