Solidariteit het vandag gesê dat hy nie sal skroom om tot litigasie oor te gaan indien minister Lindiwe Sisulu se uitlatings oor 50-50-rassekwotas in skole neerslag vind in wetgewing nie. Solidariteit is hewig gekant teen dié voorstel van minister Sisulu.
Solidariteit meen ook dat die voorhou van politieke agendas en inmengery in kinders se lewe as goeie bedoelings, lankal nie meer ʼn plek in die samelewing het nie.
“Dit is duidelik dat minister Sisulu, voorsitter van die subkomitee oor maatskaplike transformasie van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), nie haarself daarop toespits om die gehalte van onderwys te verseker nie, maar dat sy haar eerder daarvoor beywer om te verseker dat haar party se obsessie met ras en rasse-agenda sy pad selfs na die skole toe vind. Niemand is meer obsessief met ras as die ANC nie, wat ironies is omdat die ANC meen hulle streef na ʼn nierassige samelewing,” sê Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van die Solidariteit Onderwysernetwerk. “Dit is verder kommerwekkend dat die ANC se rasbeheptheid na die kinders se lewe oorspoel. Al wat die ANC gaan regkry, is om die sosiale impak van rassigheid te vererger.”
Solidariteit meen verder ook dat die minister se idee in wese absurd is omdat dit daarop toegespits is om een entiteit se agenda te bevorder, terwyl die gehalte van onderwys geen werklike aandag geniet nie. Verder is Suid-Afrika se onderwyskrisis juis ʼn simptoom van ʼn onbevoegde regering wat sy wankelrige agenda en problematiese besluite agter die sluier van transformasie probeer versteek.
“Dit is kommerwekkend dat die ANC-regering probeer om Suid-Afrika se bevolking te beheer. Dit is in wese problematies as ʼn regering sy mense probeer beheer. Dit is een ding om aan ʼn volwassene voor te skryf, maar dit is iets heeltemal anders as ʼn regering kinders as pionne probeer gebruik. Dit is totaal onaanvaarbaar,” sê Botha.
Solidariteit meen ook dat die oplossing vir Suid-Afrika se onderwyskrisis nie by kwotagebaseerde skole en rasbehepte klaskamers lê nie en dat die verantwoordelikheid vir die krisis voor die deur gelê moet word van ʼn regering wat faal om sy mandaat ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet uit te voer.
“Hierdie regering probeer nie eers om te doen wat hy vir ons kinders behoort te doen nie, en om hierdie rasgebaseerde idee as synde die skuld van rassigheid te probeer smous, en om dan die probleem wat deur sy eie toedoen ontstaan het, te probeer regstel deur meer rassigheid en beheer in te stel is verregaande. Daar is nie plek vir sulke verregaande uitlatings in ons skole nie, en indien dit wel neerslag vind in wetgewing sal ons litigeer om te verseker ons kinders se reg op gehalte-onderwys word gehandhaaf,” sluit Botha af.