Solidariteit het ’n tienpuntplan om gesond terug te keer werk toe aan honderde werkgewers gestuur. Die uitgangspunt van die plan is dat werkgewers onverskrokke teen die virus, maar ook onverskrokke vir die ekonomie en werk moet wees.
“Onder die huidige regulasies mag, met enkele uitsonderings, werknemers na afloop van die vakansie terugkeer werk toe. Ons tienpuntplan is binne die bestaande statutêre raamwerk van die Covid-19-regulasies. Dié plan maak nie ’n keuse tussen werk en gesondheid nie, maar eerder ’n keuse vír gesonde werk,” het Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit gesê.
Volgens Mardon lyk die risiko’s in terme van Covid-19 totaal anders as Desember toe baie werknemers op vakansie gegaan het. Die terugkeer van werknemers wat op vakansie en by hulle huise was, bring nuwe risiko’s na die werkplek. Die nuwe infeksiegolf het ook nog nie sy hoogtepunt bereik nie. Solidariteit se tienpuntplan neem die risiko van die nuwe Covid-vlaag in ag, maar beskerm ook mense se werk.
Dié tienpuntplan maak voorsiening vir behoorlike risiko-analises. Gesondheid en veiligheid in die werkplek se kernpilaar is risikobestuur. Hierdie plan maak voorstelle vir verskeie wyses om risiko’s te bestuur insluitend die hersiening van protokolle met die nuwe uitdagings van Covid-19 in gedagte. Die plan stel ook voor dat werknemers steeds, waar moontlik, van die huis af werk.
By die werk moet ander gesondheidsprotokolle, soos byvoorbeeld die ontsmetting van werkstasies, die was en ontsmetting van hande, rekordhouding van persone wat die werkplek betree, die handhawing van ’n gesonde afstand (minstens 1,5 meter), en die versekering van goeie ventilasie, streng nagekom word.
Spesiale maatreëls moet ook ingestel word om kwesbare werknemers te beskerm en die terugkeer na die werkplek moet ook in fases plaasvind. Werknemers moet egter ook besef dat veiligheid en gesondheid by die huis begin.
Die tienpuntplan vloei voort uit Solidariteit se Goeie Praktykskode: Maatreëls om gesonde, voortreflike werk tydens en na die Covid-19-pandemie te verseker.
Lees die plan hier.