Die vakbond Solidariteit het ná afloop van die handvesberaad die afgelope naweek, die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, se standpunt dat alle werknemers onder senior bestuursvlakke, ongeag ras, gelyke voordeel uit die handves se voorgestelde aandeelhoudingskema moet trek, verwelkom.
Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, bevorder die minister se standpunt nierassigheid en staan dit in skrille kontras met die beleid wat Sasol tans wil deurvoer met hul aandeelhoudingskema wat slegs op ras gebaseer is. Du Plessis sê voorts dat prominente rolspelers by die mynbouberaad sterk gekant was teen Sasol se skema en Solidariteit het tydens die beraad dus die versoek aan die departement van minerale hulpbronne gerig om nie die Sasol-skema goed te keur nie. Die departement moet alle aandeelhoudingskemas in die petroleum- en mineralesektore goedkeur.
Die vakbond het tydens die beraad ook ʼn beroep op die belanghebbende partye gedoen om verdere regsaksie te vermy en om eerder te fokus op ʼn onderhandelde skikking soos wat in 2004 en 2010 die geval was met die opstel van Handves I en II.
Du Plessis wys daarop dat Solidariteit ook die aankondiging van Mantashe dat belanghebbende partye en die publiek tot en met die einde van Augustus 2018 geleentheid het om kommentaar op die konsephandves te lewer, verwelkom. “Mantashe se aanduiding dat deurlopende skakeling tussen belanghebbende partye noodsaaklik is, saam met die verlengde kommentaartyd wat toegestaan is, sal myngemeenskappe en die Mineraleraad se vroeëre besware oor onvoldoende konsultasie hopelik in die kiem smoor,” het Du Plessis gesê.
“Hoewel van die debatte by die naweek se beraad by tye hand uitgeruk het, was dit steeds ʼn stap in die regte rigting om veral mynbougemeenskappe se insette tot die handves te kry. Mantashe se opmerking wat hy aan die einde van die beraad gemaak het, naamlik dat die naweek se beraad ʼn oorwinning vir sosiale dialoog was, het die beraad se waarde goed opgesom,” het Du Plessis afgesluit.