Solidariteit vra SAMRK om regstelaksie te hersien ná VN SA kap oor rasseklasifikasie

Woensdag, Februarie 15th, 2017

Die vakbond Solidariteit het vandag die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gevra om wette oor swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie formeel te ondersoek. Dit volg nadat die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) in ’n verslag kritiek uitgespreek het op Suid-Afrika se stelsel van rasseklassifikasie.

Volgens die verslag is CERD bekommerd daaroor dat Suid-Afrika in aanstellingswetgewing gebruik maak van rasseklassifikasie eie aan die apartheidsera. Die VN-komitee se verslag volg nadat die Suid-Afrikaanse regering sy periodieke verslag en Solidariteit ’n skaduverslag verlede jaar by CERD ingedien het. Die VN-komitee sê ook in ’n verklaring dat die Suid-Afrikaanse stelsel van regstellende aksie te rigied is.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, tree die SAMRK as CERD se agent in Suid-Afrika op en moet die kommissie toesien dat Suid-Afrika die vereistes van VN-resolusies en aanbevelings implementeer. Die SAMRK beskik oor die magte om Suid-Afrika se regstellendeaksiewette te ondersoek om te bepaal of dit aan CERD se vereistes voldoen. Een van die vereistes van CERD is dat regstellende aksie nie net op ras gebaseer mag wees nie en dat daar gefokus moet word op ’n persoon se sosio-ekonomiese omstandighede.

CERD het ook aanbeveel dat Suid-Afrika verslag aan die komitee moet kom doen oor die impak van regstellende aksie op arbeid, onderwys, openbare en politieke sake. Die regering moet ook verslag doen oor die impak wat regstellende aksie het op persone wat daardeur geraak word.

CERD se aanbevelings is ’n groot deurbraak vir ons in ons poging om balans in die rassedebat in Suid-Afrika te bewerkstellig. Ons verwag van die SAMRK om sy mandaat uit te voer en om seker te maak dat Suid-Afrika sy internasionale verpligtinge nakom.

“Die oorhandiging van die memorandum aan die SAMRK vandag is die begin van ’n reuse-veldtog wat Solidariteit oor die volgende drie maande teen alle vorme van rassisme gaan voer. Die veldtog gaan veral fokus op dubbelstandaarde in die hantering van rassisme in Suid-Afrika. Suid-Afrika is te geduldig met die hantering van swart-op-wit-rassisme. Alle vorme van rassisme moet verwerp word,” het Hermann gesê.

Solidariteit beplan om oor die volgende drie maande ’n verslag oor dubbelstandaarde in die hantering van rassisme te publiseer en om ook ’n konferensie oor die onderwerp aan te bied.’n Massaklag waarin tienduisende Suid-Afrikaners gaan vra dat rassisme in Suid-Afrika oor dieselfde kam geskeer word gaan ook deel uitmaak van die veldtog. Die klag gaan aan die einde van die veldtog by die parlement, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO), die VN se Kommissie vir Menseregte, asook die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie ingedien word.

“Ons is daarvan oortuig dat alle Suid-Afrikaners moeg is van rassisme. Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners, wit en swart, om enige vorm van rassisme en rasse-uitsprake te stop. Ons moet wys dat die groot middelgroep van alle Suid-Afrikaners glo aan wedersydse respek,” aldus Hermann.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  • Deon Koegelenberg

    Dankie Solidariteit ek dink tot in die staatsrede kon mens Pres Zuma se uitlatings ook die rassisme sien en hoor deurskemer .. Hy doen dit net op n manier dat mens dit nie dadelik kan eien nie maar luister maar weer en se of ek verkeerd is

Ander Artikels

Hoeveel Nico’s nog?
  Solidariteit veroordeel die doodsdreigemente wat Nico Viljoen, ʼn Solidariteit-lid van Orkney, ontvang weens ’n sosiale voorval wat in ’n Johannesburgse Spur-restaurant plaasgevind het en waarby hy nie betrokke was nie, ten sterkste. Hy het toevallig net dieselfde naam as een van die partye wat wel by die voorval betrokke was. Connie Mulder, hoof van […]
Skep werk om menseregte te bevorder – Solidariteit
  Die vakbond Solidariteit het vandag gesê dat werk, en nie hardnekkige rassewetgewing of grondhervorming nie, menseregte ten grondslag lê. Volgens dr. Eugene Brink, politieke ontleder verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, is regte sonder menswaardigheid nie werklik menseregte nie en is werk een van die vernaamste maniere om menswaardigheid aan mense te verleen. “Die Pew-navorsingsinstituut […]
Laaste verontregte DKD-lid uiteindelik aangestel
Die vakbond Solidariteit het vandag aangekondig dat die laaste DKD-lid, wat oor die hoof gesien is vir bevordering weens onbillike diskriminasie in die departement van korrektiewe dienste (DKD), terugwerkend vanaf 1 Desember 2010 aangestel en vergoed is. Dit volg nadat dié departement versuim het om gehoor te gee aan die uitspraak van die konstitusionele hof […]
1 2 3 687