Die wêreld en Suid-Afrika verkeer in ʼn historiese krisis. Een van die gevolge van die Covid-19-pandemie is ʼn ekonomiese en werkkrisis. Die ekonomiese krisis wat die Covid-19-pandemie tot gevolg gehad het, kan tot ʼn ongekende werkskrisis lei met ʼn werkloosheidsyfer in Suid-Afrika van oor die 50%. Afgesien van die werkloosheidskoers wat rekordhoogtes bereik het, ontvang miljoene mense net ʼn gedeelte van hul salaris.
Mense kry swaar en is onseker. Die virus en die regering se roekelose regulasies tref almal, wit en swart. Die regering besluit egter dat hulp nie vir wit mense gegee gaan word nie. Hoe mense lyk – en nie hoe swaar hulle kry nie – bepaal die hulp wat hulle kry. Duisende mense, wit en swart, gaan hul inkomste en werk weens hierdie rasbesluit verloor. Die howe het dit bevestig – eers het dit net vir toerisme gegeld en toe ook vir kleinsake.
Hierdie besluit van die regering het ʼn reusevertrouensbreuk tussen Solidariteit-lede en hul gemeenskap aan die een kant, en die regering aan die ander kant veroorsaak.
Aan die een kant maak hierdie rassebesluit midde-in ʼn krisis ʼn mens woedend. Aan die ander kant is dit bevrydend. Ons kan nie op die regering staatmaak vir ʼn toekoms van werk nie. Ons kan dus ook nie van die regering afhanklik wees nie. Ons hoef nie vir die regering te wag vir ʼn toekoms nie – ons aanvaarverantwoordelikheid en bou dit self.
Om self verantwoordelikheid te kan neem, het ons die krag van mekaar nodig. In ʼn krisis soos hierdie is dit tyd vir Solidariteit. Ons moet saamstaan soos nog nooit tevore nie. As die regering ons uitskop, moet die gemeenskap inskop.
Die realiteit van die ekonomiese en werkkrisis wat Covid-19 veroorsaak het, en die besef dat ons sélf moet doen, het Solidariteit laat besef dat ʼn reuse- Solidariteit Werkherstelprogram nodig is waar ons mekaar help om weer voluit te kan werk.
Solidariteit is al vir 118 jaar in die besigheid van werk en sy kernbesigheid is om antwoorde in ʼn krisis te bied. In die lig hiervan gaan Solidariteit die grootste werkherstelprogram in sy 118-jarige geskiedenis oor die volgende 18 maande van stapel stuur. Die doel van die Werkherstelprogram is om Solidariteit-lede en jongmense toekomsgereed te maak vir die nuwe wêreld.
Solidariteit gaan ʼn begroting van miljoene rande hertoeken en het ʼn spesiale werkherstelbegroting goedgekeur. Ander instellings binne die groter Solidariteit Netwerk van Werk gaan honderde miljoene rande se addisionele fondse mobiliseer.
Solidariteit is die afgelope 20 jaar in ʼn reusenetwerk omskep om mense in staat te stel om te werk. Deur die bou van die Solidariteit Netwerk van Werk het Solidariteit jare lank voorberei vir ʼn krisis sonder dat ons bewus was van die krisis wat in die vorm van Covid-19 sou kom.
Solidariteit is nou groter en sterker as ooit in sy geskiedenis en meer gereed as ooit tevore om die Covid-19-krisis saam met sy lede trompop te loop.
Solidariteit se lede het ʼn geskiedenis van goeie werksetiek, kreatiwiteit, hardwerkendheid en veerkragtigheid om enige krisis die hoof te bied. Solidariteit is bloot die wind in die vlerke van lede sodat hulle self weer hoog kan vlieg. Solidariteit-lede glo dis reg om te werk, hulle is reg om te werk en dis hul reg om te werk.
Solidariteit-lede kan terugbons. Hulle word geken aan prestasie ten spyte van terugslae. Die afgelope ruk wil die regering se ras-ideologie hulle uitdruk, maar hulle druk net deur. Hulle is die helde van die werkplek wat die ligte aanhou, ekonomiese geleenthede skep, drie mense se werk doen, diens lewer, ondergronds werk, gespesialiseerde ambagswerk doen, uitnemend klasgee, die administratiewe ratte laat werk, mense gesond maak, in howe vir geregtigheid veg, om maar net enkele voorbeelde te noem.
Dit is hierdie kenmerke eie aan Solidariteit-lede wat tot werkherstel gaan lei.
Die hart van die Solidariteit Werkherstelprogram is die gemeenskap. Die regering het ons in die steek gelaat. Die meeste mense het begrip vir die eerste drie weke van die inperking gehad. Die oorlog teen die virus was nodig. Daarna het die oorlog na die mense geskuif. Absurde regulasies het mense se vryheid deur ʼn bevelsraad weggeneem. Met sentrale beplanning, die lang tydperk van inperking en onlogiese regulasies is daar ook oorlog teen die ekonomie gevoer. Dit het tot voedselnood gelei en die regering wat toe boonop kosverskaffing en koshulp wou reguleer.
Die regering besluit toe dat hulp in ʼn tyd van nood op grond van ras gereguleer sal word. Indien ons nie in ʼn krisis soos dié op die regering kan staatmaak nie, sal ons nooit kan nie. Solidariteit gaan as deel van die Werkherstelprogram ʼn klag by die Verenigde Nasies se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie lê. Die steun van honderde duisende mense gaan vir hierdie klag gemobiliseer word. Hierdie klag maak deel uit van die groter Solidariteit Beweging se internasionale veldtog om buitelandse steun teen die regering se raspraktyke te mobiliseer. Solidariteit gaan ook fondse ter ondersteuning van die Werkherstelprogram internasionaal insamel.
Ons antwoord vir werkherstel lê dus nie by die regering nie, maar by mekaar. Dit maak nie benoud nie, dit maak vry. Dis nou die tyd vir mekaar en die groot saamstaan. Ons moet mekaar in staat stel om te werk. Solidariteit kan werkherstel help fasiliteer, maar die antwoord lê in ʼn reuse-gemeenskapspoging. Ons gaan by mekaar sake doen, mekaar in diens neem, mentors vir mekaar se kinders wees, studiehulp gee en werk verskaf. Die onderliggende slagspreuk wat almal gaan deel is: Elkeen help een. Hierdie program gaan ʼn massiewe mekáárprogram wees, want ons wil en kan.
Die Solidariteit Werkherstelprogram gaan nie werk vir sy lede skep nie. Die program gaan bloot help om ons wonderlike lede in staat te stel om self werk te herstel en in hul werk te vorder. Ons neem niemand se verantwoordelikheid weg nie, maar help mense om hul verantwoordelikheid op te neem.
Die herstelprogram gaan swaar steun op die krag van die nuwe tegnologie van die vierde nywerheidsrewolusie wat antwoorde bring op vrae waarvoor daar voorheen nie antwoorde was nie. Die innovasie van die nuwe ekonomiese rewolusie, die krag van die gemeenskap en die veerkragtigheid van jongmense is ʼn kragtige resep onderliggend aan werkherstel.
Die Solidariteit Werkherstelprogram staan op drie pilare: werk, welstand en opleiding.
Spesiale ondersteuning gaan in die werkplek vir werkbehoud gegee word. Die regering se rasse-ideologie gaan tot by die Verenigde Nasies aangevat word. ʼn Groot netwerk van gildes gaan mekaar help. ʼn Reuseplatform gaan gebou word. Op dié platform gaan gildelede mekaar kan help, werk sal daarop gesoek en aangebied kan word en intern- en mentorskappe sal vir jongmense gefasiliteer word.
ʼn Spesiale welstandbarometer gaan lede help om hul eie welstand te bepaal. Lede gaan maatskaplike ondersteuning kry. Geen Solidariteit-lid mag honger ly nie. Persoonlike finansiële programme gaan aangebied word. Volledige inligting oor Covid-19 sal beskikbaar wees. Lede sal ʼn eenvoudige simptoombepaler aanlyn kan doen en toegang tot dokters hê wat virtueel konsultasies sal doen wat lede kan help om te bepaal of hulle Covid-19 het. Drie jaar se ledegeld gaan in die vorm van opleidingskrediete aan lede teruggegee word. Lede se kinders gaan gratis toegang tot die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum se Wolkskool kry. Akademia gaan ʼn nuwe kampusmodel bekendstel. Sol-Tech gaan ʼn nuwe kampus betrek en sy kapasiteit verdubbel. Die eiendomsmaatskappy, Kanton, wat uit Solidariteit gebore is, gaan hierdie eiendomsontwikkelings doen. Meer as R40 miljoen se studiehulp gaan aan jongmense gegee word. S-leer se aanlyn aanbod gaan uitgebrei word en lede gaan danksy hul opleidingskrediete gratis deur S-leer kan studeer.
Die Solidariteit Werkherstelprogram is ʼn reusereaksie op die Covid-19-krisis, maar ook op die regering se harde rassebenadering. Die Werkherstelprogram het ʼn duidelike boodskap: Ons gaan onverskrokke teen die virus veg en onverskrokke vir die ekonomie en werk wees. Ons gaan nêrens heen nie. Ons gaan positief aan die ekonomie deelneem tot voordeel van die totale Suid-Afrikaanse ekonomie en daarvoor het ons nie die regering se toestemming nodig nie.