Deur Theuns du Buisson
Terwyl Eskom miljoene rande se diesel verbrand om die ligte kunsmatig aan te hou en daar niks van verlede jaar se beloftes van onder andere ʼn splinternuwe stad rondom Lanseria-lughawe gekom het nie, spreek president Ramaphosa die land toe in die 2021-staatsrede.
Hy begin sy toespraak met die metafoor van fynbos wat moet uitbrand om weer pragtig uit te loop, om ons te motiveer om op te staan uit die as van die Covid-19-pandemie. Ons is, soos die fynbos, gehard. Dan begin hy met ʼn treurmare oor 300 jaar van onderdrukking en mishandeling waaruit die Afrikaan keer op keer opgestaan het, soos die fynbos. Hier raak dit onduidelik wie “ons” dan is.
Volgens die president is dit nou die tyd om as ʼn nuwe, regverdige gemeenskap te laat verrys wat positief verander kan word. Hy noem vier prioriteite wat aandag moet geniet.
Die koronavirus-pandemie moet oorwin word.
Die ekonomie moet reggeruk word.
ʼn Inklusiewe, hervormde ekonomie moet gevestig word.
Korrupsie moet beveg word.
Suid-Afrika sal nou die Johnson & Johnson entstof gebruik, met meer as 9 miljoen dosisse wat aangekoop is en waarvan die eerstes binnekort in die land sal aankom. Dan kry SA ook 10 miljoen dosisse van Covax af wat nie die AstraZeneca-entstof sal wees nie, en 20 miljoen van Pfizer. Ons sal voortgaan om die wetenskapgedrewe benadering te volg, sê hy.
Die ekonomie moet reggeruk word
Die ekonomie is nou 6% kleiner as in 2019 en die werkloosheidskoers is 30,8%. Die president prys die ekonomiese hulppakkette en beloof ʼn ongelooflike afname in werkloosheid teen die einde van die jaar.
Die intervensies wat deur die staat gedoen is, die R500 miljard wat verlede jaar uit die niet verskyn het, is die grootste in die geskiedenis van Suid-Afrika. Dit het geld in baie mense se sakke gesit en kos op baie se tafels gesit. Omtrent 5 miljoen mense is van ʼn lewe onder die broodlyn gered en ongeveer ʼn derde van die bevolking het ekstra toelaes ontvang.
Talle besighede is deur gewaarborgde lenings en belastingverligting bygestaan.
“Vanaand staan ons nie hier om beloftes te maak nie, maar om te rapporteer oor die vooruitgang in ons planne.”
ʼn Inklusiewe, hervormde ekonomie moet gevestig word
Daar is ʼn gebrek aan tegniese vaardighede in die staatsdiens en dit is broodnodig om nuwe infrastruktuur te vestig.
Die konstruksie van talle projekte het reeds begin. Twee groot nedersettings wat 68 000 huishoudings sal vestig, is reeds in Gauteng in aanbou en nog sulkes sal gevestig word.
Hy beloof nuwe post-apartheid stede en noem weer die Lanseria-slimstad, die een wat in ʼn vorige staatsrede beloof is en wat volgens hom reeds gekonseptualiseer word. Die planne is reeds opgestel en die stad sal binne die volgende dekade tussen 350 000 en ʼn halfmiljoen mense huisves. “Dit is ʼn realiteit en dit gebeur reeds soos ons hier sit.”
Die R100 miljard wat begroot word vir nuwe infrastruktuur sal die konstruksiesektor laat herleef. Bykans alle staatsinstellings kan na breëband-internet uitsien.
Suid-Afrika se uitvoere sal uitgebrei word deur vervaardiging te stimuleer. Ons moet ook plaaslik vervaardigde produkte koop om die vervaardigingsektor te stimuleer, sê die president. Omdat sy pak klere hier gemaak is, sal die vervaardigers daarvan nou nog mense kan aanstel.
As ons daarop fokus om plaaslik te koop, sal entrepreneurs intree om produkte te vervaardig.
Vier meesterplanne vir herindustrialisering is al opgestel en het reeds ʼn reuse-impak.
Die pluimveebedryf beleef ʼn oplewing na dit onder ongelooflike druk was. R800 miljoen is al deur die bedryf belê en ʼn duisend meer hoenders word elke week geproduseer. Soortgelyke “meesterplanne” ruk ook die suiker-, pluimvee- en tekstielbedrywe reg.
Motorvervaardiging het omtrent 70% van sy normale uitsette herwin. Ford het ʼn reuse aanleguitbreiding vir Pretoria aangekondig. Dit sal ook talle klein en middelslag sakeondernemings bemagtig om motoronderdele te lewer. Swart ondernemings was nog nooit aktief in hierdie sektor nie.
Toyota gaan die eerste hibridiese motors in SA bou. Nissan, Mercedes en Isuzu beplan ook uitbreidings.
Die idee van die swart industrialistefonds herleef, hierdie keer om motorverwante ondernemings te vestig. Baie ander lande in Afrika is ook besig om motorindustrieë te vestig, maar hulle sal afhanklik wees van onderdele wat hier vervaardig word. Dit is te danke aan die Afrika-vryehandelsooreenkoms, wat ʼn platform vir Suid-Afrikaanse ondernemings skep om na Afrika uit te brei en die poort na die kontinent te word.
Volgens pres. Ramaphosa moet swart ekonomiese bemagtiging (SEB) met rasse skrede uitgebrei word en daar sal nooit teruggetree word hieroor nie. Hy vertel met trots van talle besighede wat onderneem het om aandele aan hul werknemers oor te dra.
Hervormings in beleid
Besighede van oraloor het onderneem om meer as R700 biljoen hier te belê. Suid-Afrika is dus steeds ʼn aantreklike beleggingsbestemming vir plaaslike en internasionale beleggers.
Heelwat word gedoen om dit makliker te maak om hier sake te doen. In die afgelope jaar is meer as 125 000 besighede geregistreer. Mense kan dit blitsvinnig aanlyn doen.
Die grootste hoeveelheid werk sal deur die privaat sektor geskep word. Massiewe hervormings word beplan om dit vir dié sektor makliker te maak om dit te vermag. Die privaat sektor het ook die verpligting om direkte werksgeleenthede te skep. Daarom het die staat ook sy hand in die befondsing van geleenthede in die privaat sektor. Die staat sal aanhou om indiensneming te ondersteun solank as wat dit nodig is.
Van die staat se kant af is dit belangrik om toe te sien dat skole en sosiale uitdagings aangepak moet word.
Een duisend jongmense is bemagtig om besighede te begin en talle ander is met vaardighede en werksgeleenthede gehelp. Dit is nog net die begin.
Eskom
Om Eskom te laat herleef, is ʼn reuseprioriteit. Eskom is in drie afsonderlike dele geherstruktureer, wat die kragnetwerk sal moderniseer. Groot vooruitgang word gemaak om die betroubaarheid van steenkoollewering te bevorder. Munisipale skuld word ook aangepak. Nuwe toetreders tot die energiesektor, veral wat wind- en sonkrag betref, sal verwelkom word. Lisensievoorwaardes sal binne die volgende drie maande verslap word. Eskom sal ook sy koolstofvoetspoor verklein om teen 2050 koolstofneutraal te wees.
Ander hervormings en prestasies
Ekonomiese hervormings moet help om nuwe toetreders toe te laat. Visumaansoeke sal hervorm word om te moderniseer. Dit sal ook vaardighede na Suid-Afrika lok. Die hersiene lys van kritieke vaardighede sal binnekort gepubliseer word.
Analooguitsendings vir TV sal teen volgende maand uitgefaseer word en dit sal teen volgende jaar afgehandel wees. Dit sal beteken dat breëbandspektrum beskikbaar word.
ʼn Wateragentskap sal gevestig word om seker te maak dat almal wat water benodig, toegang tot die hulpbron sal hê.
“Ons is ernstig oor hervorming. Ons sal onverpoosd werk om ʼn ekonomie te skep wat oop is vir alle Suid-Afrikaners.”
Landbou het ongelooflik gegroei. Suid-Afrika is die tweede grootste uitvoerder van sitrus in die wêreld. Grondherverdeling sal by wyse van verskeie metodes geskied, soos onder meer deur onteiening en deelskemas. Restitusie bevoordeel reeds 2 miljoen eisers.’n Agentskap vir grond- en landelike hervorming sal volgende jaar gestig word. ‘
Korrupsie en staatshervorming
Die staatsdiens sal ook hervorm word om seker te maak dat professionalisme bevorder word en dat bevoegde mense, veral in plaaslike regering, aangestel word. “Die dae van droogmaak is verby.”
Die Zondo-kommissie bewys hoe erg die verval in staatsinstellings was. Ons moet die heropbou van hierdie instellings daarom voortsit. Daar is nou beter samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe en saam sal hulle ʼn slag kan slaan teen korrupsie. ʼn Onafhanklike statutêre liggaam sal gevorm word om korrupsie te beveg, en dié liggaam sal aan die parlement rapporteer.
Wat nou?
Ramaphosa het nie weggeskram van uiters sensitiewe kwessies, soos korrupsie wat deur die Zondo-kommissie oopgevlek word nie. Ongelukkig is dit nie die eerste keer wat hy daarna verwys nie en tot dusver het daar nog maar min van gekom.
Wat Eskom betref, het hy homself weerspreek. Aan die een kant word daar onmiddellik planne gemaak om kragvoorsiening te verseker, maar andersyds vra hy ons om maar vir die volgende vyf jaar vrede te maak met beurtkrag.
Net so weerspreek hy homself ook deur te impliseer dat ʼn inklusiewe markomgewing deur SEB bewerkstellig sal word. Ons moet daarvan kennis neem dat die ANC-regering, en spesifiek Ramaphosa, selfs in Suid-Afrika se uur van nood eerder hul rassistiese agendas voortsit as om werklik die mense van Suid-Afrika te bemagtig.
Ramaphosa se openingsverhaal oor 300 jaar van onderdrukking bewys dat dit vir die ANC veel makliker is om aan slagofferskap vas te klou as om mense werklik te bemagtig. Die res van die toespraak het deurentyd ʼn ras-politieke kleur gehad, wat ʼn slegte nasmaak aan die optimisme, wat soms wel in die waarheid gegrond is, gee.