Malema kan nie aanhitsing tot haatmisdaad pleeg en skotvry daarvan afkom nie. Sy rooi oorpak moet verruil word vir ’n oranje oorpak. Malema is ’n nar, maar ’n gevaarlike een wat kinders sal seermaak. Hy is ’n rasseboef wat nie deur die gemeenskap aanvaar behoort te word nie.
Penny Sparrow, ’n gewone lid van die publiek wat nie in ’n gesagsposisie is nie, word oor en oor verguis oor onaanvaarbare opmerkings wat sy oor swart Suid-Afrikaners gemaak het. Levuyo Menziwa, ’n EFF-studenteleier se opmerkings dat hy “f**en whites met ’n bazooka of ’n AK47 wil doodskiet, is lank reeds vergete. Solidariteit het ’n soektog op sosiale media gedoen oor rassistiese opmerkings wat teenoor wit mense gemaak word. Die omvang en gewelddadige aard daarvan het ons geskok.
Adele Mngxitama van die Black First Land First-beweging beweer dat swart mense nie rassisties kan wees nie. In ’n onlangse TV-gesprek het Andile dit onomwonde soos volg gestel: “If we don’t accept the principle that blacks can’t be racist and criminalise racism without accepting that fact, then you are going to end up locking up black people … and that is my biggest fear,” Sulke uitsprake moet verwerp word.
As die idee dat net wit mense rassiste is vertroetel word, sal dit bloot groter rassisme en woede van beide kante ontlok.
’n Gerekende ekonoom soos Chris Hart is deur Standard Bank geskors omdat hy gesê het dat slagoffers van apartheid 25 jaar later ’n gevoel van “entitlement” en haat teenoor minderhede koester. President Jacob Zuma mag sê swart mense het meer regte omdat hulle die meerderheid is. Wit mense het minder regte, want hulle is die minderheid. Volgens Zuma is dit hoe ’n demokrasie werk. Geen openbare stemme het daarteen opgegaan nie. Hy mag ook sê dat alle probleme begin het toe Van Riebeeck hier aangekom het.
Terwyl Suid-Afrikaners tereg hul afkeer teen die Doodskis-2 uitspreek, hou die EFF ’n plakkaat omhoog wat lui: “Kill Whites”. Daaroor is daar stilte.
Net ’n week voor hierdie voorval sê Julius Malema wit mense moet geslag word, maar nog nie nou al nie. Volgens hom moet Afrikanermans hul plek ken. Koerante het daaroor berig, maar daar was geen openbare stemme wat daarteen opgegaan het nie. Dit is selektiewe rassisme.
Ons is moeg vir selektiewe rassisme en gaan nie meer stilbly nie. Ons gaan nie toelaat dat wit mense gedemoniseer word en as ’n minderheid blootgestel word nie.