Swak groei, swak vaste investering ’n ernstige bron van kommer – Solidariteit

Dinsdag, Desember 6th, 2016

In sy kommentaar op Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se bekendmaking vandag van die Bruto Binnelandse Produk (BBP-) syfers vir die derde kwartaal van 2016, het die vakbond Solidariteit met ernstige kommer kennis geneem van die swak groeivlakke in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Volgens Stats SA het die ekonomie op seisoenaal aangepaste en geannualiseerde terme met ’n skamele 0,2% van 2016 K2 tot 2016 K3 gegroei (0,7% van 2015 K3 tot 2016 K3 jaar-tot-jaar).
Volgens Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), staan die swak bruto kapitaalvorming deur sakeondernemings in die privaat sektor veral uit in die BBP-syfers. “As daar gekyk word na die jaar-tot-jaar groeikoers in bruto vastekapitaalvorming (BVKV) – ’n meting wat vaste investering in die ekonomie bepaal – word ’n totale afname van ’n geskatte R165,5 miljard in K3 2015 tot R155,4 miljard in K3 2016 waargeneem – dit verteenwoordig ’n jaar-tot-jaar afname van 6,1%. Voorts het die kapitaalvorming in die privaat sektor van ’n geskatte R103,7 miljard in K3 2015 tot R95,2 miljard in K3 2016 afgeneem – ’n jaar-tot-jaar afname van 8,2%,” het Van Onselen aangetoon.
“Volgens Stats SA se BBP-syfers het die privaat sektor se vaste beleggingsgroei sedert die begin van 2014 aansienlik verlangsaam en het dit ná die derde kwartaal van 2015 duidelik negatief gedraai. Dit is problematies aangesien vaste investering ’n besonder belangrike investeringskategorie is, des te meer in die geval van vaste investering deur die privaat sektor,” het Van Onselen verduidelik.
Volgens Van Onselen blyk dit uit die syfers dat die privaat sektor met hul rande stem deurdat beleggings in vaste bates soos grond, masjinerie en toerusting nie teen dieselfde vinnige tempo as in die verlede geskied nie. “Investering is die lewensaar van enige ekonomie; ʼn afname in beleggings uit die privaat sektor sal afbreuk doen aan die toekomsvooruitsigte van die ekonomie,” het Van Onselen verduidelik.

“Hoewel nie veel aan eksterne ekonomiese toestande gedoen kan word nie, is dit nou gebiedend noodsaaklik om stappe te oorweeg om die dinamiek van die privaat sektor te versterk en te verbeter. Hervormings om vryer markte, minder regulasies en rompslomp teweeg te bring en afstand te doen van skadelike beleidsrigtings wat beleggings afskrik, kan veel vermag om vooruitsigte vir nuwe beleggings deur die privaat sektor te verbeter,” het Van Onselen gesê.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Solidariteit tree toe as vriend van die hof in skole-godsdienssaak
  Die vakbond Solidariteit het vandag bekendgemaak dat hy op 15 Mei aansoek gaan doen om as vriend van die hof (amicus curiae) in die grootste hofsaak oor die Christelike karakter van openbare skole toe te tree. Die saak spruit voort uit ʼn klein groep aktiviste wat ses skole weens hul Christelike karakter hof toe […]
Paneel sê regering stook rassisme in Suid-Afrika
ʼn Paneel, bestaande uit bekende Suid-Afrikaanse denkers, het vandag tydens ʼn bespreking by ʼn konferensie wat deur die vakbond Solidariteit gereël is, gewys op die teenstrydigheid wat geld by die hantering van voorvalle van rassisme in Suid-Afrika en het in die verband die regering se aandeel daarin uitgewys. Hierdie paneelbespreking vorm deel van Solidariteit se […]
Wetsontwerp met die doel om privaat eiendomsreg in Suid-Afrika verder te ondergrawe – Solidariteit
Die vakbond Solidariteit is ernstig besorg oor die voorgestelde Wetsontwerp op die Regulering van Landbougrond. Dié wetsontwerp is op 17 Maart 2017 deur die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming vir kommentaar gepubliseer. Die wetsontwerp bevat onheilspellende en nadelige tekens in soverre dit die sekerheid van privaat besitreg in Suid-Afrika aangaan. “Indien dit bekragtig word […]
1 2 3 691