Sy liefde is lankmoedig

Dinsdag, Januarie 10th, 2017

‘Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?’
– JONA 4:11

Jona sit langs die verdroogde komkommerplant en stry met God. Hy het sy opdrag uitgevoer en God se straf oor Nineve afgekondig. Dit moes soos ’n veldbrand versprei het, want Nineve was ’n groot stad. Die Bybel sê dat dit ’n mens drie dae gevat het om dit deur te stap. Jona het maar een dag in die stad rondgeloop en kortliks afgekondig dat God Nineve binne 40 dae sou verwoes. Teen die aand se kant het hy hom uit die voete gemaak en op die heuwel buite Nineve gaan sit en wag vir die skouspel. Vir hom sou dit genoeg wees as die goddeloses hul verdiende loon kry.

Teen sy verwagting in het die koning en die mense van Nineve hulle verootmoedig, gevas en gebid, hul sondes bely en tot bekering gekom. God het dit gesien en besluit om hulle nie te straf nie. Daarvan het Jona niks gehou nie – sy moeite was verniet, die vrugte van sy lewenstaak suur. Vir hom het dit gevoel asof God hom op ’n dwaalspoor gelei het. Hy het dit al die tyd geweet, het hy vir die Here gesê, en dis hoekom hy in die eerste plek nie wou kom nie.

Toe leer God hom die les van die komkommerplant wat Hy oornag vir Jona se gerief laat groei het, maar ook oornag weggeneem het. As Jona jammer is oor een komkommerplant wat vergaan het, hoeveel te meer is God nie besorg oor duisende mense en diere wat vir die eerste keer die geleentheid gekry het om tussen reg en verkeerd te onderskei nie?

U het ons geroep om ’n voorbeeld te wees vir ’n verlore wêreld, om u plan aan hulle bekend te maak en saam met U bly te wees oor sondaars se bekering, nie om ons te verlekker in hul teenspoed nie. Help my om dit nooit te vergeet nie.

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke: http://www.cumbooks.co.za/helena-hugo-omnibus-sagteband
Vir meer Christelike artikels besoek: http://www.joydigitalmag.com

Foto’s deur Deon Kotze.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •